Trump kies omstrede kabinet
Trump kies omstrede kabinet

Trump kies omstrede kabinet

Die politieke establishment in Washington se wenkbroue het behoorlik gelig toe die aange­wese president, Donald Trump, begin het om sy keuses vir kabinetsposte bekend te maak.
Estelle de Bruyn
Tydens die Amerikaanse verkiesings­veldtog het die Republikeinse kandidaat, Donald Trump, dikwels belowe om, indien hy verkies word, die “beste mense” te kry om hom te help om die land te bestuur.

Noudat hy besig is om sy kabinetsaanstellings te doen, kry Amerikaanse kiesers ''n aanduiding van die eienskappe wat Trump dink iemand “die beste” maak. Oënskynlik is dit ''n reusefortuin, ''n militêre loopbaan en/of absolute minagting vir die agentskap waarvoor hulle gekies word om te lei.

Die tydskrif Rolling Stone berig die lede van die voorgestelde kabinet, wat reeds bekend gemaak is, beskik oor gesamentlike rykdom van meer as US$14,5 miljard, en sluit onder meer drie generaals en minstens een genomineerde in wat reeds twee keer die agentskap waarvan hy aan die hoof sal staan, gedagvaar het.

Die genomineerde vir die posisie van prokureur-generaal is Jeff Sessions, wat glo US$7,5 miljoen sterk is. In die verlede het hy as Amerikaanse prokureur en prokureur-generaal van Alabama gewerk voordat hy twee dekades in die senaat deurgebring het.

Sessions het ''n kritieke rol gespeel om albei pogings om omvattende immigrasiehervorming deur die kongres aanvaar te kry, te kelder.

Mike Pompeo is genomineer om die nuwe direkteur van die CIA te word. Hy het aan die West Point militêre akademie gegradueer en later aan Harvard se regsfakulteit studeer. Hy is in 2010 tot die Amerikaanse kongres verkies. Hy was een van Hillary Clinton se grootste antagoniste in die Benghazi-ondersoek.

Die aangewese minister van handel, Wilbur Ross, se persoonlike welvaart word op US$2,9 miljard geraam.

Hy was ''n voormalige beleggersbankier en het die bynaam “die koning van bankrotskap” gekry omdat hy maatskappye wat in die moeilikheid was in die staal-, steenkool- en tekstielbedryf, opgekoop en dit winsgewend gemaak. Soms was die wins ten koste van werkers. Hy sal van ver­skillende direksies bedank waarop hy dien en hom van sy sakeryk distansieer om botsende belange te verhoed.

James (Mad Dog) Mattis, is die aangewese minister van verdediging. Die vierster-generaal en voormalige bevelvoerder van die Amerikaanse sentrale bevel onder pres. Barack Obama, was die voormalige hoof van die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie (Navo) se militêre bevel.

Mattis het die weermag in 2013 verlaat en sal deur die kongres kwytgeskeld moet word om as hoof van die minsterie te dien. Wetgewing plaas ''n sewe jaar-moratorium op militêre pesoneel om aan die hoof van dié agentskap te staan.

Betsy DeVos is genomineer as onderwysminister en is na raming US$5,1 miljard sterk.

Sy is die erfgenaam van Amway Corp en ''n voormalige voorsitter van die Republikeinse Party in Michigan.

Scott Pruitt is genomineer om die agentskap vir omgewingsbewaring as administrateur oor te neem.

Pruitt is ''n sterk ondersteuner van die olie- en gasnywerheid en ''n uitgesproke kritikus van die omgewingsagentskap. Hy het die agentskap twee keer in die verlede gedagvaar. Hy ontken ook klimaatverandering.

As minister van gesondheid het Trump vir Tom Price genomineer, ''n man wie se persoonlike welvaart op US$13,6 miljoen geraam word.

Hy het Georgia vir tien jaar in die kongres verteenwoordig. Voor dit was hy ''n ortopediese chirurg en assistent-professor in ortopedie aan die Emory Universiteit. Hy is ''n skerp kritikus van die wet op bekostigbare gesondheidsorg, of Obamacare, en beplan reeds sedert 2009, toe dit aanvaar is, hoe om daarvan ontslae te raak.

Die aangewese minister vir tuislandsekuriteit, John Kelly, ''n voormalige seesoldaat en vierster-generaal was aan die hoof van die Obama-­administrasie se mislukte pogings om die aanhoudingsentrum by Guantanamo-baai te sluit.

Ben Carson is genomineer as minister van behuising en stedelike ontwikkeling en het bates ter waarde van US$26 miljoen. Hy is ''n pediatriese neurochirurg, topverkoperskrywer en voormalige Republikeinse aanspraakmaker op die presidentsnominasie.

Carson was in die verlede uiters krities van die ministerie, waarvan hy nou aan die hoof sal staan, se belangrikste­ inisiatiewe soos die desegregasie­ van openbare behuising, wat hy as ''n “mislukte maatskaplike eksperiment” beskryf het. Hy is ook krities oor maat­skaplike veiligheidsnette soos bystand met huur, openbare behuising en toelae vir gemeenskaps­ontwikkeling. Dit is ook bekend dat hy gesê het “dit is nie die regering se werk om na die behoeftiges om te sien nie”.

Trump het Elaine Chao as minister van vervoer genomineer.

Haar welvaart­ beloop US$22,2 miljoen en sy is met die voorsitter van die senaats­meerderheid, Mitch McConnell,­ getroud.

Sy is die dogter van ''n Taiwanese skeepsmagnaat en het eers ''n loopbaan in bankwese gevolg voordat sy belangstelling in die staatsdiens begin toon het toe sy onder George H.W. Bush as adjunkminister van vervoer en minister van arbeid onder George W. Bush gedien het.

As lid van die Wells Fargo-­direksie sedert 2011, is Chao verantwoordelik vir die monitering van die bank se optrede, gedurende die tyd wat die bank miljoene vals rekeninge geskep het.

Die voormalige vennoot van Goldman Sachs en Hollywood vervaardiger, Steven Mnuchin, is as ­minister van finansies genomineer en sy rykdom word op US$46 miljoen geskat. Hy was onder andere die vervaardiger van American Sniper en Mad Max: Fury Road.

Linda McMahon, ''n voormalige hoof van die Wêreld-­stoeifederasie (WWF) is Trump se keuse om aan die hoof van kleinsake-administrasie te staan.

Die agentskap waarborg lenings vir klein­sakeondernemings en help hulle om regeringskontrakte te kry.

McMahon, ''n mislukte senaatkandidaat, en haar man, Vince, was een van Trump se grootste skenkers in die aanloop tot die verkiesing.

– Nampa/AFP/AP/Reuters

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!