Trust belu00ea in gemeenskap
Trust belu00ea in gemeenskap

Trust belê in gemeenskap

Tanja Bause
Tanja Bause – Die Ohorongo Otavi Community Trust (OOCT) het sedert sy ontstaan in 2008 meer as N$4,3 miljoen bestee om inwoners in Otavi se lewe te verbeter.

Die doel is om projekte te ondersteun wat Otavi se infrastruktuur, mediese dienste en opleiding daar beter maak.

Een van die projekte wat die OOCT ondersteun, is die opgradering van Otavi se sportfasiliteite. Dié geriewe is belangrik vir die gemeenskap, spesifiek met die oog op die fisieke en sielkundige ontwikkeling, van veral die jeug.

OOCT het in 2011 in samewerking met medeborge die sokkervelde opgegradeer. Nou is hulle besig om die Otavi netbal-, vlugbal- en basketbalbane op te knap. Die projek van N$2,7 miljoen behoort teen einde Augustus voltooi te wees, het mnr. Rudolf Coetzee van Ohorongo gesê.

“Aanvanklik wou ons net die ou bane opgradeer, maar ons moes dit toe alles sloop en van nuuts af bou,” het hy gesê.

Vir dié werk het ondersteuners soos Agra en Dundee Precious Metals hande met OOCT gevat, terwyl Ohorongo Cement onderneem het om toesig oor die projek te hou en dit te voltooi.

B2Gold het ’n bydrae van N$500 000 vir die opgradering van die sportfasiliteite gemaak.

“Die projek word in drie fases uitgevoer. Die eerste fase was die omheining en skoonmaak van die perseel. Fase twee behels die opgradering van die drie bane. Fase drie behels die bou van ablusiegeriewe, ’n klein pawiljoen en kleedkamers,” het hy gesê.

Die ou muurbalgebou is op die oomblik ’n gevaar. Die voorstel is gemaak dat dit afgebreek word en daar vir eers net ’n muur opgerig word. “Op die oomblik oefen ’n klein boksklub in die gebou. Dalk kan daar in die toekoms - en as die finansies dit toelaat - ’n nuwe gebou opgerig word, wat as beide boksklub en gimnasium kan dien,” het Coetzee gesê.

Sodra die fasiliteite opgegradeer en gebou is, sal dit aan die Otavi-dorpsraad oorhandig word.

Kommentaar

Republikein 2025-04-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer