Tsumeb Gim laat Goliat val

Rugby
Andrew Poolman
Andrew Poolman - Rubicon Tsumeb Gimnasium het Saterdag ondubbelsinnig gewys hoekom hy die voorloper in die Momentum o.19 premierliga is, toe hy die Schoemans-groep Windhoek Gimnasium 'n oortuigende pak slae op Tsumeb gegee.

Die noordeskool, met skaars twee dosyn senior spelers, het sy vasberadenheid en dissipline bewys toe hy die Windhoekers se onoorwonne seisoen met 'n wentelling van 43-25 bederf het. Dit is Tsumeb se eerste oorwinning in die geskiedenis teen die Windhoekse spogskool se eerste span.

Die Leeus het hul rieme styf vasgeloop en het vergeefs gesoek na teenvoeters vir Tsumeb Gimnasium se voorspeler-aanvalle en giftige agterlyn. Rustyd wwas hulle met 18-24 agter.

Windhoek Gimnasium se afrigter, Jaco Engels, sê dit het maar moeilik gegaan.

“Ons seuns het 'n lang tyd geneem om in die wedstryd te kom. Balbesit was baie skaars, maar alle krediet aan Tsumeb wat hul balbesit baie goed beskerm het.

“Tsumeb het gedissiplineerd by hul wedstrydplan en taktiek gehou. Hulle het bitter min foute begaan en het hul swaar agttal doeltreffend gebruik.

“Ons het 'n moeilike week van wegwedstryde agter die blad (hulle was vier dae tevore op Stampriet om teen Elnatan te speel) en sal maar seer lywe hê vir die komende dae. Maar ons kultuur is sterk en die Leeus sal opstaan.”

Sy eweknie by Tsumeb, Wouter Niehaus, sê: “Dit was 'n harde wipplankwedstryd tot so tien minute ná rustyd. Toe het ons voorspelers fisiek die oorhand begin kry.

“Toe ons agterlyn die bal op die voorvoet kry, het hulle 'n paar baie aan­skoulike agterlyndrieë gaan druk.

“Windhoek Gimnasium bly egter 'n gevaarlike span wat enduit hard bly speel het. Hulle het ook die laaste drie van die wedstryd gedruk.”

Tsumeb Gimnasium het sewe drieë ingeryg – deur die sesflank Frikkie Engelbrecht, haker Frederich Grobbelaar, stut Berndt Beddies, slot IJ Grobbelaar, losskakel Bothma Keyser en linkervleuel Zander du Plessis (2). Keyser het vier keer verdoel.

Windhoek Gimnasium het drie drieë gedruk, naamlik deur agtsteman André van der Merwe, heelagter Aiden Louw en senter Kieron Diergaardt. Losskakel Cornez Liebenberg het twee verdoel en ook twee strafdoele oorgeklits.

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer