• Tuisblad
  • Sport
  • Twee wêreldrekords tuimel tydens goue uur vir atletiek

Twee wêreldrekords tuimel tydens goue uur vir atletiek

Atletiek
Wim Pretorius – Twee wêreldrekords in twee wedlope! Dít is die ongelooflike toneel wat Woensdagaand op ’n spesiale byeenkoms in Valencia, Spanje, afgespeel het toe die mans se 10 000 m-rekord en die vroue se 5 000 m-rekord in die slag gebly het.
Die Ugandees Joshua Cheptegei en die Ethiopiër Letesenbet Gidey het albei geskiedenis gemaak met eersgenoemde wat ’n tweede wêreldrekord in soveel maande vermag het.
Cheptegei het in ’n ongeëwenaarde tyd van 26 minute 11.00 sekondes die wêreldrekord agter sy naam geskryf.
Hiermee het hy meer as 6 sekondes van Kenenisa Bekele se vorige beste van 26:17.53, wat in 2005 opgestel is, geknip en ook met meer as 37 sekondes op sy eie vorige beste verbeter.
“Ek het my droom vervul,” het Cheptegei ná die wedloop gesê.
“Baanitems is steeds opwindend en dié item kan mense hoop gee in tye wat deur Covid-19 gekenmerk word.
“Ons wil die wêreld wys dat ons terug wil keer na normaal, en al hoe ons dit kan doen, is deur soos normaal deel te neem.”
Terwyl toeskouers steeds nie in die stadion toegelaat word nie, moes die atlete van sogenaamde Wavelight-tegnologie gebruik maak, met ligte wat aan die binnebaan geflikker het om aan te dui teen watter pas hulle moes hardloop.
Cheptegei moes hier vir byna die helfte van die wedloop op dié tegnologie staatmaak nadat sy pasaangeërs na 5 200 m pad gegee het.
Die tegnologie is ook ingespan toe Mo Farah en Sifan Hassan onderskeidelik die mans en vroue se eenuur-wêreldrekords in September op die Diamantliga-byeenkoms in Brussel oortref het.
Cheptegei se Nederlands-gebaseerde NN Running-span het dié geleentheid gereël met die oortuiging dat die 10 000-wêreldrekord daar is om agter sy naam geskryf te word.
Die pasaangeërs het onder meer die Nederlandse kampioen Roy Hoornweg asook die Australiër Matt Ramdsen en die Keniaan Nicholas Kipkorir ingesluit.
Ramsden en Kipkorir was albei in die eindronde van die 10 000 in Doha op verlede jaar se Wêreldkampioenskap, wat deur Cheptegei gewen is, in aksie.
Cheptegei het in Augustus ook die 5 000 m-wêreldrekord vermorsel op die Diamantliga-byeenkoms in Monaco in 12:35.36.
Die langasem het toe gewys dat hy sy beste vir laaste kan hou toe hy die laaste twee van die 12 rondtes om die atletiekbaan elk in onder ’n minuut voltooi het. Dit was ook ’n Bekele-rekord wat toe in die slag gebly het.
• Gidey het die vroue se 5 000 m-wêreldrekord ook haar eie gemaak in ’n ongelooflike wedloop.
Haar tyd van 14:06.62 was meer as vier sekondes voor Tirunesh Dibaba se vorige wêreldrekord van 14:11.15, wat in 2008 opgestel is.
“Ek is bly,” het ’n beskeie Gidey ná haar merkwaardige vertoning gesê.
“Ek het lank hieroor gedroom.”
Die 22-jarige Ethiopiër, wat verlede jaar silwer behaal het in Doha, was vanuit die staanspoor gelyk met die pas wat sy moes teiken om haar naam in die geskiedenisboek te skryf, en het in die laaste 400 m na ’n hoër rat oorgeskakel.
Die invloed van haar pasaangeër, wat niemand anders as die langasem Beatrice Chepkoech was nie, moet ook nie onderskat word nie.
Chepkoech, die wêreldkampioen in die 3 000 m-hindernis, het vir sowat 3 500 m diens gedoen en Gidey op koers gehou.
Gidey het ’n volle agt plekke op die lys van vinnigstes nog gebokspring met dié uitslag.
– Netwerk24


FOTO’S
Letesenbet Gidey en Joshua Cheptegei. Foto’s Getty Images

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!