Tsoenami van kinderverkragtings
Tsoenami van kinderverkragtings

Tsoenami van kinderverkragtings

Die meerderheid van die oortreders van die verkragting van kinders is aan die slagoffers bekend.
Jana-Mari Smith
Jana-Mari Smith – Die Namibiese polisie het minstens 15 sake vir die verkragting van minderjariges tussen die ouderdomme van 11 maande en 17 jaar oud sedert die begin van Julie geopen. Dié getal verwys net na gevalle wat oor naweke aangemeld is en bestaan uit 12 meisies, twee seuns en een wie se geslag nie geïdentifiseer is nie.

'n Oorsig van die polisie se misdaadverslae oor naweke wat sedert die begin van Julie en tot laas naweek uitgereik is, wys die verkragting van sewe kinders tien jaar en jonger wat oor die afgelope tien naweke by die polisie aangemeld is.

Hiermee saam is agt gevalle vir die verkragting van kinders tussen 11 en 17 jaar oor dieselfde tydperk aangemeld.

Die jongste beweerde verkragtingslagoffer is 'n 11 maande oue babameisie. Volgens die polisie het 'n 24-jarige verdagte haar op 24 Julie uit haar huis gaan haal en in die bosse verkrag. Hy is in hegtenis geneem, terwyl die baba hospitaal toe geneem is.

Dieselfde naweek is 'n 12-jarige meisie na bewering deur 'n man (52) in Khorixas verkrag. Verlede naweek het 'n verdagte (28) volgens die polisie drank aan 'n tienjarige meisie gegee voordat hy haar verkrag het terwyl sy geslaap het.

“Die hartseer werklikheid is die feit dat die meerderheid van die oortreders aan die slagoffers bekend is,” sê mnr. James Itana van Regain Trust.

Die oortreders is in 90% van gevalle “pa's, broers, ooms, bure ensovoorts ... Mans wat 'n verhouding van vertroue met die slagoffers gevestig het,” het hy gesê.

Die naweek van 16 tot 18 Julie is 'n agtjarige seun na bewering deur sy 21-jarige oom verkrag. Van die vier verkragtings wat oor dié naweek aangemeld is, is almal verbind tot oortreders wat aan die slagoffers bekend was.

'n Sewentienjarige meisie is na bewering deur haar voormalige kêrel verkrag, terwyl die verdagte in die verkragting van 'n elfjarige meisie haar oupa is. Die man wat vir die verkragting van 'n sesjarige meisie verdink word, was 'n nabye familievriend, terwyl die beweerde verkragter van 'n agtjarige seun sy oom is.

Die man wat aangekla word van die verkragting van 'n 12-jarige meisie die naweek van 24 Julie was 'n buurman wat probeer het om haar met N$1 te lok.

“Ons het families wat kies om die oortreders te beskerm en dikwels word die slagoffers tot stilte gedwing, oortuig of verneder,” het Itana gesê.

Ook gebruik oortreders hul “ekonomiese mag in dié families om stil te bly. Vir solank as wat hulle beskerm word, kan hulle maklik voortgaan om misdade van seksuele geweld te pleeg.”



PUNT VAN DIE YSBERG?

Hoewel dit nou verpligtend is om kindermishandeling onder die kindersorg- en beskermingswet aan te meld, is die huidige bekende getalle waarskynlik net die punt van die ysberg, het hy gesê.

“Slegs deur te verseker oortreders word verantwoordbaar gehou, kan ons 'n afname in hierdie afskuwelike dade sien. Vir so lank as wat dié voorvalle in 'n wolk van stilte gehul is, gaan ons voortgaan om 'n toename in die aantal gevalle van seksuele geslagsgebaseerde geweld teen kinders te sien.”

Me. Ndiilokelwa Nthengwe, 'n aktivis vir geslag- en geregtigheid by die Positive Vibes Trust, sê: “Gevalle van kinderverkragting en seksuele mishandeling bly toenemend hoog en behoort onteenseglik 'n nasionale bron van kommer te wees.”

Sy sê hoewel die polisie “onverpoos werk om die styging in dié gevalle te takel, is nuwe ingrypings nodig om hierdie pandemie hok te slaan,” het sy gesê.

Nthengwe het voorgestel gemeen­skapslede moet gemobiliseer word met “aansporings om wet en orde op voetskoolvlak te handhaaf waar wets­toepassers 'n gebrek aan hulpbronne en mobilisering het”.

Sy het die behoefte beklemtoon vir die ontwikkeling van meganismes wat die impak van die Covid-19-pandemie in oorweging bring en wat “gelei word deur die gemeen­skap, wat voldoende hulpbronne het en wat uniek tot elke gemeenskap is. Miskien sal ons hiermee positiewe resultate sien,” het sy gesê.

Itana het op sy beurt beklemtoon die belegging in skuilings en veilige tuistes is kritiek om 'n wye reeks dienste en ondersteuningsinisiatiewe vir slagoffers te bied.

[email protected]

FOTO
Foto ter illustrasie, NAMPA

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!