Twee dae en 'n nag in Vis se stilte

'n Alleentog, 'n nat rugsak en 'n hou teen die kop kon 'n vrou van Windhoek nie stop om die uitmergelende Visrivierstaptog te voltooi nie.
Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht - Die Visrivierstap­roete is op sy eie fisies 'n uitmergelende ervaring. Om dit die laaste twee dae stoksielalleen sonder kos en die laaste 20 km met 'n nat rugsak te voltooi, 'n heel ander storie.

Sanet Burdyn van Windhoek, 'n ervare stapper wat die Camino de Santiago reeds twee keer gestap het, moes met haar eerste ervaring op die Visrivierroete die laaste twee dae ná 'n misverstand met haar mede-stapper alleen aandurf. Sy was een van 'n groep van tien stappers, vertel Sanet. Op die eerste dag het ses lede van die groep egter weggebreek en vooruit gestap.

Sanet en drie baie goeie vriende het verder “op hul eie voortgeploeter.”

“Ons het eintlik staatgemaak op die gids wat toe net vir 20 minute by ons was. Nie een van ons vier het 'n satellietfoon of 'n ordentlike kaart by ons gehad nie,” sê sy.

Volgens haar het sy “redelik met my voete gesukkel” en op dag twee was vyf van haar toonnaels al los.

“Ek wou nie my groep ophou nie en het besluit om vooruit te stap. Ons het afgespreek om mekaar so laat op 'n sekere plek te kry, maar nou ja, toe het ons mekaar nie weer gekry nie!”

Sanet het vir sowat twee ure by die eerste beplande ontmoetingsplek gewag.

“Hulle het weer van die roete afgedwaal en geswem. Ek het ure sit en wag en begin twyfel of ek op die regte plek was.”

Sy het die twee dae en een nag op haar eie ook nie kos by haar gehad nie, dit was in een van haar vriende se rugsak.

“Ek het darem pleisters en twee pakkies Rehydrate by my gehad. Ook 'n pakkie liquorice”.

Die plan dat sy op haar eie vooruitstap, het op dag drie suksesvol verloop, vertel Sanet.

“Ek het alleen gestap, maar die aand was ons almal weer bymekaar.”

Op dag vier van die uitmergelende staproete wat oor 90 km strek, was dit egter die laaste keer wat Sanet haar vriende tydens die staptog sou sien. Vir twee dae en een nag was sy op haar eie aangewese en was dit veral die stilte wat haar gevang het.

“Ek het in die aand ver­skriklik baie bewegende figure gesien, dit was vrees­lik woelig om my.”

Sy drink nooit slaappille nie, vertel Sanet, maar vir die alleennag het sy besluit om 'n uitsondering te maak.

“Dit was 'n kwessie van nou moet ek 'n plan maak om diep te slaap!”

Die honger het haar nie eintlik gepla nie, die stilte wel.

“Ek hou van stilte, maar jy wil tog iemand iewers in sig hê of weet daar is iemand agter jou.”

Gelukkig vir Sanet het haar vriende haar kaart wat eers by hulle was, 'betyds' vir haar terug gegee.

“Dit was my redding.”

Haar vriende het net soos sy gestres, vertel Sanet.

“Hulle was in 'n toestand, die hele canyon het na my gesoek!”

Buiten dat sy 'verlore' geraak het, het haar rugsak en alles binne ook nat geraak en moes sy die laaste 20 km met 'n “nat sak op die rug” aanpak. Op die koop toe het sy die laaste dag ook geval en was vir 'n wyle lights out.

“Toe ek wakker word, toe lê ek in die rivier. Ek het gelyk of iemand my aangerand het!”

Sanet was op die vyfde dag voor haar 'verlore' vriende by /Ai-/Ais waar die roete eindig.

“Ek het al gestort en geëet en was op pad om te gaan slaap, toe hulle daar aankom.”

Ten spyte van die traumatiese ervaring sal sy beslis weer die Visrivierroete gaan stap, sê Sanet.

“Volgende keer net 'n dag langer en saam met 'n ervare gids!”

Al kritiek wat sy teen die roete het, is dat daar nêrens pyle is wat die rigting aandui nie.

“Meer moeite moet gedoen word om 'n makliker roete aan te dui. Op die Camino is orals geel pyle en jy weet heeltyd waar jy is.”

Of daar krake in die hegte stapvriende se vriendskap is nadat hulle haar 'lewendig verloor' het, is dit 'n besliste nee.

“Ons het geensins gestry of baklei of kwade gevoelens gehad nie. Dit was bloot 'n reuse misverstand. Ons is al jare vriende en ontsettend lief vir mekaar.”

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!