Tussen die eie lyf se piep en die land se griep
Tussen die eie lyf se piep en die land se griep

Tussen die eie lyf se piep en die land se griep

Dani Booysen
Passeerde Saterdagaand laat begin die lug onverwags koulik deur die vensters van die Kaia des Boois daar in Cimbebasia stoot.

“Rehoboth-Noord,” soos sommige spot . . .

Nie net kortstondig omdat die Blou Bulle so hittete teen die Wiepie verloor het nie.

Teen Sondag, toe die windjie kompleet so koud en skraal soos in Eugène Marais se “Winternag” aanhou druk, word Dappererige Daniëltjie wakker met die eerste krapperigheid van 'n seer keel. Wat teen Maandag in die snotterigheid van 'n sekere griep omsit.

En siekte is vir Daniël se moedigheid nie goeie medisyne nie. Eerder verskaf dit dosisse moerigheid vir Daantjie Donderbos . . .

By die werk seg Ettienne sy keel is ook seer. Maar hy reken dis van die stof. Wat genadiglik sedert Maandag in baie dele van die land gebreek is.

Vir die brose ekonomie ongelukkig nog nie. Nog lank nie.

“Wat noem mens dit nou weer wanneer jy siek word oor iemand anders se kwale of uit simpatie met 'n persoon of saak?” roep Donderbos om Vroutjie Josie se hulp.

“Matraskoors?”

“Arrrrrrggggg. Moenie 'n olike Donderbos se takhare trek nie.

“Beslis nie 'n simpatieswangerskap nie, want wat die ekonomie gaan baar soos hy nou lyk, weet nugter,” grom Daantjie.

“Empatiekoors,” besluit ons saam nadat ons op empatiesiekte afgekom het.

Die holrug as Suid-Afrika nies, kry ons die snotsiekte daar gelaat.

Die epidemie het verskeie, bykomende oorsake.

Al van voor Oktober 2016, langer as twee jaar, waai die winde van knyp stywer om die nasionale longe.

Grootindoena sê dis na sy mening die ergste sedert 1973 se oliekrisis. Nie so erg soos die Groot Griep, Groot Oorloë of die Groot Depressie nie – maar groot. En beslis g'n grap nie.

Miskien, tob Donderbos, het die bloei (beide betekenisse met aspressie en sonder aspirien bedoel) van 'n oorlogsekonomie en toe 'n nuwe vryheidsekonomie ons nou finaal begin inhaal?

Hoeveel geld regtig (minus gepubliseerde en ongepubliseerde kommissieverslae en ander ondersoeke) reeds bevry is, sal ons dalk nooit weet nie.

Oor ekonomie is Donderbos maar 'n barbaar. Daai kuns en kundigheid is Vroutjie Josie s'n.

Maar die “Seg maar net” is hopelik geen blinde flu-skoot nie . . .

Huidige, eie piep se simptome verskiet in onbelang teen die land se griep:

- Ontelbare besighede oorverhit met koors.

- Wisselkoerse en kommoditeitspryse se bewerasies help nie.

- Baie bedrywe se rillings is kort duskant die horries.

- Die skorhees stemme voel hulle word nie gehoor.

- Spierpyne verlam dié wat nog kan. Of wil.

- Kopsere sonder selfs die gewone Panado's by die spreekwoordelike staatshospitaal.

- Moegheid wat aan doodsheid grens.

- Opgooi en diarree: werksge­leenthede, belastings, winste, vertroue. . .

(Deel die res van jou lysie maar met jou huisarts.)

Of nog 'n paar inspuitings van taks ons van longontsteking en ander, erger dinge gaan weghou? Laat lesers en ekonome maar oordeel.

Oor grond het onse konferensie talle goeie besluite geneem, maar die ekonomie kan nie nog grondgriep ook kry nie!

En van die nuwe wetsmedisyne wat nou vir onderwys voorgeskryf word, is gewoon gif. Maar laat Dapper op 'n ander keer daaroor sy dondereier lê.

Min siektes is ongeneeslik. Maar waaragtig het ons nou sterk poeiers, pleisters, rate, kruie, salwe, olies, soute, strope, pille, doepas en druppels nodig. Voor meer steke, spalke, groooot operasies, rolstoele en krukke nodig raak.

Dop en dam kan dit net só lank vir die gegoedes en die armgatte doen.

Wondermiddels is nodig voor die kragteloosheid ons oorweldig. Maar die dokters se name bly . . . onseker.

“Na die X-straalkamer. Hoop net die masjien werk . . .”

Kyk, die geniale Marais – met wie die uwe homself nooit eers in sy dapperste bravade sal vergelyk nie, was glo ook nie juis 'n baie opgeruimde kêrel nie.

Dog, soos die termiete sal ons almal saam baie versigtiger aan onse een nes moet bou. Daai een wat volgens Hage plek vir elke reënboogmier het.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!