Trump se staatsrede
Trump se staatsrede

Trump se staatsrede

Die VSA president het soos verwag sterk klem gelê op hoe belangrik dit is om die VSA se grens met Mexiko te beveilig.
“Ons kom vanaand bymekaar in ’n oomblik van onbeperkte potensiaal,” het pres. Donald Trump van Amerika Dinsdagaand in sy staatsrede in ’n gesamentlike sitting van die Amerikaanse kongres in Washington D.C gesê.

Die begin van die toespraak is in ’n gees van kompromie gelewer, berig Reuters.

“Ons is reg om saam met julle te werk om historiese deurbrake vir alle Amerikaners te maak,” het hy gesê, terwyl Nancy Pelosi, die speaker en sy grootste teenstander onder die Demokrate, hom stip dopgehou het.

Die toespraak is met ’n week uitgestel weens die gedeeltelike sluiting van die federale regering – die langste sluiting nog – omdat die kongres nie ooreen kon kom oor die US$5,7 miljard wat Trump wil hê om ’n muur tussen Amerika en Mexiko te bou nie.

Van die staatsdepartemente was in Desember en Januarie 35 dae lank gedeeltelik gesluit.

Luidens ’n Reuters/Ipsos-peiling blameer meer as die helfte van Amerikaners Trump vir die krisis, wat daartoe gelei het dat talle staatsdepartement verlam is en duisende staatsamptenare in daardie tyd nie hul salarisse ontvang het nie.

IMMIGRASIE EN EENHEID

Trump, wat steeds op die finansiering van die muur op die grens aandring, het soos verwag sterk klem gelê op hoe belangrik dit is om die VSA se grens met Mexiko te beveilig.

“Dis nou die tyd vir die kongres om aan die wêreld te wys dat Amerika daartoe verbind is om onwettige immigrasie te beëindig en om meedoënlose jakkalse, kartelle, dwelmhandelaars en mensehandelaars te stuit.”

Trump het in sy staatsrede ook ’n einde aan “politieke wraak” gevra.

“Saam kan ons ’n einde maak aan ’n politieke dooiepunt wat reeds dekades duur.”

Hy het ook verwys na die “belaglike partydige ondersoeke” na bewerings dat Rusland hom by die 2016-presidensiële verkiesing ingemeng het.

INTERNASIONALE BETREKKINGE, VROUEREGTE

Trump het bevestig dat sy tweede beraad met Kim Jong-oen, leier van Noord-Korea, op 27 en 28 Februarie in Viëtnam sal plaasvind.

Daar was 'n luide applous toe hy melding gemaak het van die vooruitgang om geslagsgelykheid te bevorder.

Daar was nog nooit so baie vroue-kongreslede soos nou nie. Daar is 106 vroue in die huis van verteenwoordigers, en 25 van die 100 senators is vroue.

Baie het wit aangehad "in solidariteit met vroue landswyd en om erkenning te gee aan die vooruitgang wat ten opsigte van vroueregte gemaak is", het Lois Frankel, kongreslid, in 'n verklaring aan CNN gesê.

Stacey Abrams, kongreslid, het die Demokrate se antwoord op Trump se staatsrede gelewer.

DIK SYFERS AAN

Trump het ook in sy staatsrede ekonomiese syfers oordryf óf gefokus op sekere prestasies sonder om dit in konteks te plaas.

Dit blyk dat sy syfers nie ooreenstem met die syfers wat deur amptelike bronne verskaf is nie.

Hy beweer dat 5,3 miljoen poste sedert sy verkiesing tot president in 2016 geskep is, waarvan 600 000 in die vervaardigingsektor is.

Dit verskil van die Amerikaanse departement van arbeid se syfers dat slegs 481 000 poste tussen November 2016 en Januarie 2019 in fabrieke geskep is.

Trump beweer verder dat lone “teen die vinnigste pas in dekades groei”.

Volgens die departement van arbeid se inligting styg lone in die VSA tans die vinnigste in net minder as ’n dekade.

Trump het egter wel heelwat om oor fees te vier.

Die Amerikaanse ekonomie groei tans teen ’n gesonde pas, werksgeleenthede word geskep en lone styg.

Ontleders verwag wel dat die pas waarteen dit gebeur gaan afneem wanneer die invloed van laer belastingkoerse wat Trump voorheen ingestel het, begin afneem.

Sy stelling dat die Amerikaanse ekonomie “tans teen bykans dubbel die pas groei as toe ek my ampstermyn begin het”, is redelik na aan die waarheid as dit met die derde kwartaal se geannualiseerde bruto binnelandse produkgroeikoers van 3,4% teenoor 1,8% in die laaste kwartaal van 2016 vergelyk word.

Nóg ’n prestasie wat Trump aanhaal, is dat “meer mense nou – 157 miljoen – as in enige tyd in ons geskiedenis werk”. – Netwerk24/Bloomberg

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!