Twee staatsaanklaers vas vir korrupsie, bedrog
Twee staatsaanklaers vas vir korrupsie, bedrog

Twee staatsaanklaers vas vir korrupsie, bedrog

Ronelle Rademeyer
Twee staatsaanklaers is ná 'n ondersoek deur die Teenkorrupsie-kommissie (ACC) deur die polisie in hegtenis geneem en van onder meer korrupsie, bedrog en diefstal aangekla.

Mnr. Anthony Wilson, 'n voormalige staatsaanklaer by die Katutura-landdroshof, word daarvan beskuldig dat hy ''n klagstaat gesteel en aan die landdros voorgegee het die saak is deur die klaer teruggetrek.

Die ACC sê in 'n verklaring die ondersoek toon hy het omkoopgeld van mnr. Kennedy Thionge Kasume ontvang om die kriminele klagte teen hom teruggetrek te kry.

Nadat hy die landdros oortuig het dat die saak deur die klaer laat vaar is, het hy die polisie onder die indruk gebring dat die voertuig waarop as 'n bewysstuk in die saak beslag gelê is, aan Kasume teruggegee word.

Na afhandeling van die ondersoek, het die kantoor van die Aanklaer-generaal besluit om Wilson op nege klagte van korrupsie, bedrog en diefstal te vervolg.

Hy is op 30 November in hegtenis geneem en het Donderdag in die landdroshof in Windhoek verskyn waar die saak tot 3 Februarie aanstaande jaar uitgestel is sodat die polisie kans het om Kasume as die tweede verdagte op te spoor.

Wilson is intussen op borgtog van N$10 000 vrygelaat.

In 'n ander voorval is mnr. Ivan Victor Tjizu, 'n staatsaanklaer by die Windhoek-landdroshof, op klagte van korrupsie in hegtenis geneem, sê die ACC in sy verklaring.

Tjizu het na bewering sowat N$280 000 se vals eise vir getuiebetaling ingedien nadat hy voorgegee het getuies het van elders na Windhoek gereis om in strafsake te kom getuig. Hy het glo ook mense hulle as getuies in sake laat voordoen sodat hy betaling vir hul onkoste kon eis.

Volgens die ACC duur die ondersoek na die omvang hiervan nog voort.

Tjizu, wat Donderdag in hegtenis geneem is, het Vrydag in die landdroshof in Katutura verskyn, waar die saak tot Donderdag uitgestel is wanneer hy formeel om borgtog sal aansoek doen.

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer