Trump en Xi praat reeds oor motors
Trump en Xi praat reeds oor motors

Trump en Xi praat reeds oor motors

Trump het volgens berigte Sondag gesê China het reeds ingestem om invoertariewe op Amerikaanse motors tot minder as die 40% wat tans gehef word te verminder of te skrap.
Pres. Donald Trump van die VSA en pres. Xi Jinping het 'n dag na hulle besluit het om vir eers halt te roep wat betref die dreigende handelsoorlog tussen dié twee lande, reeds oor invoertariewe op motors tot gelyk gekom.

Reuters berig dat Trump Sondag – ’n dag nadat die ooreenkoms gesluit is – gesê het China het reeds ingestem om invoertariewe op motors wat in Amerika vervaardig word tot minder as die 40% wat tans gehef word te verminder of om dit heeltemal te skrap.

Bloomberg berig Trump het Saterdag tydens die G20-spitsberaad wat in Buenos Aires, Argentinië, gehou is, ooreengekom om nié invoertariewe op alle Chinese goedere op 1 Januarie te verhoog nie.

Hy het gedreig om dit van 10% op sommige produkte tot 25% op alle produkte te verhoog.

“Albei partye glo die ooreenkoms waartoe die twee presidente in beginsel ingestem het, sal keer dat ekonomiese geskille tussen die twee lande vererger,” sê Wang Yi, Chinese minister van buitelandse sake.

Die Withuis het die vergadering as “uiters suksesvol” beskryf. Die VSA wil egter onmiddellik met China in gesprek tree oor Trump se drie grootste probleme met China: intellektuele eiendomsdiefstal, nietariefbeperkings en gedwonge tegnologie-oordrag.

Sarah Huckabee Sanders, woordvoerder van die Withuis, sê as daar nie binne 90 dae beduidende veranderinge is nie, sal die VSA wel voortgaan en tariewe tot 25% verhoog.

Sy sê China het ook ingestem om meer landbou en nywerheidsgoedere vanuit die VSA in te voer om die handelswanbalans te verminder.

“Dit is ’n ongelooflike ooreenkoms. As dit gebeur sal dit een van die grootste ooreenkomste wees wat tot nog toe gesluit is,” het Trump op pad terug na Amerika vir joernaliste gesê.

– Verwerk uit Bloomberg, Reuters/Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer