Tsumeb-bakster se koeke betower

Tanja Bause
Tanja Bause - Me. Marscha Scholtz het nog altyd van bak gehou, maar dit was toe ’n kollega haar vra om ’n spesiale verjaardagkoek te bak dat die gogga behoorlik gebyt het en die bestellings begin instroom het.
Dit was nou al ’n paar jaar gelede en hoewel sy nog baie kan leer en baie graag ’n goeie bak- en koekversieringskursus wil bywoon, hou die bakkery haar nie net besig nie, maar ook baie gelukkig.
“Dit is vir my baie lekker om koeke te bak en veral om te versier,” het Scholtz gesê.
Met geen formele opleiding nie, het sy haarself meeste van die versier- en fondanttegnieke self geleer.
“Ek is ’n ywerige ‘Googler’ en die internet is ’n wonderlike hulpmiddel. Mens kan alles daar leer.”
Kliënte stuur vir haar ’n foto of ’n skets van die koek wat hulle graag wil hê, sy kyk daarna en maak veranderinge as dit nodig is, en dan begin sy bak.
“Daar was een keer ’n vrou wat vir my ’n foto van ’n koek gewys het wat sy by ’n troue geneem het. Sy wou weet of ek dieselfde koek vir haar troue kan maak. Heel toevallig was dié troukoek een wat ek self gebak het,” vertel sy met ’n glimlag. Hoewel sy bereid is om haar ­skeppings te koerier, verkies sy dat kliënte die koek by haar afhaal en vervoer tot waar hulle dit wil hê.
“Die heel eerste keer wat ek ’n ‘topsy turvy’-koek gebak het, het dit ­middernag omgeval. Ek moes daardie tyd van die nag van voor begin, want al my koeke word die aand voor ­aflewering vars gebak en versier.”
Sy het al ’n paar uitdagings gehad, soos byvoorbeeld ’n troukoek wat uit tien koeke bestaan het wat op mekaar gestapel moes word, of die lewensgrootte kitaar wat sy vir ’n verjaardag moes bak.
Scholtz aanvaar bestellings soos sy tyd het.
“Dit is nie my werk nie en ek kan net ná my gewone werksdag bak. Dit moet vir my lekker bly. Dus, as ek nie tyd het nie, sal ek nie ’n bestelling aanvaar nie,” het Scholtz gesê.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!