Twaalf Dordabis-plase in puin
Weiding is oor ’n gebied van sowat 200 km by Dordabis verwoes.
Ronelle Rademeyer – “Dis nie ’n mak vuur nie. Hierdie een hardloop. Hy is wild.”
Dit is hoe dr. Johan le Roux, omgewingswetenskaplike van Windhoek, gister die weghol-veldbrand by Dordabis beskryf het waar duisende hektaar se weiveld op minstens twaalf plase verwoes is en wild soos springbokke doodgebrand het.
Hy is die eienaar van JLR Consulting en ontleed reeds vir meer as twee dekades Nasa-satellietbeelde vir veldbrandontledings en veldbrandkartering. Le Roux sê hy het Woensdag op pad terug uit die Kalahari deur Dordabis gery en besef die veldbrand wat sedert Dinsdag daar woed, is “wild”.
Volgens onbevestigde inligting is die veldbrand, wat op die plaas Hamis ontstaan het, deur ’n nalatige roker veroorsaak.
Dit het toe na die plase Blaukrans, Langbeen, Dubis-Nord Swartkoppies, Opdam, Autabib, Ibenstein, Plaas 888, Garib, Riet en Emmabron versprei. Die omtrek van die gebied langs die Schaaprivier wat verwoes is, word op sowat 200 km geraam.
Teen laat gister het dit steeds op Autabib en Ibenstein gebrand.
Videomateriaal is gedeel van vlamme in aantog na ’n plaasopstal. Die inwoners is aangesê om te ontruim.
Mnr. Harold Mouton van Mouton Farming wie se plaas Emmabron ook in die slag gebly het, het saam met mnr. Joe van der Westhuizen, ’n helikoptervlieënier by Trustco Air, oor die gebied gevlieg om strategiese inligting met spanne op die grond te deel.
Sy opdrag laatmiddag was dat hekke oopgemaak moet word sodat vee voor die vlamme kan vlug en nie doodbrand nie.
Daar is ook besluit om die oproep vir hulpverlening na die Khomas-streeksraad en die Namibië Landbou-unie (NLU) uit te brei.
Die plaas Riet het heeltemal afgebrand, is gister op die WhatsApp-groep, Veldbrande in Namibia, berig. Die groep is onlangs deur Henriette le Grange gestig om inligting oor veldbrand te deel en hulpverlening te koördineer.
’n Bus met soldate van die Namibiese Weermag (NDF) is Woensdag na die gebied gestuur om boere en hul plaaswerkers met die brandbestryding te help. ’n Sterk noordoostewind het egter pogings om die vlamme onder beheer te bring, bemoeilik.
Die veldbrand het in die rigting van Groot Aub en Rehoboth versprei.
Le Roux sê die wind het Woensdagnag wes gedraai en dit het die vuur ’n ommekaar laat maak, terug in die rigting van Dordabis.
Gistermiddag is ook vir die veiligheid van die gemeenskap by Stinkwater gevrees.
“By ons het wild soos springbokke doodgebrand. Buiten infrastruktuur soos heinings, is krale, pompe, tenks ensovoorts waarskynlik ook op van die plase vernieting,” het Mouton aan Republikein gesê kort voordat Van der Westhuizen hom opgepik het vir die helikoptervlug oor die gebied.
Die afgelope dae se weghol-veldbrand by Dordabis herinner aan die reusebrand in Julie 2006 in dié gebied toe omtrents 600 stuks kleinvee doodgebrand het, het Le Roux gesê. Hy het gister koerantknipsels van dié berigte vir Republikein aangestuur.
Le Roux se statistiek toon dit het sedert 1 April vanjaar op 214 plase in Namibië gebrand.
Vanaf die begin van Mei tot die einde van Julie was daar min dae waarop hy nie veldbrande geïdentifiseer het op die Nasa-satellietfoto’s wat hy ontleed het en op JLR Consulting se Facebook-blad gedeel het nie.
– [email protected]
FOTO’s
Teen gister het rook nog soos 'n miskombers oor die verskroeide plase by Dordabis gehang. Foto's Harold Mouton
Hoewel duisende hektaar se weiding verwoes is en wild doodgebrand het, het woonhuise nie afgebrand nie en is niemand in die veldbrande beseer nie.
So het dit teen laat gister steeds in die gebied gebrand.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie