Tuindorp se raadslede bly geskors
Die hoërhof het beslis die geskorste raadslede kan nie 'n aansoek voor die hof bring nie aangesien hulle weens die skorsing van hul magte onthef is.
Marc Springer – Sewe voormalige lede van die stadsraad op Okahandja se skorsing sal nie opgehef word nie nadat hul hoërhofaansoek vir hul heraanstelling van die hand gewys is.
Waarnemende regter Kobus Miller het Vrydag in die hoërhof in Windhoek in sy uitspraak gesê die applikante het geen gesag gehad om 'n regsgeding vir óf namens die stadsraad van Okahandja aanhangig te maak nie, aangesien hul skorsing op 16 Maart 2020 hulle van alle magte, funksies en pligte as raadslede ontneem het.
Miller voer aan die klaagsters moes hul aansoek in hul persoonlike hoedanighede gebring het, aangesien daar geen resolusie was wat getuies gemagtig het om namens die stadsraad 'n regsgeding aanhangig te maak nie.
Met hierdie beslissing het die regter 'n punt gehandhaaf wat deur die voormalige minister van stedelike en landelike ontwikkeling, dr. Peya Mushelenga, geopper is en die aansoek op grond hiervan van die hand gewys sonder om die meriete van die saak te bespreek.
Mushelenga het opdrag gegee die applikante, mnre. Johannes Hindjou, Gideon Uwu-Khaeb, mee. Hileni Iita, Helmi Maruru, Sophia Upithe (almal Swapo), mnr. Frederick Shimanda (UDF) en me. Sylvia Karuombe (PDM) moet geskors word en gesê hulle is nie toegerus vir die taak wat aan hulle toevertrou is nie.
Volgens hom het die lede die bestaande regulasies verontagsaam, was nie deursigtig in hul besluitneming nie en het hulle die munisipaliteit se geld op 'n onverskillige manier hanteer.
Mushelenga het een van sy amptenare, mnr. Linus // Garoëb, aangestel om die raad se sake in 'n waarnemende hoedanigheid te hanteer.
VOORGANGERS SE SKULD
Die geskorste raadslede het teen die besluit betoog en voer aan dat hulle eers in Desember 2015 aangestel is en hulle nou gestraf word vir hul voorgangers se mislukkings.
Volgens hulle is dit duidelik sigbaar in 'n ondersoek wat deur die ministerie gedoen is en tot die gevolgtrekking gekom het dat die voormalige raad twyfelagtige grondtransaksies goedgekeur het, versuim het om uitstaande skuld vir munisipale dienste in te vorder, die dorp se eiendom onwettig verkoop het en beheer oor munisipale finansies verloor het.
Die aansoekers beweer hulle het die ministerie se hulp gevra om die beweerde wanbestuur van die vorige raad reg te stel en het beduidende vordering gemaak om die situasie die hoof te bied.
As gevolg van hul pogings, is 'n nuwe finansiële bestuurstelsel glo geïmplementeer en uitstaande skuld aansienlik verminder.
Verder wys hulle daarop dat 'n moratorium van drie jaar op alle grondverkope in Okahandja geplaas is om sodoende 'n verlenging te voorkom van die chaos wat voorheen geheers het.
Die aansoekers het ook gewys op 'n onafhanklike konsultant wat die verbeterings op en regstelling van hul voorgangers se wanbestuur bevestig het.
Die konsultant het glo 'n vorderingsverslag opgestel en dit aan die minister voorgelê, maar hy het skynbaar nooit die dokument bestudeer nie.
Die voormalige raadslede beweer daarom dat Mushelenga tot die verkeerde gevolgtrekking gekom het en onder die indruk is dat hulle niks gedoen het om die situasie te beredder of die voorskrifte, wat deur die ministerie gegee is, in werking gestel het nie.
Dit het volgens die aansoekers gelei tot die onregverdige skorsing sonder die geleentheid om hul kant van die saak te stel.
Die aansoekers is deur mnr. Silas-Kishi Shakumu van Kishi Shakumu & Co. Inc verteenwoordig en die respondente deur mnr. Chipo Machaka van die kantoor van die regsadvokaat.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie