Trump sê VSA mag op die Maan myn
Amerika het nooit die sogenaamde Maanverdrag van 1979 onderteken nie.
Amerika beskou nie die ruimte as deel van die mensdom se “gemeenskaplike eiendom” nie en daarom het dié land en sy maatskappye die reg om in die ruimte te myn.
So lui 'n uitvoerende bevel wat pres. Donald Trump vroeër vandeesmaand uitgevaardig het. Dit baan die weg daarvoor dat Amerika op onder meer die Maan, asteroïde en selfs Mars kan gaan myn sonder dat daar 'n internasionale verdrag hieroor is.
“Amerikaners behoort die reg te hê om betrokke te wees by die kommersiële eksplorasie, herwinning en gebruik van die hulpbronne van die buitenste ruim,” lui die bevel.
Dit wys ook daarop dat Amerika nooit die sogenaamde Maanverdrag van 1979 onderteken het nie. Dié verdrag bepaal dat enige bedrywighede in die buitenste ruim aan internasionale wetgewing onderhewig moet wees. In werklikheid het bitter min lande dié verdrag onderteken en geen van die lande met groot ruimtebedrywighede nie. Indië het dit wel onderteken, maar nie bekragtig nie.
Die Amerikaanse kongres het reeds in 2015, onder die Obama-administrasie, wetgewing aanvaar wat Amerikaanse maatskappye toelaat om hulpbronne van die Maan en asteroïde te gebruik.
Volgens Trump se uitvoerende bevel sal Amerika beswaar maak teen enige poging om internasionale reg te gebruik om hom te keer om dele van die Maan, of as die geleentheid hom voordoen, Mars en “ander hemelliggame” te ontgin.
Rusland se ruimteagentskap, Roscosmos, sê in 'n verklaring Trump se bevel kom neer op “moderne kolonialisme” en die korporatiewe uitbuiting van die ruimte.
“Die geskiedenis het reeds voorbeelde van 'n land wat gebiede vir sy eie voordeel begin beset het,” sê Sergei Sawelief, adjunk-direkteur-generaal van internasionale samewerking van Roscosmos. “Almal onthou wat die gevolg daarvan was.”
Die VSA beplan om teen 2024 terug te keer na die Maan en om 'n permanente stasie daar te bou as deel van sy sogenaamde Artemis-projek.
Dit sal ook gepaardgaan met 'n nuwe ruimtestasie wat om die Maan sal wentel, genaamd Gateway. Dié stasie sal die VSA in staat stel om mynboubedrywighede op die Maan te gebruik vir kommersiële doeleindes en om ook die benutting van minerale bronne op Mars moontlik te maak.
Kontrakte vir private ruimtevaartmaatskappye om die nuwe stasie te help bou, is reeds aan onder meer Elon Musk se SpaceX toegeken.
Mynbou sal nie net tot planete beperk word nie.
Talle maatskappye werk reeds aan planne om minerale te myn op asteroïde, wat dikwels enorme reserwes van kosbare minerale bevat, berig PhysicsWorld.– Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie