Trump buig knie oor geld vir sy muur u2013 tydelik
Trump buig knie oor geld vir sy muur u2013 tydelik

Trump buig knie oor geld vir sy muur – tydelik

Verregse ondersteuners van pres. Donald Trump het hom gekasty omdat hy die sluiting van federale regeringsinstellings beëindig het – sonder die beloofde geld vir die muur wat hy op Amerika se grens met Mexico wil oprig, iets wat hy telkens hoog en laag gesweer het nie sal gebeur nie.

Trump, leier van die Republikeinse Party, wou gehad het die huis van verteenwoordigers, waar die Demokrate ná die onlangse middeltermynverkiesing in beheer is, moet US$5,7 miljard opdok in ruil vir wetgewing om die federale agentskappe wat gesluit is, te finansier.

Trump se hardnekkige weiering om die wetgewing goed te keur tensy die Demokrate gehoor gee aan sy eise, het tot die langste sluiting van die regering in die VSA se geskiedenis gelei.

Ondanks aanvanklike ondernemings om nie die knie te buig nie, het Trump laat Vrydag Amerikaanse tyd, wel wetgewing goedgekeur wat sal verseker dat die federale regeringsdepartemente tot 15 Februarie geld sal hê om hul werk voort te sit.

Die sluiting het tot gevolg gehad dat sowat 800 000 federale werkers nie vir dié tydperk salaris ontvang het nie.

Trump het sedert die begin van sy verkiesingsveldtog in 2015 beloof om sterk stappe te doen teen immigrasie, wat talle aan die regse en verregse spektrum van Amerikaanse politiek verbly het.

Een van sy mees omstrede planne is die muur op die Mexiko-grens wat volgens Trump “dwelmhandelaars”, “verkragters” en ander “bad hombres” moet uithou.

Vrydag se besluit het talle van sy mees geesdriftige ondersteuners laat wonder of hy werklik die man is wat hul agenda teen immigrasie sal deurvoer.

KRITICI

Een van sy kritici was die teenimmigrasie-voorbok Ann Coulter, wat die president op Twitter ’n swakkeling (wimp) genoem het.

“Goeie nuus vir George Herbert Walker Bush: Van vandag af is hy nie meer die grootste swakkeling wat ooit as president van die VSA gedien het nie,” het Coulter op Twitter geskryf.

Die verregse aktiviste Mike Cernovich en Paul Joseph Watson het die sentiment beaam met eersgenoemde wat Trump ’n “gebroke man” genoem het en Watson wat verklaar het dat sy (Trump) se steunbasis “besig is om heeltemal ineen te stort”.

Trump het in die nadraai van sy aankondiging oor die beëindiging van die sluiting probeer om sy volgelinge gerus te stel dat die stap net ’n tydelike maatreël is en dat die stryd hervat sal word, sou die Republikeine en Demokrate nie teen Februarie ’n ooreenkoms (oor die geld vir die muur) bereik nie.

“Ek wens mense wil lees en luister na wat ek oor die grensmuur gesê het. Dit was nie ’n toegewing nie. Dit was om miljoene mense wat erg seergemaak is deur die sluiting, te help – met dien verstande dat as daar oor 21 dae geen ooreenkoms is nie, hervat die stryd,” het Trump getwiet.

Vooraanstaande Demokrate het ondertussen op Twitter die einde van die sluiting verwelkom en onderneem om te verseker dat dit nie weer gebeur nie.

Adam Schiff, kongreslid vir Kalifornië, het ’n beroep gedoen op sy medewetgewers om seker te maak dat Trump nie weer die taktiek gebruik nie. “Ons moet optree om sluitings as ’n taktiek vir eens en altyd te beëindig,” het hy getwiet.

· CNN het vroeër berig die Withuis het blykbaar dokumentasie gereed gehad om ’n noodtoestand af te kondig om só die nodige geld te verkry vir die omstrede muur wat pres. Donald Trump op die Mexiko-grens wil bou. Trump se raadgewers het hom egter blykbaar oortuig dat dit ’n onwyse stap sal wees. – Netwerk24/Reuters

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!