Trump en arbeidsyfers gaan die markte roer
Trump en arbeidsyfers gaan die markte roer

Trump en arbeidsyfers gaan die markte roer

Francois Williams, Reuters en Bloomberg – Die markte, plaaslik en internasionaal, sou na verwagting Vrydag water trap terwyl gewag word vir die maandelikse arbeidsyfers uit Amerika wat later die dag bekend gemaak sou word.

Andersins word dalings verwag in reaksie op die jongste stap van pres. Donald Trump van Amerika om invoertariewe op Chinese goedere te hef in die voortslepende handelsoorlog.

Die arbeidsyfers in Amerika word gewoonlik fyn dopgehou vir enige seine oor die gesondheid van die Amerikaanse ekonomie - saam met China een van die wêreldekonomie se groot enjinkamers.

Die verwagting is dat Amerikaanse indiensneming in Julie verlangsaam het ná Junie se sterk groei. Dit kan verwagtinge verskerp oor nog ’n rentekoersverlaging deur die Federale Reserweraad in September, nadat die Fed die afgelope week vir die eerste keer sedert 2008 sy korttermynrentekoerse gesny het.

Die rand het Vrydag vroegoggend effe verstewig teen die dollar van R14,66 die vorige aand tot R14,64.

Teenoor die pond is die rand selfs nog sterker Vrydag op R17,71 vergeleke met Donderdagaand se sluiting van R17,79.

En teen die euro het die rand tot R16,21 versterk teenoor die R16,25 van die vorige aand.

Ruoliepryse was Vrydag met meer as $1 per vat of 2% hoër nadat Trump nog tariewe op Chinese invoer gehef het. Dit kom na die skerpste val in meer as drie jaar van die vorige jaar, toe Brent olietermynkontrakte met meer as 7% geval het. Amerikaanse oliepryse het Donderdag met byna 8% geval in die ergste dag in die oliemark in meer as vier jaar.

Trump wil op 1 September ’n tarief van 10% hef op $300 miljard se Chinese invoerprodukte en kan dit verder veroog as China nie vinnig optree om ’n handelsooreenkoms te bereik nie, het hy gedreig.

Ironies genoeg is dit die Amerikaanse tegnologiereus Apple wat erg geraak kan word deur Trump se plan, want slimfone soos die iPhone en rekenaars is twee van die grootste kategorieë van Chinese invoergoedere wat deur hierdie ronde van tariefverhogings gedek word.

Op die JSE het die plaaslike mark slegte maatskappynuus om te verteer, soos die klerekleinhandelaar Woolworths se afskryf van nog bates in sy Australiese belegging David Jones, die staalvervaardiger ArcelorMittal Suid-Afrika se halfjaarverlies en groot afleggings wat beplan word, asook ’n negatiewe handelsopdatering van die tegnologiedienstegroep EOH.

Daarby kom nog ’n uitvoerende hoof van ’n staatsonderneming wat bedank het - dié keer Mark Barnes van die Poskantoor - te midde van die slegte nuus oor Eskom se benarde geldsake wat die afgelope week weer hoofnuus was.

Op die beurse in Asië het die markte reeds negatief gereageer op Trump se nuwe skuif in die handelsoorlog teen China. Aandeelpryse in Seoel, Hongkong en Shanghai was skerp laer. In Sydney was aandeelpryse net matig laer. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!