'Trump vernietiger wat soek vir oorlog'
'Trump vernietiger wat soek vir oorlog'

'Trump vernietiger wat soek vir oorlog'

Die Amerikaanse president het Noord-Korea weer eens gewaarsku om nie Amerika te onderskat nie.
Noord-Korea het Saterdag gesê pres. Donald Trump van Amerika se eerste besoek aan Asië het gewys dat hy 'n "vernietiger" is en dat hy soebat vir oorlog op die Koreaanse skiereiland.

"Trump het op sy besoek sy ware natuur ontbloot as vernietiger van wêreldvrede en -stabiliteit en gesmeek om 'n kernoorlog op die Koreaanse skiereiland," het die Koreaanse woordvoerder van buitelandse sake luidens 'n verklaring wat deur die staatsnuusgantskap uitgereik is, gesê.

Trump het Noord-Korea verlede Woensdag aan die einde van sy besoek aan Suid-Korea gewaarsku om nie Amerika te onderskat.

Die Noord-Koreaanse woordvoerder het gesê niks sal Pjongjang daarvan weerhou om met sy kernwapenprogram voort te gaan nie.

Dit volg ná 'n ongekende magsvertoon van Amerika en Suid-Korea wat Saterdag militêre maneuvers aan die kus van die Koreaanse skiereiland uitgevoer het waarby aanvalsgroepe van drie Amerikaanse vliegdekskepe betrokke was.

Die oorlogsoefeninge is daarop gemik om die alliansie se beleid van "verlengde afskrikking" teen Pjongjang se kern- en missieldreigemente te versterk, aldus 'n verklaring deur Suid-Korea se gesamentlike stafhoofde, berig Aljazeera.

Die USS Ronald Reagan, USS Nimitz en USS Theodore Roosevelt het in die streek aangekom vir die vier dae lange maneuvers, wat ook 11 ligter Amerikaanse vlootvaartuie en sewe Suid-Koreaanse oorlogskepe, waaronder drie aanvalsvaartuie, insluit.

MAGSVERTONING

Die Suid-Koreaanse nuusagentskap Yonhap het die oefeninge as 'n "ongekende vertoning van mag" beskryf.

Die laaste keer dat so 'n groot konsentrasie van militêre mag in die streek plaasgevind het, was in 2007 aan die kus van die Amerikaanse eiland Guam.

Die militêre oefeninge vind plaas te midde van hoogspanning terwyl Trump op besoek is aan die streek en die kernbedreiging van Noord-Korea die samesprekings oorheers.

Trump het Vrydag op 'n vergadering van die forum vir ekonomiese samewerking in die Asies-Pasifiese streek (Apec) in Da Nang, Viëtnam, 'n beroep op lande gedoen om "verenig te staan" teen die "groter en groter gevaar" wat Pjongjang inhou. "Die toekoms van hierdie streek en sy pragtige mense moet nie gyselaar gehou word deur 'n diktator se verwronge fantasieë van gewelddadige verowering en kernbom-afpersing nie," het hy gesê in 'n kwalik bedekte verwysing na die Noord-Koreaanse leier Kim Jong-oen.

Die Noors-Koreaanse koerant Rodong Sinmun het Saterdag "die oorlogsmaneuvers teen die Noorde wat geïntensiveer is deur Trump se oorlogsbesoek" gekritiseer. Noord-Korea het sy sesde en kragtigste kernbom in September laat ontplof ná n maande lange toetsing van ballistiese missiele wat Amerika en sy bondgenote Japan en Suid-Korea behoorlik die harnas in gejaag het.

Noord-Korea het al telkemale gesê hy benodig kernwapens as 'n afskrikmiddel om 'n "inval en plundering" deur Amerika af te weer. Ontleders sê dit is net 'n kwessie van tyd voordat Noord-Korea daartoe in staat sal wees om 'n kernplofkop wat die VSA kan bereik, af te vuur. Amerika het op sy beurt telkens gesê dat hy nooit 'n Noord-Korea wat oor kernwapens beskik, sal aanvaar nie. - News24/Netwerk24/Nampa/Reuters

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!