Turkse 'mafia' glo in Suid-Afrika bedrywig
Turkse 'mafia' glo in Suid-Afrika bedrywig

Turkse 'mafia' glo in Suid-Afrika bedrywig

Wapenvervaardiger in Pretoria glo gekoop
Francoise Steynberg
Erika Gibson



Turke wat deur hul land gesoek word weens beweerde terro­risme, het glo 'n wapenvervaardiger noord van Pretoria gekoop - sonder dat die Suid-Afrikaanse ­owerhede dit besef het.

Jeff Radebe, minister in die presidensie en voorsitter van die nasionale komitee oor die beheer van konvensionele wapens (NCACC), sê die wapenvervaardiger Milkor is by die komitee geregistreer, maar hulle was nie bewus van die Turke se betrokkenheid nie.

Milkor Armoured Vehicles, nog 'n maatskappy waarby die Turke betrokke is, is nie by die NCACC geregistreer nie, sê Radebe.

Hulle moet daar geregistreer wees om bemarkingspermitte te kry. Tog bemark die maatskappy die voertuie op sy webblad. Die Turke het nie op vrae hieroor gereageer nie.

Die nasionale vervolgingsgesag (NVG) se eenheid vir prioriteitslitigasie, wat misdrywe teen die staat ondersoek, is volgens hul woordvoerder, Luvuyo Mfaku, bewus van die bewerings.

“Die Valke sal met enige ondersoek help,” sê Mfaku.

Die regeringsgesinde Daily Sabah, in Turkye, het berig voortvlugtiges het Suid-Afrika 'n geraamde US$500 miljoen binnegesmokkel. Die berig sê egter niks van die wapenvervaardiger nie.

Pres. Recep Tayyip Erdogan beskuldig sedert 'n mislukte staatsgreeppoging verlede jaar derduisende mense van misdade. Nagenoeg 16 000 mense word al aangehou as beweerde simpatiseerders van die geestelike Fethullah Gülen, wat in die VSA is.

Kaan Esener, Turkye se voormalige ambassadeur in Suid-Afrika en Turkse adjunkminister van buitelandse sake, het aan die Daily ­Sabah gesê Ali Katircioglu, Levent Senol, Vuslat Bayoglu en Semsettin Caliskan – prominente sakemanne wat al 'n geruime tyd in Suid-Afrika woon – is voortvlugtiges.



'FRONT VIR VERDAGTE ­TRANSAKSIES'

Volgens berigte gebruik dié sakemanne volgens Esener die Suid-Afrikaanse Turkse sakevereniging (Satba) as 'n front vir verdagte transaksies.

Satba ontken dié bewerings en sê die sakelui en die vereniging is magteloos om hulle in 'n hof te verweer as sulke stellings deur pro- Turkse regeringsinstellings gemaak word, omdat 'n noodtoestand in dié land geld.

“Tot ses maande gelede het die Turkse ambassade sakenavrae na Satba verwys, en die ambassadeur was gereeld ons gas en ons syne,” sê Bayoglu.

Die verhoudinge het duidelik versuur, want 'n Turkse diplomaat in Suid-Afrika beweer die sakemanne is deel van 'n intelligensienetwerk in Suid-Afrika.

“Ons reken daar het sedert verlede jaar se mislukte staatsgreep (waarvoor die Feto-organisasie die skuld kry) sowat 2 000 van hulle by die gevestigde Turkse netwerk in Suid-Afrika aangesluit. Baie het die land onwettig betree.”

Bayoglu is die direkteur van ver­skeie steenkoolmynmaatskappye. Sy broer, Serhat, tesame met Raci Yetis, is direkteure van 'n beleggingsmaatskappy wat Milkor verlede jaar saam met Suid-Afrikaanse SEB-vennote gekoop het. Serhat Bayoglu en Yetis is Turkse burgers.

Milkor het ook die wapentuigvervaardiger N4/Panzer oorgeneem, en dis dié maatskappy wat nou Milkor Armoured Vehicles heet.

Volgens die diplomaat wek die betrokkenheid van dié groep by die vervaardiging van wapens “ernstige kommer”.

Emma Sadleir, 'n regsadviseur wat namens Vuslat Bayoglu optree, sê haar kliënt is “verras” oor die “valse aantygings” in Turkye.

“Ons kliënt het nog nooit van die Feto-organisasie gehoor nie. Ons kliënt verwerp terrorisme,” het Sadleir gesê.

Bayoglu was voorheen al omstrede. Hy is hof toe gesleep omdat hy glo 'n direkteur van die steenkoolmaat­skappy Umthombo Resources in die maatskappyregister laat vervang het en só die maatskappy “gekaap” het.

Hy sê die saak is buite die hof geskik, en volgens hom is Milkor sy broer se onderneming, maar werkers sê hý spreek hulle as nuwe eienaar toe.

Hy kon die beskuldigings van die voormalige ambassadeur nie verklaar nie, “want die ambassadeur ken my”.

– Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!