Tussen druppels, parfuum en kimono’s

Lloyd Zandberg
Daar’s ‘n soort nostalgie in die lug as dit liggies reën. Maak nie saak waar jy is nie, maar somerreën in Windhoek neem daai vlak van nostalgie een stappie verder - dit bring krag en hoop.

So sit ek ‘n wyle gelede onder ‘n groen sambreel wat sukkel om die wolke se katspoegie uit te hou. Groot, swaar en bonkige druppels sif deur die materiaal, val op my notaboek en in my groentee in. Ek weet ek is vroeg, maar ek haat dit om laat te wees. Ek bestel nog tee.

Sy behoort nounou hier te wees. Dit is ook maar goed so, dit gee my kans om te dink. Doef, val nog ‘n druppel op my. Hierdie keer op my neus. Sluk. Dink. Hier kom sy.

Oor seker die enigste smaraggroen grasperk in Windhoek sweef 'n vrou verby die kelnerin met die gekoopte hare. Ek hoor sy vra haar iets oor ‘n onderhoud en die koerant. Albei kyk in my rigting. Ek staan op.

“Are you my guy?” vra Lize.

Ek ruik haar parfuum.

“I could be, maar ek is skaam,” probeer ek ‘n grappie maak. Sy giggel saggies.

“Ek wil asseblief tee hê. Groen. Of ment. Ek sit by sy tafel,” sê Lize.

Lize trek haar toppie reg en sê sy’t ‘n baie besige dag wat voorlê.

“My man verjaar vandag. En hy is my beste vriend. Hy is my person! En ons moet nog die balloons opblaas,” sê sy opgewonde.

Lize Ehlers. Magtig. Vandat ek in mediakringe aflosse hardloop, sien ek haar gereeld. As ek die draadloos opdraai, hoor ek haar stem. In ons susterkoerante pronk sy op elke binneblad. Lize het feitlik geen bekendstelling nodig nie, maar net om jou geheue te verfris, vertel ek kortliks.

Hierdie passievolle Namibiese sanger, liedjieskrywer, aktrise, digter, agent, musikale regisseur, vervaardiger, fasiliteerder en moeder van die gewilde Song Night, spog met verskeie Nama-toekennings en was in 2013 Namibië se Ambassadeur van die Kunste.

Verder het sy in 2007 die Namibian Theatre and Film Awards (NTFA) se Beste Aktrise-toekenning vir haar eenvrouvertoning Leah B ontvang, en in 2017 ontvang sy dieselfde toekenning vir Meisie Van Mariental.

Lize Ehlers is boonop die ma van vier kinders, vrou van ‘n humanis (sê sy) en ’n passievolle sanger. Ek gooi komplimente soos konfetti by 'n troue rond.

“Baie dankie. Jy laat my goed voel. Ek is eintlik maar net ‘n plain girl met ‘n groot smile en passion. As die ligte afgaan, is ek net soos die res van ons.”

Sy sê dit is juis wanneer toekennings en prestasies van jou af weggeneem word, wat jy die mens is wat jy regtig is.

“My grootste verantwoordelikheid is om die beste ma en vrou vir my gesin te wees. Dit is sonder enige twyfel ‘n enorme seën vir my. Musiek is deel van my bestaan, maar dit is hulle wat my inspireer en my dryfkrag agter elke projek is,” sê sy.

Sy glimlag breed toe ‘n druppel op haar neus val. Ons albei besluit ons mag nie kla nie, reën is heerlik.

“My leuse is om dinge altyd met ‘n oop kop te benader, om hard te werk en die gemeenskap ten volle te ondersteun met wat ek het. As my dagboek oorloop van al die afsprake, onthou ek my leuse en dan weet ek ek sal die pad nie byster raak nie. Wanneer ek en my gesin en my geliefdes gesond, gelukkig en tevrede is, kan ek oor niks kla nie. Selfs nie die grootste of beste show klop daai gevoel nie. Maar ek raak soos ’n bul wat rooi sien wanneer ek vir lank nie op die verhoog is nie. Dis waar ek ontlaai.”

Liza het dit nie altyd maklik gehad nie. Dis net harde werk en deursettingsvermoë wat haar gekry het waar sy vandag is.

“My musiek en lewe as aktrise het ‘n direkte invloed op mekaar. Die een maak my ‘n beter sanger en die ander maak my ‘n beter aktrise. Albei is my blessing en my curse. Maar ek is lief vir wat ek doen. En deur my lewenservaringe kan ek lirieke skryf wat hopelik iemand anders se lewe kan verander.

“‘n Vriendin het my onlangs gebel en gesê een van my liedjies het haar laat opstaan. Sou wou nie meer nie en toe hoor sy die lirieke en toe verander dit haar lewe. En daardeur verander my lewe.”

Doen jy wat jy nog altyd wou doen?

Musiek en toneel speel is in my bloed. Ek het altyd half gesmile en half gehuil so mooi het my ma in die kerk gesing. En dan het my pa altyd my broer Desmond gevra om die keyboard te speel sodat ek moet sing. My gunstelingvakke op skool was altyd sang of koor en tale, want in tale kon ons voorlees en toneel speel. En toe gaan ek vir ek vocal lessons by Windhoek Singing Academy en Windhoek School of Singing en Trinity in Londen. Die res is geskiedenis. Ná vier albums, verskeie enkelsnitte en duisende optredes is dit ’n eer om my droom uit te leef. Maar dis eerlikwaar my grootste passie om die kunsgemeenskap te sien groei. Ons as kunstenaars het ’n verantwoordelikheid om in die gemeenskap terug te ploeg.

Met watter projekte is jy tans besig?

Ek en DJ Alu is besig om ons nuutste enkelsnit, “Kudos”, op YouTube te promote en ons gaan dit binnekort na internasionale TV-stasies stuur. “Kudos” vier Namibiërs wat nie hul drome opgee nie en die doel daarvan is om mense aan te moedig om nooit tou op te gooi nie. Ek is ook hard besig met die Song Night Windhoek February Love Movement-konsert, wat Woensdag 28 Februarie by Imagine Games Café gaan plaasvind. Daar’s ook talle ander produksies wat kom met fantastiese kreatiewe Namibiërs soos Adriano Visagie, Zellmari Brandt en Sandy Rudd.

Wat is die een ding wat mense nie van jou verwag nie?

Mense dink altyd ek is ‘n diva oor my rol in Trustco Star Performer op TV destyds baie straightforward was, maar ek is nie ‘n diva nie. Ek is Suide-vroutjie met haar voete plat op die aarde, maar ek sal jou steeds op die gaafste manier moontlik die waarheid in jou gesig vertel. Baie mense weet seker ook nie dat ek al twee boeke geskryf het nie. Een is SMS, saam met my man, Hendrik. Die ander een is Flitse van haar Glimlag wat opgedra is aan my ma, Catherine Kubersky.

As jy nie ‘n vermaakkunstenaar was nie, wat sou jy wees?

’n Professionele tafeltennisspeler. Ek was nog altyd mal daaroor en sal altyd wees.

Wat maak jou kwaad?

Tweegesigte. As jy nie iets goeds of moois kan sê nie, bly liewer net stil. Ek het reeds talle mense uit my lewe gesny, want genoeg is genoeg.

Is jy ambisieus?

My pa het altyd gesê “you can sleep when you die”. Dit het my altyd laat glo ek het bitter min tyd om ’n verskil te maak. Ek slaap nou deesdae meer ná ek in 2016 uitgebrand het, maar my leuse bly “just show up” en dit het my al soveel keer gered.

Wie is Lize Ehlers by die huis?

Ek ly aan kroniese moegheid, maar dit het my nog nooit gekeer om deur te druk nie. So, by die huis sal jy my in een van my talle kimono’s vind, besig om ’n boek in my hangmat te lees of waar ek in die bed vir die kinders stories lees. Ek’s ook lief vir kosmaak en verf en jy sal sien my huis is ’n groot kunsgalery te danke aan my man, wat ’n versamelaar en handelaar is. Tyd by die huis is alles - sonopkomste en sonsondergange, lag en harde musiek, kos, bordspeletjies en die jacuzzi.

Wat is jou gunstelingproduksie waarin jy was?

Ek was mal daaroor om in Jacques Brel is Alive and Well te wees. Ons het sopas ons kustoer van die kabaret voltooi en die emosies, musiek en dans het my elke keer na ’n plek van emosionele vryheid weggevoer. Maar The Umbilical Cord in Grahamstown in 2009 was ook een van my gunstelingoomblikke op die verhoog. En verlede jaar se Namibië-toer met Sunny van die Suide was ’n voorreg en ’n plesier. Ek sien uit daarna om vanjaar met Song Night deur die land te toer en nuwe talent te ontdek.

Wie of wat inspireer jou?

Mense inspireer my. Goeie, gawe mense. Mense met integriteit en passie. Gewone, hardwerkende mense wat hul bes doen. Die bestuurder van ons huishouding, Hankies, inspireer my. Sy het haar kinders heeltemal op haar eie grootgemaak en sy bly snaaks, toegewyd en wonderlik. Sy doen ekstra moeite, want sy weet dis eendag haar nalatenskap.

Wat is jou wens vir Namibië?

Om van ons rommelstatus ontslae te raak. Om meer Namibiese produkte te skep wat plaaslik gevier kan word en uitgevoer kan word. Dat die wêreld hiernatoe kom vir goeie gehalte shows - ons het ongelooflike talent. Om saam te werk en magic te skep. Dat ons wêreldwyd bekend sal wees, nie net as die land met die twee oudste woestyne nie, maar dat ons ook ’n veilige, lewensveranderende vibe van gemeenskap en kreatiwiteit het.

Wat is volgende vir Lize Ehlers?

Ek is besig met my vyfde album, maar dit neem tyd en daar is nog geen vrystellingsdatum nie. Ek is ook besig met Priscilla The Namibian Desert Queen’s Love Yourself-veldtog en ons sal vir Valentynsdag op die lesbiese, gay, biseksuele, transseksuele en interseksuele (LGBTI) gemeenskap fokus. Die veldtog gaan daaroor om mense op te voed oor hoe om hulself teen boelies en haatspraak te beskerm. Dis so belangrik om jouself lief te hê - belangriker selfs as romantiese liefde. Om jouself te aanvaar soos jy is, is die dapperste ding wat jy kan doen. En dit sal ander inspireer om dieselfde te doen. So, dis waaroor Valentynsdag sal gaan.

Ek is ook ’n agent vir talentvolle kunstenaars in Windhoek en in die res van Namibië sodat ons meer plaaslike stemme op die verhoog kan kry.

Ek en my man beplan ook ons eerste opvoering saam getiteld Traumarta, waar ons trauma in kuns omskep. My man het die oorlog in Angola oorleef en ek het aanranding en verskeie ander traumas oorleef. Ons wil graag hierdie pyn in kuns omskep om onsself daarvan te bevry.

Wat is jou boodskap aan jongmense wat pas met hul vermaakloopbaan begin het?

Wees voorbereid. Om ’n droom te hê, is net die begin. Doen die stappe, doen navorsing oor jou kunsvorm en wees baie, baie goed voorbereid. Vir sangers - maak gebruik van die Song Night-platform. Dis gratis en daar’s elke eerste Woensdag van die maand oudisies by Imagine Games Café in Macadamstraat. As jy gekies word, gaan jy deur ’n mentorskapprogram en kry jy gratis opleiding. Dan skakel jy by ’n professionele band in wat jou op die laaste Woensdag van die maand sal begelei wanneer jy by Song Night sal optree voor ’n gehoor wat jou sal ondersteun.

As jy ’n opkomende komediant is, neem deel aan Free Your Mind. Opkomende digters kan Spoken Word bywoon.

Akteurs kan na die teaterskool gaan en met David Ndjavera gesels.

Daar’s verskeie platforms wat jou ondersteuning sal bied.



Wie wil jy graag ontmoet?

Ek is ’n groot Nataniël fan! Ek sal hom baie graag wil ontmoet en met hom gesels. Ek wil ook graag vir Ellen, Hugh Jackman en Benjamin Clementine ontmoet.

Is daar iets in jou lewe waaroor jy spyt is?

Niks. Ek kan in elk geval niks verander nie - ek kan net daaruit leer.

Wat is jou lewensleuse?

Just show up! Alles gebeur vir ’n rede.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!