Twee ongelukke eis 6 op B2
Twee ongelukke eis 6 op B2

Twee ongelukke eis 6 op B2

Dani Booysen
Ses persone het die afgelope twee dae in twee verskillende motorongelukke op die B2-hoofpad na die kus gesterf.
Sewesitplekvoertuie was in beide ongelukke betrokke.
Vier persone het laat Vrydag op die toneel van die tweede ongeluk omgekom. Die ongeluk het gisteraand omstreeks 23:30 tussen Usakos en Arandis gebeur.
Volgens die polisie was ‘n sewesitplek-sedan met ‘n Swakopmund-registrasie onderweg van Windhoek na Walvisbaai toe dit sowat 30 km buite Usakos kop-teen-kop met ‘n dubbelkajuitbakkie gebots het.
Die insittendes van die bakkie, met ‘n Windhoek-registrasie, was twee Brasiliese burgers. Hulle was op pad na Arandis.
Die bestuurder en drie ander insittendes van die sewesitplekker het op die toneel gesterf. Die drie oorblywende, vroulike passasiers is ernstig beseer en na Windhoek vir behandeling afgevoer.
Die twee mans in die bakkie het ligte beserings opgedoen.
Die polisie ondersoek klagte van strafbare manslag en roekelose en nalatige bestuur.
Persone wat die polisie kan help om die oorledenes te identifiseer, kan adjunkkomm. Erastus Iikuyu skakel by 081 246 4757; speuradj. Rodolf Kasuto by 081 609 1846 of sers. Patrick Mubuyaeta by 081 456 5078.

TUSSEN OKAHANDJA EN KARIBIB
Donderdagnamiddag omstreeks 17:00 was ‘n ander sewesitplekker tussen Okahandja en Karibib ook in ‘n ernstige ongeluk betrokke.
Die voertuig, ook met ‘n Swakopmund-registrasie, se een agterband het gebars en veroorsaak dat dit van die pad geloop het.
Een passasier het op die toneel gesterf en ‘n ander onderweg na die hospitaal in Windhoek.
Die bestuurder verkeer in ‘n kritieke toestand en een passasier is ernstig beseer. ‘n Driejarige baba tel onder die ander passasiers en het ongedeerd daarvan afgekom.
Die oorledenes is geïdentifiseer as mee. Elsabe Titus (29) en Selma Kalimbo (47).

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer