Tryagain wys sy slag in Bahamas
Die bokser het uitgeblink by die skouspel waar Namibië in vier sportkodes verteenwoordig was.
Andrew Poolman - Die Namibiese spannetjie keer met 'n enkele medalje terug van die Statebond Jeugspele wat Sondag in die Bahamas ten einde geloop het.
Met sportreuse soos Engeland (boaan met 51 medaljes, 23 goud), Australië, Nieu-Seeland, Suid-Afrika, Kenia, Kanada, Jamaika en ander in die omtrek, was die kompetisie van topgehalte.
Die bokser Tryagain Ndevelo is die land se enigste medaljewenner, met 'n brons in die 60 kilogram gewigsklas. Die 18-jarige liggewigbokser is van Eenhana in die Ohangwenastreek afkomstig, waar hy by die Senior Sekondêre Skool Haimbili Haufiku skoolgaan.
Ndevelo het sy aanslag in die kompetisie met 'n dominerende vertoning in sy openingsgeveg teen Kareem Boyce van St. Lucia begin, toe die skeidsregter tussenbeide getree het om sy opponent te beskerm.
Laas Vrydag het Ndevelo sy kwarteindgeveg teen Levi Freddy Joseph van die Dominikaanse Republiek op soortgelyke wyse oorheers, toe die skeidsregter sake in die tweede ronde beëindig het.
Die Namibiër het hom die volgende dag in sy semifinaal teen Jake Clague van Australië vasgeloop, wat die uitslag met punte (4 teen 1) beklink het. In boks word bronsmedaljes outomaties aan beide verloorders in die semifinale ronde oorhandig, sonder 'n geveg om die derde posisie.
Namibië se ander bokser, die kapokgewig Sylvinos Tangeni Nampadhi, is in sy eerste geveg uitgeskakel toe Jean Hellene van Mauritius as die wenner met punte (4-1) aangewys is.
Ndevelo se enkele brons plaas Namibië saam met vier ander spanne in die gesamentlike 31ste plek op die algehele medaljelys.
ATLETIEK
Die naaste wat Namibië aan 'n tweede medalje gekom het, was toe die 400 m naelloper Ivan Danny Geldenhuys die finaal van sy item gehaal en vierde klaargemaak het.
Geldenhuys het Sondag in die finaal (48.01) ietwat gespanne voorgekom en sy tyd was stadiger as die puik persoonlike beste wat hy twee weke gelede by die IAAF onder 18 wêreldkampioenskap in Nairobi tot 47.17 gesnoei het.
Die Namibiër het sy uitdun in die tweede vinnigste tyd (48.02 sekondes) gewen, teenoor die Zambiër Kennedy Luchembe wat uiteindelik ook die goue medalje ingepalm het in 47.63. Die silwer behoort aan Vaughn Taylor (Engeland, 47.92) en die brons aan die Jamaikaan Ramone Lindo (48.01).
• Sondagaand het die spiesgooier Johannes (Pikkie) Smith sesde in die spiesgooi klaargemaak met 'n beste poging van 61.01 meter. Twee gooiers het hom met hul laaste probeerslag verbygesteek, nadat die skoolseun van Paarl Gimnasium tot in daardie stadium nog vierde was.
'n Sterk wind het glo teen die spiesgooiers in gewaai, wat oor 'n mate van ondervinding moet beskik en ook op die oefenbaan teen 'n wind behoort te gooi om die nodige aanpassing in die omstandighede te kan maak.
Neil van Rensburg, 'n Australiër, het die goue medalje met 74.19 meter ingepalm.
• Die enigste Namibiër in twee items, die 16-jarige Natalie Louw (WHS), kon nie in die verspring óf die hoogspring hond haaraf maak nie.
Vrae sal gevra word oor die omstandighede waarin sy in die verspring net 4.18 meter kon aanteken om twaalfde uit 13 deelnemers te eindig.
Dit is baie ver van die 5.69 meter waarmee sy in April die senior nasionale kampioenskap gewen het.
Het 'n bobeenbesering dalk gepla waarvoor sy reeds voor die span se vertrek behandeling van 'n fisioterapeut gekry het? Of was dit die onderbreking van die item vanweë donderweer wat die ritme van opwarming versteur het en dalk tot 'n besluit gelei het om die energie vir die hoogspring te spaar? Terwyl die toerspan gister die pad huis toe aangepak is, kon definitiewe antwoorde gister teen druktyd nie verkry word nie.
In die hoogspring het Louw dieselfde merk (1.65 m) as by die NSSU en senior nasionale kampioenskappe aangeteken, maar selfs haar beste hoogte (1.72) sou nie 'n verskil aan haar sesde eindposisie gemaak het nie. Die meisies hoogspring is deur Sommer Lecky van Engeland gewen (1.83 meter) en die verspring deur haar landgenoot Holly Mills (6.19 m).
FIETSRY
Dit was verreweg die warmste dag van die week toe die fietsryers Sondag vir die padresies oor 65 kilometer aangetree het. Met die weerkaatsing van die teerpad af is die temperatuur glo op 47 grade Celsius gevoel, sê die afrigter Hans du Toit.
Onder die omstandighede is hy beïndruk en trots op die vegtende vertoning van sy ryers Alex Miller en Charl du Plooy, wat volgens hom alles gedoen het wat hulle moontlik kon.
“Net 25 van die 45 beginners het klaargemaak en sommiges moes reeds voor die wegspring mediese aandag kry. Ondanks die hitte was die gemiddelde snelheid baie hoog – omtrent 45 km/h.
“Charl het in die middel van die resies 'n bietjie begin sukkel, maar het teruggeveg om weer by die groep aan te sluit wat deurgaans sowat 'n minuut en 'n half agter die voorste wegbrekers was. Alex (19de) en Charl (22ste) was in die bondel van 18 ryers wat binne net drie sekondes saam oor die eindstreep gestroom het.”
Volgens Du Toit wys die twee se uitslag dat Namibië met die groot fietsrylande kan saampraat.
“Ek is baie tevrede dat hulle hul laat geld het in die resies.”
TENNIS
Codie van Schalkwyk het twee wedstryde, teen opponente van Guernsey en St. Lucia, gewen voordat hy in die kwarteindronde uitgeskakel is. Hy het teen Skotland se Hamish Stewart met 6-3, 6-4 verloor.
By die meisies het Gina Moolman in die eerste ronde verby Ilana Blackwood van Jamaika gevorder (6-4, 7-6), maar kon daarna nie vir Zeel Desai van Indië uitoorlê nie (6-1, 6-0).
In die gemengde dubbelspel het Moolman en Van Schalkwyk hul eerste wedstryd teen Ghana gewen, maar is daarna deur Indië uitgeskakel.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie