Tweede golf klim
Ingrypingsmaatreëls is grootliks beperk tot samekomste en openbare vervoer.
Henriette Lamprecht – Op die dag wat Namibië ’n nuwe rekordgetal bevestigde Covid-19-gevalle aangeteken het sedert die eerste geval op 14 Maart die pandemie in die land ingelei het, is minder ingrypende maatreëls as verwag deur pres. Hage Geingob aangekondig.
Gister is 363 nuwe gevalle aangekondig waarvan 218 in Windhoek was. Die aktiewe gevalle staan tans op 1 913 waarvan 152 in die hospitaal en 26 in intensiewesorgeenhede (ICU’s) is. Khomas het 57,9% en 84,6% onderskeidelik van gehospitaliseerde en ICU-gevalle.
Die beperkings is grootliks op samekomste, kroeë, restaurante en nagklubs gemik en ook op dié wat van openbare vervoer gebruik maak. Geingob het egter herhaaldelik gewaarsku indien die maatreëls nie nagekom en getalle nie afneem nie, baie strenger maatreëls ingestel kan word en wat ’n inperking en noodtoestand kan insluit.
Volgens die nuwe regulasies mag net 50 mense nou binnenshuis bymekaarkom, terwyl dit 100 vir buite-aktiwiteite is. Organiseerders moet register hou van mense se besonderhede en hul koors, terwyl geriewe beskikbaar moet wees om hande te was. Kroeë, nagklubs, dobbelhuise en restaurante sluit nou 22:00, terwyl tafels 2 m uitmekaar moet wees. Gebruikers van openbare vervoer moet deurentyd maskers dra. Die polisie sal sorg die dra van maskers en sosiale afstand van 1,5 m word streng nagekom.
Die regulasies het gisteraand in werking getree en geld vir 14 dae tot 30 Desember 2020. Ander maatreëls wat op 1 Desember aangekondig en daarna in die Staatskoerant gepubliseer is, bly steeds van krag.
Die Namibië Werkgewersfederasie (NEF) se sekretaris- generaal, mnr. Daan Strauss, sê intussen die impak van die nuwe beperkings hang van die tipe bedryf af.
Volgens hom is die nuwe maatreëls nie verreikend nie en val die fokus weer eens op maskers, higiëne en sosiale afstand.
“Mense in die gasvryheidsbedryf kla natuurlik oor die beperking van net 50 mense binne en 100 mense buite. Hulle is nie baie positief nie, veral in dié tyd wanneer funksies gereël is. Vir hulle is daar beslis ’n ekonomiese impak,” het hy gesê.
“Ten minste is ons almal dankbaar dat ons met sake kan voortgaan. Oor die algemeen is ons positief en stem saam die dra van maskers is die belangrikste,” sê hy.
Teen druktyd is geen inligting ontvang oor hoe die nuwe regulasies die nasionale MTC Namibië Jeugspele op Rietfontein in die Otjozondjupastreek gaan beïnvloed nie.
Meer as ’n duisend atlete van die 14 streke neem tot in agt verskillende sportkodes deel. Navrae in die verband is aan mnr. Freddy Mwiya, hoofadministrateur van die Namibiese Sportkommissie (NSK), gerig.
Tydens dieselfde geleentheid het die minister van gesondheid en maatskaplike dienste, dr. Kalumbi Shangula, gesê die land se uitgebreide program vir immunisering (EPI) sal gebruik word om die entstof teen Covid-19 in Namibië uit te rol. Die land het in Augustus reeds ’n multidissiplinêre Covid-19 Entstof Nasionale Taakspan saamgestel om ’n goed-gekoördineerde benadering vir tegniese en logistieke reëlings vir die bekendstelling van die entstof in Namibië te verseker. ’n Inleidingsplan vir die koste van die entstowwe en 'n bekostigbare strategie vir gemeenskapsbetrokkenheid en kommunikasie is ook ontwikkel en deur die kabinet goedgekeur.
Namibië is deel van die Covax-geriewe om dosisse van die entstof vir 20% ofte wel 508 200 lede van die bevolking aan te koop.
Dit het reeds ’n aankoopooreenkoms met die Entstof Alliansie (GAVI) onderteken wat Namibië een van die eerste ontvangers van die entstowwe maak.
Altesaam N$28,9 miljoen (15%) van die totale koste van N$193 miljoen is reeds betaal vir meer as een miljoen (508 200 x 2 = 1 016 400) dosisse van die entstof.
“Die aanvanklike geteikende deel van die bevolking en wat gesondheidswerkers en weerlose mense insluit, is geïdentifiseer,” het Shangula gesê.
Hy het gemaan Covid-19 wag nie vir die entstof om sy verskyning te maak nie en die suksesvolle beheer daarvan hang grootliks van menslike optrede af.
“Ons wil nie ’n situasie bereik waar strenger maatreëls onafwendbaar is om lewens te red nie,” het hy gemaan.
Volgens die minister het Namibië teen 15 Desember ’n totaal van 16 913 gevalle met 164 sterftes gehad wat ’n 0,97% sterftekoers is.
Die land se gevallekoers is 2,2 keer laer as die wêreld in totaal.
Hy het bevestig Namibië ervaar tans sy tweede golf gevalle met veral in Windhoek waar dit sedert die begin van die maand styg.
Op 11 Desember het die land die hoogste getal gevalle tot op hede aangeteken en wel 324 sedert die aanvang van die pandemie in Maart in die land. Op 15 Desember is 178 677 toetse uitgevoer, 70 toetse per 1 000 inwoners wat Namibië in terme van totale toetse uitgevoer derde in Afrika plaas.
Vanaf 1 Desember tot op hede is 2 497 nuwe gevalle aangeteken in die 14 dae voor die laaste openbare Covid-19-vergadering oor die land se reaksieplan, ’n styging van 194%. Tot op hede het 702 gesondheidswerkers positief getoets en die ministerie het nou ’n ondersoek van stapel gestuur na die omstandighede in die toename in positiewe gevalle onder dié werkers. - [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie