Twee presidente, eindelose probleme

Die politieke manewales van pres. Donald Trump van Amerika en pres. Jacob Zuma van Suid-Afrika benadeel hul onderskeie lande ekonomies.
Ulrich Joubert - Donald Trump is ’n ongewilde Amerikaanse president met baie politieke probleme.

In die afgelope week was ek in Washington en het self gesien hoe ’n fietsryer by een van die Trump-hotelle in die stad uitroep: “Impeach Trump, impeach Trump!”

Die politieke probleme maak dit vir Trump moeilik om sy ekonomiese beleid van die grond af te kry. Nie net Amerika sit en wag om die besonderhede te hoor nie – die hele wêreld wag daarvoor. Almal hoop dit sal die Amerikaanse ekonomie ’n hupstoot gee waarby die wêreldekonomie sal baat vind.

Die hooffokus van hierdie ekonomiese beleid is om belastings te verminder en staatsgeld aan veral infrastruktuur te bestee. As jy per bus van Washington na New York reis, kom jy onder die indruk dat dit nie net Suid-Afrikaanse paaie is wat aandag verg nie, maar ook sommige snelweë in Amerika.

Die talle politieke probleme wentel om bewerings dat die Russe in die verkiesingsveldtog van 2016 ingemeng het, die omstandighede om die afdanking van die hoof van die federale ondersoekburo, die FBI, die onttrekking aan die Parys-klimaatsverdrag, dat Trump Sadiq Khan, burgemeester van Londen, op Twitter gekritiseer het ná die onlangse terreuraanvalle in die stad en sy gewoonte om feite te verdraai om hom te pas.

Sy politieke manewales bring Trump ook in botsing met baie kongreslede van sy eie party.

Volgens politieke kommentators is een van die probleme wat Trump se posisie ondermyn die feit dat hy alles self wil doen en regstel. Daarom dat hy sy twiets die wêreld instuur en self al die politieke probleme wil oplos, want dit is hoe hy sy sakeryk bestuur het. Maar die politieke wêreld is ietwat anders as die sakewêreld en verg soms ’n bietjie diplomasie.

Trump glo baie sterk dat die politiek en die internasionale ooreenkomste waarby Amerika betrokke is altyd om Amerikaanse belange moet wentel. Daarom ook die drang om internasionale ooreenkomste te herbeding of daaraan te onttrek as hy dink dit jaag Amerika meer uit die sak as wat dit hom baat.

Hoewel Trump dus poog om volgens sy eie insig altyd in die belang van die VSA op te tree, skep dit spanning in sy eie party en onder baie van die stemvee in Amerika mee.

Die vraag is of Trump die politieke skaakspel en die media-aanslag sal oorleef en of hy sy ekonomiese beleid sal kan deurvoer en die Amerikaanse ekonomie stimuleer tot voordeel van wêreldekonomiese groei.

Jacob Zuma

Intussen sit Suid-Afrika met baie ernstiger ekonomiese probleme as Amerika.

Amerika hoop om vanjaar ekonomiese groei van sowat 2% te haal. Die jongste aanduidings is dat Suid-Afrika gelukkig sal wees om vanjaar groei van 1% te haal.

Amerika het ’n werkloosheidkoers van 4,3%, die laagste in baie jare, en Suid-Afrika s’n is amptelik op ’n rekordhoë 27,7%.

Die hartseer is dat die amptelike koers nie die werklikheid in veral plattelandse gebiede weerspieël nie waar dit in sommige gevalle meer as 50% is.

Die risiko is dat werkloosheid in komende maande en jare verder sal styg as ons nie die ekonomie aan die gang kry nie.

Om ekonomiese groei te stimuleer en werkloosheid te beperk, moet die ekonomiese en ander aspekte van die owerheid se beleidsraamwerk dringend aandag kry.

Ongelukkig kan dit nie sonder bekwame politieke leierskap gebeur nie – en die kans om dit te bewerkstellig lyk tans uiters skraal.

Ongelukkig wil dit voorkom asof pres. Jacob Zuma hom nie aan oproepe van buite én binne sy eie party om die tuig neer te lê, sal steur nie.

Hy steur hom ook nie aan enige hofuitsprake of bevindings van die vorige openbare beskermer nie wat enige persoon met selfrespek sou laat bedank het. Dit dra daartoe by dat ekonomiese beleidsverandering en groei ook in die slag bly.

Hoewel opposisiepartye hulle dalk mag verkneukel aan die politieke bankrotskap van die ANC, ly die ekonomie en die gemiddelde Suid-Afrikaanse burger onder die onverkwiklike situasie.

Daarby word die plaaslike ekonomie en werksoekers ook geraak deur die politieke dispute in Amerika, wat hul ekonomiese groei in komende maande kan knel.

Sou dit nie wonderlik gewees het as ons van die politieke geredekawel en inmenging in die werking van die ekonomie kon ontslae raak en aangaan met ons lewe in Suid-Afrika nie? - Netwerk24

* Ulrich Joubert is 'n onafhanklike ekonoom.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!