Trumpelmann vat uitslag uit kusspan se hande
Trumpelmann vat uitslag uit kusspan se hande

Trumpelmann vat uitslag uit kusspan se hande

Krieket
Andrew Poolman
Andrew Poolman – Ceiling Centre WHS Old Boys het ’n suksesvolle reis na die kus afgelê, hoewel hul wenlose opponente onderaan die punteleer, MR24/7 Welwitschia, steeds sal kopkrap oor wanneer die draaipunt gaan kom ná nog ’n ondergemiddelde kolfvertoning.
Op die Sparta-veld van Walvisbaai het WHS Old Boys gekies om eerste te kolf en het hul volle vyftig boulbeurte in die eendagpremierliga van Krieket Namibië benut.
Op pad na hul totaal van 262/9 is hul ganse kolflys ’n geleentheid gegee om kolfkampie toe te stap.
Die uitblinker in die eerste helfte van die kolfbeurt was Craig Williams met nóg ’n vyftigtal waarop gewone sterflinge trots sou wees – maar die uitmuntende kolwer as die voorste lopiemaker in hierdie premierligaseisoen sal Saterdag se vertoning nie eens as een van sy mees plofbare vertonings dié seisoen reken nie.
Met Old Boys op 26 lopies ná ses boulbeurte het Williams sy aanvangsmaat vir klub en nasionale span, Zane Green, vir 13 lopies verloor (26 balle, twee viere).
Williams het sy vyftigtal voltooi voor hy op 53 (78 balle, drie viere, twee sesse) ’n aflewering van die jong Renier Bosman terug in die bouler se hande gespeel het.
Minder as die verwagte gewig van die lopietotaal het van die bekwame middelorde van Gerhard Janse van Rensburg (10 van 20 balle), Gerhard Erasmus (31 van 38 balle, 3x4), spankaptein JP Kotzé (14 van 20 balle) en Malan Kruger (1 van 9 balle) gekom.
Die gekombineerde kusspan was waarskynlik in hul skik met die belowende vooruitsigte toe hulle die binnelanders ná 31.1 boulbeurte op 137/7 gehad het.
Dis egter voortydig om opgewonde te raak voordat jy Ruben Trumpelmann uitgehaal het – soos hy opnuut bewys het met 78 onoorwonne lopies van 67 balle, wat sewe viere en twee sesse bevat het. Die kusspan het straks al voorspooksels gesien van die Trumpelmann wat enkele gelede by FNB Vegkopstadion vir CCD Tigers vir 42 lopies van 14 balle gemoker het.
Old Boys se laer orde was ook nog nie uitgewis voordat Zhivago Groenewald teen sy voormalige klubmaats van hom laat kennis neem het met 32 lopies van 29 balle (4x4) nie.
Trumpelmann se vyftigtal het hom laat opskuif na nommer ses op die lys van voorste lopiemakers in hierdie premierliga – ’n lys wat sterk deur sy klubmaats oorheers word. Die topses is Williams (339), JP Kotzé (259), Zane Green (222), Michael van Lingen (Trustco United, 202), Trumpelmann (185) en Malan Kruger (171).
Die keur van Welwitschia se boulers was John-Erich Thierauch, wat sy ekonomiese drie paaltjies (3/40 in 10) behaal het deur Gerhard Erasmus te boul, vir Malan Kruger laat uitvang en vir Donovan Zealand (4) te boul.
Die jong Renier Bosman (2/37 in 10) kan ook trots wees op sy twee paaltjies (Williams en Kotzé). Die kusspan se kaptein Nyasha Nysha het vir Groenewald en Henry van Wyk (0) met opeenvolgende balle geboul om met 2/60 in 10 te eindig, nadat Trumpelmann hom in sy laaste boulbeurt vir 16 laat deurloop het.

TUISKOLWERS SUKKEL VOORT
Met selfvertroue in hul lopies op die telbord het WHS Old Boys die kans gebruik dat altesame nege boulers ’n proe kon kry van wat hulle op die Sparta-kolfblad kan uitrig.
Welwitschia is vir 115 almal uitgeboul, met die aanvangskolwer Walter Fokkens (27 van 37 balle, twee viere, een ses), Matthew de Gouveia (17 van 51 balle, geen grenshoue, uitgehardloop deur Zane Green) en Bosman (30 van 42 balle, 1x4 2x6) die enigstes wat vir enige beduidende tyd staande kon bly.
Zhivago Groenewald (2/13 in 6 bb) en Gerhard van Rensburg (2/14 in 2.2) het die meeste sukses van Old Boys se nege boulers behaal. Ruben Trumpelmann het vier boulbeurte geboul (0/10, een leeg), maar het toe reeds genoeg gedoen om as speler van die wedstryd aangewys te word.
• In die reënerige Windhoek is reeds Vrydagoggend ’n beslissing gemaak dat geen wedstryde weens plasse water en algemen onspeelbaarheid by enige van Windhoek se velde (United, Wanderers, WHS Vegkop, CCD of Doc Jubber) moontlik sou wees nie.
Die onoorwonne Samsung Wanderers sal gevolglik voel dat nog ’n geleentheid vir wenpunte in sy afgelaste tuiswedstryd teen CCD Tigers verlore is. Die ligapunte word met twee elk tussen die spanne verdeel. Wanderers kon die vorige naweek ook nie op sy tuisveld teen die kusspan speel nie.
• Die premierliga vir eendagkrieket se semifinale is vir komende naweek geskeduleer. Die wenlose Welwitschia eindig vyfde en sal dus nie betrokke wees nie, met die bepalings vir die topvier wat vandeesweek bevestig behoort te word.


FOTO
Ruben Trumpelmann, hier in aksie in sy kragvertoning teen CCD Tigers drie naweke gelede, was speler van die wedstryd op Walvisbaai. FOTO ANDREW POOLMAN

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!