Twee keer lewenslank vir vrouemoordenaar

Hoërhofregter Christie Liebenberg meen die man wat twee vroue se liggame ná hul moord verbrand het, moet uit die samelewing verwyder word.
Francoise Steynberg
Die man wat in Januarie 2016 twee vroue vermoor en hul liggame op die stortingsterrein wes van die westelike verbypad in die hoofstad verbrand het, is Dinsdag twee lewenslange tronkvonnise opgelê.

Hoërhofregter Christie Liebenberg het die moorde op mee. Johanie Naruses (29) en Clemensia de Wee (23) as wreed en grusaam beskryf en gesê Lukas Nepela Nikodemus (49) het geen berou getoon oor die slagoffers se onwaardige sterftes nie.

Nikodemus is ook tot agt jaar gevangenisstraf vir dwarsboming van die gereg gevonnis, omdat hy die moorde probeer verdoesel het deur die slagoffers se liggame tussen 6 en 7 Januarie 2016 te verbrand.

Die twee vroue se halfverbrande liggame is op 7 Januarie 2016 deur sekuriteitswagte op die stortingsterrein ontdek.

Die dubbele moordenaar sal die vonnisse gelyktydig uitdien, wat beteken Nikodemus sal ten minste 25 jaar agter tralies wees voor hy vir parool in aanmerking kan kom.

Nikodemus het deurentyd onskuldig op die dubbele moord gepleit, maar is twee weke gelede deur Liebenberg skuldig bevind.

Volgens die regter was die moordenaar met albei slagoffers in ’n verhouding, het jaloesie ’n rol gespeel en kon dit die motief vir die moorde wees.



Liebenberg het gesê volgens bewyse wat die staat aan die hof voorgelê het, is die twee slagoffers in Nikodemus se voertuig met sy pistool in die bors geskiet.

De Wee se dogtertjie was drie jaar oud toe sy vermoor is en Naruses word deur haar ma oorleef.

“Die grusame moorde het ’n ernstige impak op hul lewens gehad,” het die regter oor die agtergeblewenes se lot gesê.



Liebenberg het in sy vonnisoplegging gesê Namibiërs word ongelukkig op ’n daaglikse basis deur die media aan sinnelose moorde op onskuldige, weerlose mense blootgestel.

Hy het verwys na vroue, kinders en bejaardes wat dikwels die prooi van wrede moordenaars word.



“Hier is te veel voorvalle waar moorde uit huishoudelike geweld spruit, en ondanks voortdurende noodkrete teen dié onaanvaarbare optrede duur die afstootlike misdade onverpoos voort,” het die regter gesê.

Liebenberg meen daar is ongetwyfeld wydverspreide woede oor die misdade en dit duur voort ondanks die howe se waarskuwing dat swaarder vonnisse opgelê sal word.

“Die hof is verplig om wetsgehoorsame burgers en onskuldige slagoffers van misdaad te beskerm. In Nikodemus se geval moet hy uit die samelewing verwyder word sodat hy nie langer ’n gevaar is nie,” het Liebenberg gesê.

“Die enigste wapen beskikbaar is om ’n straf te vind om die oortreder en ander daarvan te weerhou om sulke misdade in die toekoms te pleeg.”

Nikodemus is sedert sy inhegtenisneming in Januarie 2016 in die Windhoekse Sentrale Gevangenis in aanhouding en het vyf verskillende regsverteenwoordigers gehad.

Die regshulpprokureur mnr. Kalundu Kamwi was Nikodemus se regsverteenwoordiger ná sy skuldigbevinding.

Advokaat Cliff Lutibezi het vir die staat verskyn.

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!