Turkye sal net chaos in streek verder aanhelp
Leopold Scholtz
Verlede week se presidents- en parlementêre verkiesing in Turkye kan bydra tot die glybaan na ’n chaos waarin ’n groot deel van die Midde-Ooste reeds betrokke is.
Die populistiese pres. Reçep Tayyip Erdogan het ’n nuwe termyn as uitvoerende staatshoof met 52,5% van die stemme gewen.
Sy party se steun het egter vergeleke met die vorige verkiesing van 2015 met 7 persentasiepunte tot 42,5% gekrimp, wat beteken dat hy nie ’n meerderheid in die parlement het nie.
Onder Erdogan se heerskappy het Turkye die laaste jare van ’n sekulêr-liberale demokrasie gedegenereer tot ’n taamlik Islamities-fundamentalistiese illiberale demokrasie.
NOODTOESTAND
Die verkiesing, volgens internasionale waarnemers, was ver van vry en regverdig. Dit het plaasgevind onder ’n noodtoestand wat in 2016 uitgeroep is ná ’n mislukte staatsgreep, wat aan hom die ekskuus gegee het om duisende politieke opponente in die tronk te smyt en nog duisende amptenare, onderwysers, polisielede en soldate wie se lojaliteit aan hom twyfelagtig was, af te dank.
Koerante en ander nuusmedia is eenvoudig hardhandig oorgeneem en verkondig Erdogan se boodskap sedertdien onbeskaamd.
Hy het verlede jaar, eweneens ná ’n veldtog waarin die opposisie nie ’n eerlike kans gegun is nie, ’n referendum gewen wat hom die toestemming gegee het om byna diktatoriale magte aan homself toe te ken.
Erdogan is ’n tipiese nasionalistiese populis. In sy toesprake hekel hy gereeld die ou establishment as korrup en on-Turks. Hy hou homself voor as ál mens wat Turkye van ondergang kan red, en beloof om die Turkse prestige van die verlede te herstel.
SPANNING OPJAAG
Die inperk van die demokratiese vryhede is een ding, maar Erdogan voer ook ’n buitelandse beleid wat die spanning in die streek opjaag.
Aan die een kant behou hy hom die reg voor om voortdurend militêre invalle oor die grens in Sirië en Irak agter Koerdiese vegters aan te doen. Die Koerde is ’n minderheidsvolk wat verspreid in die grensgebied van Turkye, Sirië, Irak en Iran woon en wat ’n eie staat nastreef – volgens Erdogan heiligskennis.
’n Tweede aspek is dat hy sy land se vriendelike betrekkinge met Israel bruut verbreek het. Naas Sirië en Iran tree Turkye toenemend na vore as een van die grootste bedreigings vir Israel se veiligheid.
Ten derde beweeg Erdogan in ’n rigting wat, as dit voortgesit word, binne afsienbare tyd tot ’n breuk tussen Turkye en Navo kan lei. Hy skel Europa dikwels in skerp taal uit.
Dalk kan hy vorentoe beter met pres. Donald Trump oor die weg kom. Trump het Erdogan gebel om hom met sy oorwinning geluk te wens, en die twee het ooreengekom om hul bilaterale verdedigingsbande te verbeter.
Nogtans kan die wêreld nie veel goed van Erdogan se oorwinning verwag nie. - Netwerk24
* Dr. Scholtz is 'n politieke ontleder wat in Nederland woon.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie