Tsjeggo-Slowakye: 'n Hand vol Namibiërs se 'vir altyd'-tuiste

In 1985, tydens Namibië se onafhanklikheidstryd, is 56 Namibiese kinders uit kampe in Zambië en Angola geneem om in Tsjeggo-Slowakye te woon. Hulle verhaal is 'n vreemde en hartverskeurende een van vervreemding en verlies, een wat nog nooit voorheen vertel is nie. Tot nou toe.
Rebecca Davis – Volgens die amptelike weergawe van die verhaal was hulle oorlogwesies. Die meeste kinders het in werklikheid minstens een ouer gehad wat geleef het, en sommiges het twee gehad. Hulle is in Swapo-kampe vir bannelinge in Zambië en Angola tydens die Namibiese vryheidstryd gebore.

“Daar is nie baie inligting beskikbaar nie, maar ons weet dié kinders is nie lukraak gekies nie,” het die Tsjeggiese akademikus, Katerina Mildnerova, aan Daily Maverick (DM168) gesê.

“Baie van hulle was die kinders van vooraanstaande vryheidsvegters.” Een was die kleinkind van Sam Nujoma, die eerste president van 'n onafhank­like Namibië.

Min is ook bekend oor hoe die kinders byeengebring is vir dié lang, vreemde reis. Hulle het nie geweet waarheen hulle op pad is nie. Tsjeggiese versorgers sou later onthou hoe die seuntjies vertel het dat hulle deur soldate in 'n net gevang is voordat hulle op 'n militêre vliegtuig gelaai is.

Hier volg die feite, hoewel dit meer soos fiksie klink: Een dag in 1985 is 56 Namibiese kinders tussen vyf en nege jaar oud uit Swapo-kampe gehaal, van hul gesinne en vriende geskei en op 'n vliegtuig na die destydse Tsjeggo-Slowaakse Sosialistiese Republiek gesit. Hulle is na 'n klein dorpie geneem waar hulle saam met hul versorgers in 'n verlate kasteel sou woon.

Hierdie verstommende geskiedkundige gebeurtenis het vir die eerste keer aan die lig gekom in Mildnerova se boek, Namibian Czechs, wat in Januarie 2021 bekend gestel is. 'n Vooraanstaande historikus, wat deur DM168 gekontak is, het gesê sy dra geen kennis van hierdie gebeure nie.

Tog was dit nie 'n geïsoleerde voorval nie. Dit het in die laat 1970's begin, toe Swapo Namibiese kinders na Kuba en die voormalige Oos-Duitsland gestuur het – daardie verhale is meer bekend.

Die kinders wat na Oos-Duitsland gestuur is, staan steeds in Namibië as die “DDR (Duitse Demokratiese Republiek)-kinders” bekend, wat uitgeken kan word aan hul vlot Duits. Een lid van hierdie groep, Lucia Engombe, het 'n memoires, Child No 95, van haar ervaring geskryf.

Mildnerova het toevallig op dié onderwerp afgekom. Sy het twee van die sogenaamde Namibiese Tsjegge tydens haar studies ontmoet en hul verhale eerstehands gehoor.

“Hulle was vir my ongelooflik,” sê sy. “Hierdie kinders was net so oud soos ek, en ons het nie ver van mekaar af gebly nie. Hulle was hier en ons het nooit van hulle geweet nie!”

Ten tyde van die kinders se aankoms in Tsjeggo-Slowakye is die Tsjeggiese media verbied om daaroor verslag te doen. Swapo was vasbeslote om die ligging van die kinders geheim te hou om hulle teen politieke vyande te beskerm, en om dié rede is hulle aanvanklik so van die Tsjeggiese samelewing geïsoleer.

Vandag kan dié hoofstuk in Namibië se geskiedenis nie gelees word sonder om 'n gevoel van diep medelye vir dié kinders te wek nie, ná die trauma wat hulle moes verduur. Swapo, nou Namibië se regerende party, swyg ná al die jare steeds oor die gebeurtenis. DM168 het uitgereik na die woordvoerder van die party, Hilma Nicanor, en geen antwoord ontvang nie.

Daar bestaan egter min twyfel dat Swapo destyds geglo het hy tree in die beste belang van die kinders én van Namibië op. Om jong kinders na lande onder geallieerde kommunistiese regerings te stuur, was volgens Mildnerova se beskrywing “'n opvoedkundige projek met 'n element van maatskaplike manipulasie”.

“Die hoofdoel was om kinders as gehoorsame soldate, vurige kommuniste en toegewyde Namibiese patriotte groot te maak. Namibiese private onderwysers is saam gestuur om te verseker die kinders is vertroud met Swapo se ideologie en om grootgemaak te word met entoesiasme vir die idee van 'n bevryde Namibië – 'n land waarin, selfs in sy koloniale inkarnasie as Suidwes-Afrika, nog geen van die kinders ooit voet gesit het nie,” sê sy.

Mildnerova se boek is die eindproduk van jare se veldwerk in die Tsjeggiese Republiek en in Namibië, wat argiefnavorsing en onderhoude met die Namibiese Tsjegge self, voormalige versorgers, onderwysers en regeringsverteenwoordigers insluit.



AANKOMS

“Toe ons in Tsjeggo-Slowakye aangekom het, het ons wit mense orals gesien. Ons het gedink Swapo het ons aan die vyand verkoop om ons dood te maak,” het een van die Namibiese Tsjegge aan Mildnerova vertel.

In die kampe vir bannelinge waar hulle gebly het, is die kinders gewaar­sku om nie wit mense te vertrou nie – net een van die redes waarom hul skielike ontworteling uit die kampe na die oorweldigende wit Tsjeggo-Slowakye vir hulle so verwarrend was. Sommige van die kinders was reeds getraumatiseer deur die onafhanklikheidsoorlog, en gemoedsversteurings, bednatmaak en nagmerries was algemeen.

Maar daar is ander, teer herinneringe. Van die Tsjeggiese versorgers kon onthou dit het op die dag van die kinders se aankoms hard gesneeu. Die kinders het gedink dit is suiker en het dit begin eet en in hul sakke gedruk.

Aangesien hulle gewoond was aan die omstandighede in die kampe kon hulle nie die relatiewe luuksheid van hul Tsjeggiese kasteel of die konstante beskikbaarheid van voedsel glo nie.

Nie een van die kinders kon 'n woord in Tsjeggies praat nie en daarom het hulle onmiddellik daagliks ure lank intensiewe Tsjeggiese lesse bygewoon om hulle gereed te maak vir onderrig in die taal.

Bedags het die kinders Tsjeggies gepraat en is hulle deur Tsjeggiese private onderwysers onderrig; saans en oor naweke het hul Namibiese ver­sorgers Oshiwambo met hulle gepraat.

Dit het opgebou tot wat Mildnerova “kulturele skisofrenie” noem.

“Die opvoedkundige projek was verwarrend en nie eens die kinders het dit mooi verstaan nie,” sê sy.

Op 'n interpersoonlike vlak het die kinders baie sterk bande met hul Tsjeggiese versorgers ontwikkel, wat die werk nie net as hul kommunistiese plig beskou het nie, maar as die opregte versorging van Afrika-weeskinders vir wie hulle as slagoffers van 'n wrede oorlog gesien het. Ná 'n onderhoud met agt van hul voormalige Tsjeggiese versorgers, sê Mildnerova sy is oortuig hulle het “buitengewone persoonlike toewyding” getoon, insluitend om die kinders deur die vakansies as deel van hul gesinne te akkommodeer.

Inteendeel, miskien het die Namibiese Tsjegge veel meer negatiewe herinneringe van hul Namibiese versorgers.

“Hulle was baie streng. Hulle was ook soldate en het 'n duidelike missie gehad,” sê Mildnerova.

“Hulle het probeer keer dat die kinders nie 'té Tsjeggies' word nie, omdat hulle wou hê die kinders moes patriotte wees as hulle na Namibië terugkeer.”

Mildernova het egter ook empatie vir die Namibiese versorgers, wat volgens haar in 'n vreemde en frustrerende posisie was. Hulle het ook hul gesinne in Angola agtergelaat. Hulle kon ook nie die Tsjeggiese taal praat nie, en wanneer die kinders dit gepraat het, het die versorgers gevoel of hulle getart word.

