Trump skel Bannon uit
Trump skel Bannon uit

Trump skel Bannon uit

Die noue bande tussen pres. Donald Trump van Amerika en sy ou bondgenoot, Steve Bannon, is daarmee heen.
NAMPA
Amerika se pres. Donald Trump het een van sy naaste politieke bondgenote op skouspelagtige manier afgeransel en die Withuis se voormalige hoofstrateeg, Steve Bannon, as “waansinnig en irrelevant” beskryf.

Dit volg nadat plofbare grepe uit ‘n nuwe boek bekend gemaak is. Daarin het Bannon Trump se oudste seun se ontmoeting met ‘n regsgeleerde verbind aan die Kremlin, as “onpatrioties en hoogverraderlik” beskryf.

Die beleërde Republikeinse president het, gegewe sy veglustige standaarde, op ‘n striemende manier gereageer.

"Steve Bannon het niks met my of my presidensie te doen nie. Toe hy afgedank is, het hy nie net sy werk verloor nie, maar ook sy kop,” het Trump in ‘n geskrewe verklaring gesê.

Trump sê Bannon, wat die miljardêr se verbintenisse met die nasionalistiese verregses gesmee het en gehelp het om ‘n pro-Trump media-ekosisteem te skep, “is net vir homself daarin”.

Trump se woede is ontketen deur die publikasie van uittreksels uit die boek "Fire and Fury: Inside the Trump White House" deur Michael Wolff.

In die boek wat deur The Guardian en New York Magazine gepubliseer is, word Bannon aangehaal wat uiters krities oor Trump se seun Donald Junior en sy dogter Ivanka is.

Bannon, wat die Withuis in Augustus verlaat het, word aangehaal waar hy sê die ondersoek deur die spesiale gesant, Robert Mueller, na Russiese inmenging in die 2016-verkiesing, sal op geldwassery fokus.

Donald Junior, Trump se skoonseun Jared Kushner, en die destydse voorsitter van Trump se verkiesingsveldtog, Paul Manafort, het in Junie 2016 die Russiese regsgeleerde Natalia Veselnitskaya in Trump Tower, New York, ontmoet nadat ‘n tussenganger materiaal beloof het wat negatief vir Trump se Demokratiese teenstander, Hillary Clinton, sou wees.

"Hierdie drie senior mense in die veldtog het gedink dit is ‘n goeie idee om onder enige regsverteenwoordigers met ‘n buitelandse regering binne Trump Tower in ‘n konferensiesaal op die 25ste verdieping te vergader. Selfs as jy gedink het dit is nie hoogverraderlik, onpatrioties of sleg nie - en ek dink dit alles - moes iemand onmiddellik die FBI in kennis gestel het,” word Bannon in die boek aangehaal. – Nampa/AFP

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer