Turbulente tye vir Air Nam
Turbulente tye vir Air Nam

Turbulente tye vir Air Nam

Die nasionale redery sê die uitdagings wat hy tans beleef, is normale praktyk.
Catherine Sasman
Catherine Sasman - Air Namibia sê die operasionele uitdagings wat hy tans beleef is te wyte aan die swak ekonomiese omstandighede wat alle regeringsinstellings raak en hou vol sake gaan soos normaalweg voort.

Die nasionale redery ontken nie dat hy die laaste twee maande sy sowat 700 werknemers se pensioenbydraes van tussen N$3 en N$4 miljoen nie aan die administrateur Alexander Forbes oorbetaal het nie.

Hy ontken ook nie inligting deur bronne dat vlieëniers nie meer reis- en verblyftoelaes ontvang nie.

“Hierdie is moeilike en uitdagende tye; nie net vir Air Namibia nie, maar vir die hele land. Die regering het ook uitdagings, insluitend die druk weens die droogte wat ons beleef,” was al wat die redery se woordvoerder, mnr. Paul Nakawa, in reaksie op vrae hieroor wou sê.

VLIEGTUIE

Ingeligte bronne het aan Republikein gesê Air Namibia sukkel om sy vliegtuie in die lug te hou. Hulle beweer net vyf van die redery se vloot van 10 vliegtuie is tans in gebruik, terwyl die ander weens tegniese probleme nie in gebruik is nie.

Nakawa sê sewe van die 10 vliegtuie is in ‘n bruikbare toestand. Volgens hom ondergaan twee van die Airbus A319’s en een van die Embraer ERJ 135’s geskeduleerde instandhoudingswerk. Hy sê een van die A319’s ondergaan ‘n sogenaamde C-diens in Siprus en kan dus nie gebruik word nie.

‘n C-diens word elke 20 tot 24 maande gedoen of ná ‘n sekere aantal vliegure soos deur die vervaardiger bepaal word. Dit is ‘n meer volledige en uitgebreide diens as die B-diens en vereis dat ‘n groot deel van die vlietuig se onderdele en komponente ondersoek word, verduidelik hy.

Volgens hom is die vertraging in die herstel van die vliegtuie te wyte aan die beskikbaarheid van sekere onderdele wat ’n geruime tyd neem om te lewer. Nakawa sê die werk is egter nou afgehandel en die vliegtuig sal teruggestuur word sodra dit afgeteken is.

Die ander A319, sê hy, is in Johannesburg gediens en ook daar was vertragings aangesien ‘n sekere onderdeel bekom moes word.

“Tussendeur het ons een of twee ander vliegtuie gehad wat vir kort tydperke (een tot drie dae) nie in gebruik was nie weens tegniese probleme. Daardie vliegtuie is terug in gebruik sodra die foute herstel is. Dit is deurlopende en normale praktyk,” het Nakawa gesê.

Hy het beweringe ontken dat een van die A319’s wat glo ‘n fout het en as ‘n sogenaamde “geen vlug-item” beskou word, steeds in bedryf is.

“Ons vlieg in ooreenstemming met regulasies wat die veiligheid van ons passasiers, werknemers en die algemene publiek verseker en dit kan onder geen omstandighede in die gedrang gebring word nie. Jou bron se inligting is vals en kwaadwillig,” het Nakawa gesê.

Hy het ook beweringe deur ingeligte bronne ontken wat aanvoer een van die Embraers in die vliegtuiglooss word vir onderdele vir die ander Embraers gebruik. Air Namibia huur die Embraers in sy vloot en is nie die eienaar daarvan nie.

Verder word aangevoer een van die twee Airbus A330-vliegtuie wat op die Windhoek-Frankfurt-roete gebruik word, staan met ‘n stukkende voorruit by die Internasionale Lughawe Hosea Kutako.

Nakawa het erken die ruit is vanweë ‘n “verhittingsprobleem” beskadig en moet vervang word.

Hy sê die ruit is uit Europa bestel en moes in Johannesburg ingesit word. Volgens hom sou dit die afgelope Maandag herstel word en weer in gebruik gewees het.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!