Ná 'n jaar kon die kinders vlot Tsjeggies praat en het hulle meestal goed aangepas. Hulle het bedrewe geraak in Tsjeggiese ontspanningsaktiwiteite, soos stap en ski. Maar hulle kon nooit met die Tsjeggiese samelewing saamsmelt nie, want oral waar hulle gegaan het, het mense hulle aangestaar en aan hulle gevat.

Daar is ook van die kinders verwag om voortdurend optredes van Owambo-sirkeldanse en Tsjeggiese volksliedjies te lewer, en soms meer as 20 keer in 'n enkele maand op te tree.

Daar was spesiale optredes met politieke temas vir belangrike dae op die Swapo-kalender. By hierdie geleenthede sou die kinders in uniform marsjeer, salueer en Swapo-bevrydingsliedjies sing.

Die laat 1980's en vroeë 1990's was 'n tydperk van groot wêreldwye onrus, en binne ses maande, ná November 1989, sou die politieke dinamiek in Tsjeggo-Slowakye én Suidwes-Afrika drasties verander. In Tsjeggo-Slowakye het die kommunistiese regime geval en die land wat Namibië sou word, het kort daarna sy onafhanklikheid verkry.

Intensiewe onderhandelinge oor die lot van die Namibiese Tsjegge het onmiddellik begin. Mildnerova sê die Tsjeggiese staat wou hê die kinders moes hul onderrig voltooi waar hulle was, maar Swapo het “enorme druk” uitgeoefen vir die kinders om gerepatrieer te word.

In 1991 is die kinders, van wie sommiges tóé tieners was, na Namibië gestuur, die land wat hulle nog nooit besoek het nie, maar waarvoor hulle so hard opgelei is om burgers te wees.

“Jy weet niemand van ons wou Tsjeggo-Slowakye verlaat nie ... Dit was soos om van die paradys na die hel te gaan,” het Mildnerova een aangehaal.



KULTUURSKOK

Die kultuurskok wat die kinders in Namibië gekry het, was baie erg. Om weer in te val by gesinne wat hulle skaars kon onthou, is nog meer traumaties gemaak deur die feit dat die kinders nie vlot genoeg in Oshiwambo was om behoorlik te kommunikeer nie.

Tsjeggies het hul moedertaal geword – 'n taal wat byna niemand in Namibië, behalwe hul bykans 50 eweknieë, kon verstaan nie.

Hulle kon ook nie op die ondersteuning van hul eweknieë staatmaak nie, aangesien die kinders van mekaar geskei is en na hul gesinne oraloor die land gestuur is.

Sommiges het na plattelandse dorpies gegaan, waar dit buite die kwessie was om verder skool te gaan en hul lewens oorgeneem is deur landerye te help skoffel en water aan te dra. Hulle is gewoonlik met agterdog en wrewel deur die Namibiese samelewing aangegluur en is daarvan beskuldig dat hulle hulself as bedorwe Europeërs beskou.

Dit is nie 'n verhaal met 'n gelukkige einde nie.

Van die 56 kinders, wat nou in hul laat 30's moet wees, is minstens ses dood. Nog ses kon Mildnerova nie opspoor nie. Ongeveer die helfte is werkloos en slegs agt beklee hoë poste.

WhatsApp en sosiale media het dit vir hulle makliker gemaak om kontak met mekaar te behou en saam Tsjeggies te praat.

Mildnerova sê hulle sien hul kinderjare in Tsjeggo-Slowakye nou as 'n soort sprokie waarheen hulle geestelik terugkeer as dinge moeilik raak. Daardie land bestaan nie meer nie – behalwe as 'n soort denkbeeldige tuisland waarvan hulle altyd paspoorte van die siel sal hê.

• Rebecca Davis is 'n bekroonde joernalis wie se skrywes sedert 2011 in The Daily Maverick en ander Suid-Afrikaanse publikasies verskyn. Die artikel het oorspronk­lik op 11 Maart 2021 in The Daily Maverick verskyn.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!