Trusted Travel sluit Namibiu00eb in
Trusted Travel sluit Namibiu00eb in

Trusted Travel sluit Namibië in

Wanneer 'n Covid-toets gedoen is, sal die laboratorium 'n TT-toetskode genereer wat deur lugrederye en gesondheidsowerhede by grensposte geverifieer kan word.
Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht – Die Trusted Travel (TT)-stelsel vir lidlande van die Afrika-unie (AU) is vanaf 15 November by verskeie grensposte in Namibië beskikbaar.

Vanaf 1 Desember sal ook net Covid-19-sertifikate wat deur dié platform verkry of geverifieer is, op die Global Haven-stelsels by grensposte aanvaar word.

Die stelsel is deur die Kommissie van die Afrika-unie (AUC) in samewerking met die Afrika Sentrums vir Siektebeheer (CDC) in lidlande van die AU van stapel gestuur om onder meer die huidige verifiëringstelsels en -toetse vir Covid-19 te verbeter.

Die platform sal vanaf middel November by onder meer die Internasionale Lughawe Hosea Kutako en die Katima Mulilo-, Ariamsvlei-, Noordoewer-, Trans-Kalahari- en Oshikango-grenspos beskikbaar wees.

Volgens die uitvoerende direkteur van gesondheid en maatskaplike dienste, mnr. Ben Nangombe, sal die stelsel die verifiëring van uitslae vergemaklik en reis vir persone vergemaklik wat in Namibië aankom en uit die land vertrek.



SO WERK DIT

Mense wat van plan is om die land te verlaat of te besoek, moet enige van die geakkrediteerde TT-laboratoriums vir 'n PCR-toets besoek. Die name van dié laboratoriums is op www.africacdc.org/trusted-travel beskikbaar. Wanneer 'n Covid-toets gedoen is, sal die laboratorium 'n TT-toetskode genereer wat deur lugrederye en gesondheidsowerhede by grensposte geverifieer kan word om te bevestig dat die toets van 'n geakkrediteerde laboratorium is.

Reisigers sal gevolglik 'n teksboodskap en 'n e-pos met 'n skakel ontvang wat hom of haar in staat sal stel om 'n rekening op trustedtravel.panabios.org te skep en ook toegang tot TT bied. Indien die toets aan die vereistes van die Namibiese regering en die land van die eindbestemming voldoen, word 'n TT-kode aan die reisiger gestuur wat aan owerhede by lugrederye en grensposte getoon moet word.

Benewens dat die kode bevestig 'n toets is deur 'n geakkrediteerde laboratorium uitgereik, sê Nan­gombe dit verskaf ook 'n bykomende bewys dat die toets steeds geldig tydens die beplande reis is.

Inkomende reisigers met uitslae van laboratoriums wat nie in lyn met laboratoriums vir die stelsel is nie, moet 'n afskrif van hul uitslae op die webtuiste van Global Haven System (www.globalhaven.org) vir goedkeuring laai.

Vir enige tegniese navrae kan 'n e-pos aan [email protected] gestuur word.

Die volgende grensposte, lughawens en hawens sal op 15 November die TT-stelsel beskikbaar hê: die grensposte by Oshikango, Omahenene, Muhembo, Katima Mulilo, Ngoma, Ariamsvlei, Noordoewer en Trans-Kalahari, die hawens by Lüderitz en Walvisbaai, sowel as die Internasionale Lughawe Hosea Kutako en die Walvisbaaise Internasionale Lughawe.

– [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer