Trump vra glo raad oor Kim
Trump vra glo raad oor Kim

Trump vra glo raad oor Kim

‘n Groot vraagteken hang nog oor die moontlike ontmoeting volgende maand tussen die Amerikaanse president, Donald Trump, en die Noord-Koreaanse leier, Kim Jong-oen.
Pres. Donald Trump van Amerika het Dinsdag met sy eweknie van Suid-Korea, Moon Jae-in, in die Withuis vergader oor wat om van die Noord-Koreaanse leier, Kim Jong-oen, te verwag.

Dit volg nadat Trump vroeër gesê het gesê daar is ’n moontlikheid dat die beoogde geskiedkundige beraad met die Noord-Koreaanse leier, Kim Jong-oen, uitgestel kan word.

Noord-Korea het verlede week gesê hulle sal die beraad kanselleer indien Amerika daarop aandring dat net hulle van hul kernwapens ontslae moet raak.

Die beraad moet op 12 Junie in Singapoer begin. Dit volg op ’n ontmoeting tussen Kim en Moon in April.

“Indien dit nie nou gebeur nie, sal dit later gebeur,” het Trump volgens die AFP-nuusagentskap gesê.

Daar word verwag dat Noord-Korea hul kernwapentoetsterrein vandeesweek as ’n gebaar van welwillendheid sal aftakel, hoewel dit deur slegte weerstoestande vertraag kan word.

Noord-Korea het sy hoëvlak beraadslaging met Suid-Korea gekanselleer omdat hulle meen dat Suid-Korea se gesamentlike militêre oefening met Amerika ’n “oefenlopie vir ’n inval” en “uitlokking” is.

Pjonjang het John Bolton, Trump se veiligheidsadviseur, daarvan beskuldig dat hy “roekelose verklarings” maak nadat hy voorgestel het dat Noord-Korea die “Libiese model” van ontwapening moet volg.

Dit is ’n verwysing na Muammar Gaddafi, voormalige Libiese leier, wat in 2003 daartoe ingestem het om van die land se kernwapenprogram af te sien, voordat hy deur rebellemagte doodgemaak is. Die rebelle is deur Westerse magte gesteun.

Trump het dit ontken dat Amerika die “Libiese model” sal volg indien ’n ooreenkoms met Noord-Korea bereik kan word.

“Die model in Libië was gerig op algehele vernietiging,” het Trump gesê. “Ons het ingegaan om hom te verslaan. Dié model sal in werking tree as ’n ooreenkoms nie bereik word nie. As ons ’n ooreenkoms kan bereik, sal Kim baie, baie tevrede wees.”

Trump het Noord-Korea se uitnodiging vir samesprekings aanvaar ná ’n jaar van hewige retoriek te midde van vrese dat die vyandigheid in ’n militêre konfrontasie kan ontaard.

The New York Times het Sondag berig dat Trump sy raadgewers gevra het of hy met die beraad moet voortgaan.

Noord-Korea het die afgelope jare verskeie kernwapentoetse uitgevoer en langafstandmissiele ontwikkel wat hulle beweer Amerika kan bereik.

Indien die beraad plaasvind, sal dit geskiedkundig wees omdat ’n Amerikaanse president nog nooit met ’n Noord-Koreaanse leier vergader het nie.

Kenners meen die twee leiers het te veel om te verloor vir die beraad om nie plaas te vind nie.

Pjonjang se voorneme om Noord-Korea te “ontwapen” kan egter van Washington se versoek vir “uitgebreide, bevestigde en onomkeerbare kernontwapening” verskil. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer