Trump én wisselvallige rand hou Sasol op sy tone
Pres. Donald Trump van Amerika en die wisselvallige rand is twee veranderlikes wat goed deur die petrochemiese reus Sasol dopgehou word.
Sasol hoop dat sy enorme chemiese aanleg by Lake Charles in die Amerikaanse deelstaat Louisiana sy balansstaat in 2019 'n stewige hupstoot sal gee. Die aanleg word dan ten volle in bedryf gestel.
Dié projek, wat reeds 88% voltooi is, gaan Sasol sowat US$11,13 miljard kos en sluit 'n etaan-brekingsaanleg in wat sowat 1,5 miljoen ton etileen per jaar sal lewer.
“Trump se jongste tariewe op die invoer op staal en aluminium na die VSA sal geen invloed op die projek hê nie,” sê Stephen Cornell, mede- uitvoerende hoof van Sasol.
Hy het in 'n onderhoud ná die voorlegging van die maatskappy se resultate vir die boekjaar tot einde Junie by Sasol se hoofkantoor in Sandton, Johannesburg, aan Netwerk24 gesê al die staal vir die konstruksie van dié projek is reeds bekom.
“Die uitdaging is dat ons begroot het sowat 10% van die poliëtileen wat by dié aanleg vervaardig sal word, sal na China uitgevoer word. En China het in reaksie op Trump se heffings teen Chinese goedere heffings op sekere invoerprodukte, wat poliëtileen insluit, ingestel,” sê Cornell.
Sasol is nog nie seker wat dié tariewe gaan behels nie.
“Ons is egter vol vertroue dat ons die poliëtileen wat ons na China wou uitvoer, met redelike gemak na ander markte sal kan uitvoer.
“Dit raak ook nie 10% van Lake Charles se produksie nie, maar 10% van die poliëtileen wat daar geproduseer word,” sê hy.
Poliëtileen sal sowat 60% van die produkte wat by dié aanleg geproduseer word, uitmaak.
Wat die rand aanbetref sê Cornell 'n swakker rand is beter vir Sasol se balansstaat.
Die internasionale olieprys bepaal die prys van Sasol se produkte. Hoe hoër dié prys in dollar is en hoe swakker die rand teenoor die Amerikaanse geldeenheid, hoe beter is dit vir Sasol.
“Ons verskans tans tussen 70% en 80% van ons rand-transaksies teen valutaskommelings,” sê Cornell.
“In die lig van ons hefboomfinansiering tans, het ons geen ander keuse nie,” sê hy.
Sasol het sowat US$5,6 miljard se langtermynskuld. – Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie