Tweede Kerr boei nog meer
Zirk van den Berg se vertaling maak van ‘Doodsbleek’ ’n indrukwekkende voorbeeld van hoe gemaak kan – en móét – word met die vertaling van misdaadfiksie na Afrikaans, skryf Jonathan Amid.
Die besluit om Philip Kerr se “Berlyn-trilogie” in Afrikaans te vertaal was reeds met die verskyning van die eerste aflewering in die reeks, Hans-Nazi’s, duidelik ’n meesterskuif. In die eerste boek het die vertaler, Elsa Silke, die hardgebakte speurder Bernie Günther en sy soms skreeusnaakse kwinkslae en kanniedood-houding, die milieu van die vooroorlogse Duitsland en Kerr se uiters kleurryke manier van vertel oortuigend weergegee.
Die vertaling van die tweede boek, Doodsbleek (’n titel wat op verskeie vlakke tot hierdie leser spreek), is deur Zirk van den Berg behartig. Benewens dat geen leesbaarheid ingeboet word nie, slaag Van der Berg daarin om ’n selfs donkerder, broeiender en uiters boeiende tweede Bernie Günther-speurverhaal in Afrikaans daar te stel.
Sintuiglike, sensuele, slim spel met taal asook ’n natuurlike aanvoeling vir die tekstuur van dialoog en die musikaliteit van woorde maak van Doodsbleek ’n indrukwekkende voorbeeld van hoe daar gemaak kan – en móét – word met die vertaling van misdaadfiksie na Afrikaans.
Soos immer die geval is met noir word die ontsyfering van oënskynlik komplekse kodes en die verraderlike aard van die mens die spilpunt waarom die vertelling hier draai.
Günther is steeds die hardgebakte roker en drinker wat ’n harde hou of tien moet trotseer, wulpse vroue se attensies navigeer en uiteindelik te midde van moord en verraad die stem van geregtigheid moet wees vir diegene wat nie meer ’n stem het nie of nooit een gehad het nie.
In Doodsbleek stem Günther in om ondersoek in te stel na ’n reeks brutale moorde op jong vroue wat op die oog af lyk of Joodse rituele daarby betrokke was. Die verwoestende aard van Nazi-propaganda, die allesomvattende onsedelikheid en perversie van Hitler se Derde Ryk en veral die mites, valshede en leuens wat gepropageer is in die naam van “wetenskap” en “vooruitgang”, word hier onder die loep geneem – sonder dat daar ooit bloot vertel word.
Die ontslape Kerr was ’n skrywer wat vas geglo het in “wys”. Doodsbleek het min genade met heilige koeie en sensitiewe lesers wat eerder in die mens se onteenseglike goeie kant wil glo.
Ten spyte daarvan dat die hoofkarakter allesbehalwe perfek is en hom soms seksisties en homofobies uitlaat, word Doodsbleek deurgaans gedryf deur ’n sterk intrige en ’n plot wat lesers doelbewus opvoed.
Die lot van gay mans en die jag op die Joodse bevolking word soms subtiel, soms skokkend, oorgedra. Hierdie morele dimensie, waaronder die dilemmas van die lewe onder ’n diktatuur en die skrikbewind van ampsdraers wat hul magsdrange en liefde vir geweld soos medaljes dra, bly die leser lank by.
Vrees, agterdog, geheimhouding, sadisme, wantroue en smart gaan saam met oomblikke van medemenslikheid, empatie en genade. Kontraste tussen armoede en rykdom, mag en onderdanigheid, lojaliteit en verraad, word skerp belig. Net wanneer jy dink jy weet wat om van die verhaal te verwag, word jy nogmaals verras.
Die klem val op die ondersoek sowel as die ondersoeker se persoonlike lewe en uitdagings: Wat gebeur met interpersoonlike verhoudings in ’n regime waar mense as blote kommoditeite beskou word? Kan die saad van die goeie triomfeer wanneer die bose so kragtig vertoon om elke hoek en draai?
Via Günther bied Kerr en Van den Berg hierdie skamele dog waardevolle antwoord: “Ek is g’n ridder op ’n wit perd nie. Net ’n ietwat verweerde man in ’n gekreukelde oorjas op ’n straathoek met net ’n vae idee van iets wat jy nou maar net sowel moraliteit kan noem.”
Jonathan Amid is ’n vryskuttaalpraktisyn en resensent van Stellenbosch. - Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie