Trump kan internasionale resessie ontketen
Daar was al heelwat bespiegeling oor die toekoms van handelsooreenkomste waarby die VSA betrokke is.
Pres. Donald Trump het in sy verkiesingsveldtog tariewe van tussen 5% en 45% genoem wat sy administrasie moontlik sou kon hef op invoer van lande soos China en Mexiko. 'n Volskaalse handelsoorlog, met VSA se handelsvennote wat soortgelyke tariewe hef op Amerikaanse invoer, sal heel waarskynlik tot 'n wêreldwye resessie lei.
Daar is sterk aanduidings dat 'n viervoudige toename in die invoertariewe wat Amerika in 1930 ingestel het, bygedra het tot die Groot Depressie. In die vier jaar tot 1933 het die VSA se invoer met 66% gedaal, sy uitvoer met 61% en die land se BBP met 46%. Werkloosheid het gestyg van 8% tot 25%. Die Smoot-Hawley-tariefwet wat in 1930 in werking getree het, het dus die teenoorgestelde uitkoms gehad as waarop gehoop is. Pres. Herbert Hoover het, onder druk van sy party, die wet gesteun en moes toekyk hoe ander lande vergeldende invoerheffings op Amerikaanse produkte plaas. Wêreldhandel het in hierdie tydperk gevolglik met twee-derdes gedaal.
Trump het reeds in die eerste paar dae nadat hy die leisels oorgeneem het Amerika onttrek aan die TPP (die Trans-Pasifiese Vennootskap). Die TPP het sowat sewe jaar se onderhandelings van die Obama-administrasie geverg en het 12 lande in die Stille Oseaan-gebied saamgebind in 'n uitgebreide handelsvennootskap wat as teenvoeter sou dien vir China se groeiende handelsmag.
Maar die moontlike instelling van verhoogde handelstariewe deur die VSA is nie die enigste risiko wat die wêreldekonomie bedreig nie. Ontwikkelings in China en die Europese Unie (EU) kan ook lei tot 'n insinking in internasionale ekonomiese groei.
China se ekonomiese groeikoers verlangsaam
Soos sake nou staan, kan China moontlik in 2018 'n skerp verlangsaming in sy ekonomiese groeikoers ervaar. Die groeikoers kan van sowat 6,7% in 2016 verlangsaam tot sowat 4,2% aanstaande jaar. Politieke skuiwe later in 2017 kan die weg baan vir ekonomiese beleidsveranderings wat onder meer daarop sal fokus om die geweldige hoë toename in kredietverlening te stuit.
Aangesien so 'n verlangsaming in China se groeikoers bestuur sal word, sal dit na verwagting nie werkloosheid laat toeneem nie. Dus kan die sosiale gevolge beperk word. Die gevaar bestaan egter dat die Chinese huismark kan steier onder die afwaartse druk op kredietverlening en dat die regering dit moeilik kan vind om dié proses te bestuur. Die gevolge vir die ekonomie kan negatief wees indien klein en middelslagbanke begin vou. Die gevolglike insinking in die Chinese ekonomie sal afwaartse druk plaas op internasionale kommoditeitspryse, veral metale.
Kommer oor toekoms
van die EU
Brittanje se besluit in Junie 2016 om die EU te verlaat, het kommer laat ontstaan oor die toekoms van die EU. Die vyandigheid van die Britse kiesers jeens die EU vind ook neerslag in ander lande. Partye soos die Partij voor de Vrijheid in Nederland (met Geert Wilders as leier) en Front National (onder Marine Le Pen) in Frankryk beywer hulle ook vir wegbreek uit die EU.
Selfs indien hierdie partye nie binnekort aan die bewind kom nie, kan die gevestigde partye in EU-lidlande besluit om ook referendums oor die aangeleentheid te hou in 'n poging om steun van populistiese partye terug te wen.
Die gevaar bestaan egter dat sulke referendums dieselfde uitkoms as die Britse referendum kan hê. Kommer oor immigrasiebeleid en die verlies aan soewereiniteit vind immers aanklank in die meeste Europese lande.
Boonop is daar 'n groot mate van gegriefdheid in sekere Mediterreense lande oor die besuinigingsmaatreëls wat deur die EU afgedwing word, en dit lei toenemend tot groter steun vir partye met 'n nasionalistiese aanslag.
Daar is 'n hernude fokus op Griekeland se swakhede, met die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) wat onlangs gewaarsku het dat die land se skuldlas kan “ontplof” tensy skuldverligting deur die EU toegestaan word.
Die meeste EU-leiers verwerp egter die idee. Hierdie skaakmatsituasie dui op die fundamentele probleem van 'n enkelgeldeenheidbestel sonder fiskale integrasie.
Populistiese politici
Dit skep ook 'n toenemende teelaarde vir die opkoms van populistiese politici.
Le Pen, een van die kandidate in die Franse presidentsverkiesing wat op 23 April plaasvind, stel voor dat teruggekeer word na 'n stelsel waar die nasionale geldeenhede sy aan sy bestaan naas die euro. Maar so 'n stelsel hou enorme risiko's in, met sowat 80% van Frankryk se €2 100 miljard-staatskuld wat uiteindelik in Franse frank omgeskakel sal word.
Met 'n daaropvolgende devaluasie van die frank sal dit volgens graderingsagentskappe neerkom op die grootste soewereine wanbetaling in die wêreld se geskiedenis. Dit sal beslis die doodsklok lui vir die euro en chaos veroorsaak op internasionale markte.
Sonder 'n oortuigende padkaart vir die toekoms van die “Europese projek” is daar 'n groeiende risiko dat Europeërs die model sal verwerp ten gunste van nasionalistiese modelle buite die EU.
Die opbreek van die EU sal wêreldwyd groot onsekerheid op kapitaalmarkte veroorsaak en geweldige skommelings in wisselkoerse tot gevolg hê.
'n Mens kan net hoop dat die wêreld se grootste ekonomieë op koers bly in hierdie onstuimige tye.
• Christo Lüus van Ecoquant is 'n voormalige wenner van Sake24 se Ekonoom van die Jaar-kompetisie.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie