Twaalf jaar se diens onder wees- en kwesbare kinders

Tanja Bause
Tanja Bause –Die Philadelphia-stigting vir Weeskinders is in 2004 in die lewe geroep om die lewens van wees- en kwesbare kinders in hul gemeenskappe te verbeter deur opvoedkundige en ander ondersteuning aan families en skole te bied.
Daarmee saam word die woord van God deur evangelieklubs onder kinders verkondig.
In 2005 het mee. Ellen van der Berg en Leoni du Plessis na Tjova, ’n nedersetting sowat 150 km oos van Rundu in die Kavangostreek, getrek om daar onder kinders te begin werk. “Ons is albei baie lief vir die Kavango en ons het ’n plek gesoek waar ons hulp die dringendste benodig word,” het Du Plessis gesê.
Hulle het tente in die bos opgeslaan en met hul werk begin. Deur middel van huisbesoeke het hulle vinnig wees- en kwesbare kinders geïdentifiseer en begin help. Die vroue het vier sopkombuise en twee kleuterskole gebou en onderhou, en met die bystand van borge al die skoolmeubels by die Primêre Skool Shamambungu vervang.
Op Tjova het hulle ’n gemeenskapsentrum gebou wat vandag nog deur inwoners van die omgewing gebruik word. Vrywilligers is ook opgelei om die kleuterskole te bestuur.
Ná sewe jaar se diens het Van der Berg en Du Plessis besluit om na Grootfontein te verhuis om nuwe uitdagings aan te pak.
“Toe ons op Grootfontein aangekom het, het ons op ’n groep San-mense in Blikkiesdorp afgekom en met hulle begin werk. Die San-gemeenskap is wonderlik om mee te werk omdat hulle gehelp wil word. Hulle doen baie self en sit hand by waar hulle kan,” het Van der Berg gesê.
Op Grootfontein is die vroue verantwoordelik vir twee sopkombuise wat elke dag sowat 120 kinders van kos voorsien. Meer as 200 kinders tussen 2 en 18 jaar woon twee keer ’n week die kinderklubs by waar hulle van geloof leer en die nodige aandag kry.
Hier word die kinders ook geleer hoe om tuin te maak met die doel om voedselstabiliteit te verbeter. By een van die sopkombuise is ’n tuin aangelê wat groente aan die sopkombuis voorsien.
Die stigting ondersteun op ’n gereelde basis families met wees- en kwesbare kinders deur kos, komberse en klere tot rolstoele of hulp vir bedlêende of siek mense te verskaf.
“Ons ondersteun ook ses kleuterskole in Grootfontein se informele nedersetting waar ons help met onderrighulpmiddels, leermateriaal en speelgrondtoerusting,” het Van der Berg gesê.
By die Primêre Skool Omulunga leer me. Lisette van Steijn, die derde lid van Philadelphia, drie keer ’n week vir klein groepe kinders in graad 6 hoe om te lees. Alle kinders by die skool is getoets om hulle leesvaardighede vas te stel en dié wat ekstra klasse benodig, word gehelp.
By dieselfde skool wil die stigting nou ook ’n saal bou, omdat die kinderklubgroepe al groter word. Die idee is om almal uiteindelik in die skoolsaal byeen te bring.
Die vroue besoek een keer per week die kindersaal in die staatshospitaal waar hulle met die kinders speel, vir hulle stories lees en geskenkies uitdeel.
Elke jaar reël die stigting ’n insameling van komberse wat aan tussen 200 en 500 minder bevoorregte mense geskenk word.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!