Tsumeb, SDFN en NHAG werk saam
Tsumeb, SDFN en NHAG werk saam

Tsumeb, SDFN en NHAG werk saam

Die vennootskap sal verblyfreg, basiese dienste en ordentlike skuiling vir lae-inkomste-inwoners in die dorp help verseker.
Tanja Bause
Enzo Amuele op Tsumeb

’n Memorandum van verstandhouding (MoU) is onlangs tussen die Tsumeb-munisipaliteit, die Shack Dwellers Federation of Namibia (SFDN) en die Namibia Housing Action Group (NHAG) onderteken.

Die ooreenkoms is aangegaan om meer laekostebehuising vir Saamstaan-huise agter Agra te bou en die informele nedersetting Kuvikiland op te gradeer.

Die SDFN is ’n netwerk van reddingsgroepe vir informele nedersettings, gehuurde kamers, plakkershuise en hawelose mense wat aan die Shack Dwellers International-netwerk gekoppel is, terwyl die Namibia Housing Action Group ’n niewinsgewende organisasie is wat as ’n trust gestig is om die SDFN te ondersteun.

Volgens Tsumeb se burgemeester, mnr. Mathews Hangula, laat die ooreenkoms hulle toe om as vennote saam te werk om verblyfreg, basiese dienste en ordentlike skuiling vir lae-inkomste-inwoners op Tsumeb te help verseker.

Hangula het gesê die munisipaliteit verbind hom tot ’n konstruktiewe en gesamentlike vennootskap vir bestaande en deurlopende projekte, en ook om meer grondleweringsprojekte aan te pak, terwyl seker gemaak word die gemeenskap is deel van elke ontwikkelingsproses en verstaan elke stap.

“Die hoofdoelwit van ons vennootskap is om mense op voetsoolvlak toe te laat om ’n plaaslike owerheid te ontwikkel en om ’n omvattende en volhoubare proses te implementeer om gemeenskapsgedrewe grond- en skuilingontwikkelingsprosesse te verbeter,” het hy gesê.

Deur hierdie metode sal ons vir lae-inkomste-inwoners bekostigbare verblyfsekuriteit, toegang tot basiese dienste en ordentlike skuiling kan gee deur die SDFN se spaargeld,” sê hy.

Hangula het gesê nog ’n doelwit is om ’n leeromgewing te skep terwyl hierdie strategieë vir Tsumeb geïmplementeer word om deel te vorm van die inklusiewe stedelike ontwikkelingsproses.

“As munisipale raad het ons reeds begin, maar ons moet vorendag beweeg met meer gemeenskapsgedrewe grond- en behuisingsinisiatiewe gebaseer op dié tipe vennootskappe,” het hy gesê.

Die NHAG se direkteur, me. Anna Muller, het gesê die ooreenkoms moet ’n verandering in mense se lewens bring en nie net ’n papier wees wat in die laaie van die munisipaliteit en NHAG versteek bly nie.

“Die SDFN-lede het meer as 200 huise gebou, meer grond is onlangs toegeken en meer as 2 300 huishoudings in Kuvukiland is besig om voorberei te word vir opgradering. Dié ooreenkoms baan die weg vir versnelling na ’n inkrementele ontwikkeling wat alle plakkerbewoners en lae-inkomstegesinne sal help om verblyfreg, dienste en ordentlike skuiling te verseker,” sê sy.

Me. Juliana Somses, ’n lid van die SDFN, sê die lede wag al baie jare vir die dokument om onderteken te word en daarom moet die ooreenkoms hulle help om saam te werk om al die lae-inkomstegemeenskappe op Tsumeb te bereik. - [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-12-28

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 20° | 32° Eenhana: 20° | 24° Oshakati: 21° | 27° Ruacana: 21° | 27° Tsumeb: 21° | 27° Otjiwarongo: 20° | 30° Omaruru: 20° | 32° Windhoek: 19° | 32° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 16° | 22° Swakopmund: 16° | 18° Walvis Bay: 17° | 24° Rehoboth: 19° | 33° Mariental: 22° | 35° Keetmanshoop: 19° | 35° Aranos: 23° | 35° Lüderitz: 14° | 27° Ariamsvlei: 21° | 35° Oranjemund: 13° | 26° Luanda: 26° | 27° Gaborone: 19° | 33° Lubumbashi: 16° | 31° Mbabane: 19° | 27° Maseru: 18° | 30° Antananarivo: 16° | 25° Lilongwe: 20° | 32° Maputo: 23° | 33° Windhoek: 19° | 32° Cape Town: 19° | 25° Durban: 21° | 27° Johannesburg: 17° | 27° Dar es Salaam: 27° | 32° Lusaka: 18° | 32° Harare: 19° | 29° #REF! #REF!