Trump se reisverbod duik in hek
Trump se reisverbod duik in hek

Trump se reisverbod duik in hek

‘n Federale regter in Hawaii het Woensdag ‘n bevel uitgereik wat pres. Donald Trump se reisverbod van ses hoofsaaklik Moslemlande na Amerika onbepaald blokkeer.
Estelle de Bruyn
Die Amerikaanse distriksregter, Derrick Watson, het Woensdag ‘n tydelike weerhoudingsbevel in ‘n voorlopige geregtelike bevel verander in ‘n hofsaak wat deur die deelstaat Hawaii aanhangig gemaak is om pres. Donald Trump se reisverbod ongrondwetlik te laat verklaar vanweë godsdienstige diskriminasie.

Trump het die nuwe reisverbod op 6 Maart onderteken in ‘n poging om die wetlike probleme met ‘n soortgelyke uitvoerende bevel in Januarie, wat chaos op lughawes veroorsaak het en massabetogings uitgelok het, te vervang. Die aanvanklike reisverbod is in Februarie deur ‘n Washingtonse regter opgehef.

Trump voer aan die reisverbod is nodig vir nasionale sekuriteit.

In die uitdaging van die reisverbod voer Hawaii aan die deelstaat se universiteite sou skade ly omdat dit probleme sou ondervind om studente en dosente te werf.

Voorts word aangevoer dat die eilandstaat se ekonomie deur ‘n afname in toerisme geraak sou word. In die hofstukke word gesê reise na Amerika het ná Trump se optrede skerp afgeneem.

Trump het in sy verkiesingsveldtog belowe om ‘n totale verbod op Moslems te plaas om Amerika binne te kom.

"Die hof kan nie in ‘n hoek inkruip, die hortjies toemaak en voorgee dat dit nie sien wat dit werklik is nie,” het Watson in sy uitspraak geskryf.

Trump het onderneem om die saak na die Amerikaanse hooggeregshof te neem wat tans gelykop vier-vier tussen liberale en konserwatiewe regters verdeel is. Trump se nominasie vir die hooggeregshof, regter Neil Gorsuch, is nog nie deur die senaat bekragtig nie. Nampa/Reuters

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer