Trump se skok-besluit oor Sirië ‘kan Isis laat herrys’
Die vrees is dat Amerika die Koerde vir die wolwe gooi en dit in ’n bloedbad kan eindig.
Cheréne Pienaar - Pres. Donald Trump se skielike besluit om Amerika uit die noorde van Sirië te onttrek, kan ernstige gevolge vir die streek inhou met die terroristegroep Isis wat kan herrys.
So waarsku politieke kenners en bondgenote in sy eie party.
Die vrees is dat Trump die Koerde, Amerika se belangrike alliansievennoot in Sirië wat Isis feitlik eiehandig oorwin het, vir die wolwe gooi en dit in ’n bloedbad kan eindig.
Die Republikeinse senator Lindsey Graham, een van Trump se sterkste ondersteuners, meen dié groep sal nou kragte met Sirië se pres. Bashar al-Assad snoer, want hulle het niemand meer om op te reken nie.
“So dis ’n groot wen vir al-Assad en Iran, en ’n groot wen vir Isis. Daar is niks beter vir Isis as om konflik tussen die Koerde en Turkye te veroorsaak nie.”
Prof. Theo Neethling, ’n politieke ontleder van die Universiteit van die Vrystaat, het in ’n onderhoud met Netwerk24 gesê daar was min tekens van ’n proses wat voor die militêre onttrekking gevolg is, en dat die besluit impulsief voorkom.
“Maar dan is dit ook so dat Turkye se pres. Recep Tayyip Erdogan vir weke reeds probeer om Trump te oortuig om sy soldate aan die land te onttrek na aanleiding van die verswakking van Isis.”
Hy is egter nie verbaas nie dat selfs rolspelers in die Amerikaanse departement van buitelandse sake en van verdediging Trump se besluit bevraagteken.
“Trouens, Trump is deur van sy raadgewers gewaarsku om nie ’n einde te maak aan die militêre ondersteuning wat aan die Koerde in die noordelike dele van Sirië gebied word nie.”
Die Russe was nog altyd ’n bondgenoot van al-Assad en die lugleegte wat Trump en Amerika kan laat, kan die Russe en al-Assad se hand in die streek versterk, sê Neethling.
RUSSIESE GLORIE
“Rusland is onder pres. Wladimir Poetin se leiding immers duidelik gretig om sy voetspoor in die Midde-Ooste (asook in Afrika) te verdiep, wat saamval met Poetin se politieke ideaal om Russiese glorie in die wêreldpolitiek te herstel of te laat herleef.
“Wat Erdogan betref, kan Turkse aanvalle nie slegs die Koerde in Sirië raak nie, maar ook gedoen word op die Siriese Demokratiese Magte, wat bondgenote is van die Westerse moondhede.”
Dié alliansie, sê hy, bestaan uit Koerdiese, Arabiese, Siriese en ander magte – magte wat hulle beywer vir ’n sekulêre en demokratiese Sirië.
“Indien die Koerde en die Siriese Demokratiese Magte verswak, kan dit Isis ’n nuwe kans gee om te ‘hergroepeer’.
“Die Westerse posisie sal ook na alle waarskynlikheid verswak, terwyl die opponente van die Westerse wêreld in die streek hulle sterker kan ingrawe.”
Trump se jongste reaksie dat hy die ekonomie van Turkye – ’n Navo-lidstaat – sal vernietig indien Erdogan te ver gaan met aanvalle op Sirië, dui laastens ook op ’n diep fragmentering wat hom nou in Navo-geledere uitspeel – waarvoor Trump regstreeks verantwoordelik is.
In ’n groter konteks is baie waarnemers in die Westerse wêreld bekommerd oor die afskaling van Amerikaanse betrokkenheid in die Midde-Ooste.
“Amerika het lank ’n baie belangrike rol gespeel om vrede in ’n potensieel onstabiele Midde-Ooste te bewaar.
MIDDE-OOSTE
“Trump het reeds in sy presidensiële verkiesingsveldtog belowe dat hy Amerikaanse betrokkenheid in die Midde-Ooste en Amerika se meegaande globale polisiëringsrol gaan afskaal.
“So beskou, is Trump besig om inderwaarheid uitvoering te gee aan wat hy in sy verkiesingsveldtog uitgespel het. ’n Mens moet dalk die groter prentjie hier in gedagte hou.”
Neethling dink nie die twee sake (Turkye en die staat van beskuldiging) hou regstreeks verband nie.
“Maar Trump het die Republikeine se steun in die senaat nodig omdat hulle die meerderheid daar uitmaak. Hulle sal bepaal of hy die staat van beskuldiging gaan oorleef.”
As sake in die Midde-Ooste rondom die Koerde en Sirië skeefloop, kan dit Trump onder groot druk plaas wanneer hy die komende presidentsverkiesing ingaan – indien hy die staat van beskuldiging oorleef.
“Indien sake in die Midde-Ooste skeefloop, sal dit vir seker teen sy kop geslinger word dat hy swak strategiese oordeel aan die dag gelê het en ook nie Amerikaanse leierskap uitgeoefen het nie – ofskoon daar reeds onder pres. Barack Obama met ’n beleid van afgeskaalde betrokkenheid in die Midde-Ooste begin is.”
Gaan Trump die staat van beskuldiging oorleef?
“Hy kan, indien hy die Republikeine se steun in die senaat het, maar sy kanse om ’n tweede termyn in te gaan, kan baie verskraal indien sake rondom die Turkse kwessie skeefloop.”
WIE IS DIE KOERDE?
Die Koerde is ’n Iranese etniese groep met ’n teenwoordigheid van minderhede in veral vier Midde-Oosterse state, naamlik Sirië, Irak, Iran en Turkye.
Daarby is daar ook ’n Koerdiese diaspora van ongeveer twee miljoen Koerde in Wes-Europa, Noord-Amerika en selfs Oseanië, sê Neethling.
Sedert die Eerste Wêreldoorlog en die ondergang van die Ottomaanse Ryk maak die Koerde aanspraak op ’n eie Koerdiese staat – Koerdistan – wat die suidoostelike dele van Turkye, noordelike Sirië, noordelike Irak en noordwestelike Iran moet insluit.
“Daar is dus ’n verweefdheid in die Koerdiese politiek in al die genoemde state – wat Turkye insluit.
“Vanuit hierdie perspektief beywer sommige Koerdiese nasionaliste in Turkye hulle vir ’n onafhanklike Koerdistan wat betrekking het op die suidoostelike dele van Turkye, terwyl ander Koerde eerder groter Koerdiese outonomie in die genoemde state – inkluis Turkye – wil sien.
Sedert 1984 het tot 40 000 Koerde omgekom in gevegte tussen nasionalistiese Koerde en die Turkse regering. ’n Belangrike rede vir Erdogan se beplande optrede teen die Koerde in Sirië is dat hy ’n sterk Koerdiese milisie-groep in die noordelike dele van Sirië wil bykom, omdat hy glo dat Koerdiese nasionaliste en rebelle in Turkye ’n koppeling met die Siriese milisie het. Hy wil ook ’n “veilige sone” van 32 km tussen Sirië en Turkye skep. – Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie