Twee weermaglede sterf in padongelukke
Twee weermaglede sterf in padongelukke

Twee weermaglede sterf in padongelukke

Tussen 1 Januarie en 15 November vanjaar is 8 437 padongelukke in Namibië aangemeld.
Tanja Bause
Die eerste vier padsterftes vir Desember is oor die naweek aangemeld.

Volgens die Namibiese polisie se misdaadverslag het die bestuurder van 'n bakkie tussen Okahandja en Karibib beheer oor sy voertuig verloor. Die bakkie het van die pad afgery en teen 'n boom gebots.

Die bestuurder, mnr. Eino Nampala (45), is op die toneel dood. Sy passasiers, 'n 43-jarige man en 41-jarige vrou, is met ernstige beserings in Okahandja se staatshospitaal opgeneem. Al drie is lede van die Namibiese weermag (NDF). Die ongeluk het omstreeks 17:21 sowat 49 kilometer buite Karibib op pad na Okahandja plaasgevind.

Die bestuurder van 'n bakkie het na bewering Saterdag om 01:30 naby die Mix- informele nedersetting buite Windhoek beheer oor sy voertuig verloor. Die bakkie het omgeslaan en die bestuurder is ernstig beseer. Die ongeluk is eers om 05:00 deur 'n verbyganger by die nooddienste aangemeld en die bestuurder is na die Katutura-staatshospitaal geneem waar hy aan sy beserings beswyk het.

Die oorledene, mnr. Petrus Paulus (38), was 'n lid van die NDF gestasioneer by die Suiderhof-basis.

'n Dertigjarige man is in hegtenis geneem op klagte van strafbare manslag, roekelose en nalatige bestuur, die bestuur van 'n voertuig sonder 'n rybewys en dronkbestuur nadat hy 'n 20-jarige Angolese burger noodlottig gestamp het, lui die misdaadverslag. Die voetganger het 'n pad in die Omupembe-nedersetting probeer oorsteek toe hy getref is. Hy is op die toneel dood.

Saterdag omstreeks 08:50 het 'n 33-jarige bestuurder glo beheer oor sy voertuig verloor en dit het omgeslaan. Die ongeluk het op die Silumbi-pad in die Ngoma-distrik plaasgevind.

'n Twintigjarige vrou is op die toneel dood, terwyl die bestuurder en drie passasiers van onderskeidelik 27, 31 en 32 na die staatshospitaal op Katima Mulilo geneem is.

Tussen 1 Januarie en 15 November vanjaar is 8 437 padongelukke met 915 ligte beserings, 574 ernstige beserings en 193 sterftes in Namibië aangemeld.

Die Otjozondjupastreek het met 35 die hoogste dodetal gehad, gevolg deur Oshikoto (23), Ohangwena (19), Kavango-Oos (15) en Kunene (14). Die Khomasstreek het met 4 076 die meeste ongelukke aangemeld wat tot 13 sterftes in die streek gelei het.

Dié statistieke is by die bekendstelling van die 2020-'21-padveiligheidsveldtog oor die feesseisoen op 20 November op Swakopmund aangekondig. Die veldtog sal op 15 Januarie ten einde loop.

Kommentaar

Republikein 2025-04-16

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer