Twee helde val op Heldedag

Namibië was gister verenig in sy hartseer oor die dood van die politikus, raadgewer en mentor, mnr. Dirk Mudge.
Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer – ’n Namibiese held het op Heldedag geval. Mnr. Dirk Mudge, wat as politikus ’n reuserol vervul het in die proses wat die weg gebaan het vir Namibië se onafhanklikwording, is om 04:00 gister in Mediclinic in Windhoek dood. Hy was 92 jaar oud.

Mudge was een van die vaders van die Namibiese Grondwet en het selfs ná sy amptelike uittrede uit die politiek in April 1993, as raadgewer en mentor steeds groot insette op vele fronte gelewer.

Daarbenewens was hy die stigter van Republikein en die mediahuis Democratic Media Holding, voorganger van Namibia Media Holdings.

“’n Groot en geharde boom in wie se skadu so baie van ons kon rus, asemskep en leer, is nie meer daar nie.” Só het ’n hartseer mnr. Riaan Eksteen, die afgetrede Suid-Afrikaanse diplomaat en dekade lange vriend van Mudge, vroeg gisteroggend uit Swakopmund laat weet.

Sedertdien stroom die huldeblyke deur hooggeplaastes en gewone Namibiërs op sosialemedia- en ander platforms in. Ofskoon sy dood betreur word, het baie mense saamgestem dit is gepas dat ’n held soos hy juis op Heldedag moes sterf.

Peter Toby Ockhuizen het in reaksie op die aankondiging op Republikein se Facebookblad, as volg reageer: “’n Groot boom het geval, ’n biblioteek het afgebrand, ’n held het op Heldedag in vrede die tuig neergelê. . . Rus in alle vrede, ons held en mentor vir vele. Oom Dirk, ons salueer u.”

Andreas Alfeus Negongo se plasing lui: “Mag tatekulu Mudge se siel in vrede rus en mag die almagtige God sterkte gun aan die familie en Namibië gedurende hierdie tyd.”

Mudge is sowat ’n week gelede vir die behandeling van Covid-19-verwante simptome in die hospitaal opgeneem. Sy seun, mnr. Henk Mudge, het aan Republikein gesê dit het gelyk of hy die “draaipunt bereik het” en aan die herstel was.

Hy laat buiten Henk vier ander kinders, mee. Chrisna Greeff, Annalien Basson, Rièth van Schalkwyk en mnr. Jaco Mudge, asook 16 kleinkinders en 23 agterkleinkinders agter. Sy vrou, me. Stienie Mudge (nèe Jacobs) is in Desember 2017 dood.

“Ons is ongelooflik trots op hom. Hy was iemand wat dít waarin hy geglo het, uitgeleef het. Naasteliefde was een van die dinge wat vir hom baie belangrik was en dit is ook hoekom hy die politiek betree het en die rigting ingeslaan het wat ons land na onafhanklikwording gelei het. Hy het gevoel apartheid was nie reg nie,” het Henk gister gesê.

Sy dogter, Chrisna, sê haar pa was ’n man wat die betekenis van liefde, wysheid en onderrig verstaan het. “Sy onkreukbare eerlikheid, lojaliteit en integriteit staan vir my uit.”

Volgens haar was hy “ongelooflik dankbaar vir die vergifnis, erkenning en veral die liefde wat hy ontvang het”. “Hy het vir my gesê dit was vir hom baie belangriker as om een van die grondwetskrywers te kon wees.”

Eksteen sê die pad wat Mudge aangedurf het, “was 'n amper onbegaanbare pad”. “Onder uittartende omstandighede het hy sy positiewe bydrae gelewer. Wanneer vriend en teenstander vandag eerlik met onsself wil wees, moet ons almal erken dat ons vroeër na Dirk moes geluister het.

“Hy het die morele ruggraat gehad toe daar ontsettende druk op hom was. Dirk het sy medeburgers van alle groepe onlosmaaklik deel van sy eie verwysingsraamwerk gemaak. Uit hierdie raamwerk het hy sonder ophou geskep, herskep en help skep aan wat vandag Namibië is,” sê Eksteen.

SY LEWE

Mudge is op 16 Januarie 1928 op die plaas Rushof by Otjiwarongo gebore.

Hy het in verskeie hoë posisies in die Suid-Afrikaanse administrasie van Suidwes-Afrika gedien, was die voorsitter van die Turnhalle Grondwetlike Konferensie van 1975 tot 1977, asook medestigter van die Republikeinse Party sowel as die Demokratiese Turnhalle Alliansie (DTA).

Buiten sy betrokkenheid by die grondwetskrywende proses en die aanvaarding van die Grondwet destyds deur die internasionale gemeenskap, het hy ná onafhanklikwording in die eerste Nasionale Vergadering gedien.

“Ons kan almal baie dankbaar wees vir die Grondwet wat ons geskryf en eenparig aanvaar het. Namibiërs se vryheid en beskerming lê hierin opgesluit.” Dit was sy woorde toe Republikein hom in Februarie verlede jaar tydens die viering van Grondwetdag by die Paramount-aftreeoord in Windhoek besoek het

“’n Demokrasie het sy voordele, maar ook sy verantwoordelikhede. Een van die vernaamste dinge om te aanvaar, is dat jy binne ’n demokrasie van mekaar mag verskil. Dit is deel van die proses.”

Hy het benadruk hoe belangrik goeie menseverhoudinge is en sê mense moet besef dat as jy liefde saai, jy liefde sal terugkry.

“Negatiwiteit maak ’n mens moeg soos pyn jou moeg maak. Dit moet ons altyd onthou,” het Mudge gesê.
- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!