Tweede lid van Trudeau se kabinet bedank
Tweede lid van Trudeau se kabinet bedank

Tweede lid van Trudeau se kabinet bedank

In ’n ernstige knou vir die Kanadese premier, Justin Trudeau, het ’n tweede lid van sy kabinet Maandag bedank omdat sy vertroue verloor het in hoe die regering ’n groeiende politieke skandaal hanteer.

Jane Philpott is onlangs aangestel as hoof van die departement van finansies met alle verantwoordelikheid van die regering se uitgawes. Met haar bedanking verloor Trudeau nog ’n sterk vroueminister net maande voor ’n verkiesing wat lyk of hy dit kan verloor.

Philpott is ontevrede oor die manier waarop die regering bewerings gehanteer het dat amptenare die voormalige minister van justisie, Jody Wilson-Raybould, gedruk het om te help dat ’n groot konstruksiemaatskappy nie by ’n korrupsieverhoor betrokke raak nie.

“Jammer genoeg het ek vertroue verloor in hoe die regering die saak gehanteer het en hoe daar gereageer is toe vrae gevra is,” het Philpott in ’n verklaring gesê.

Trudeau het op ’n samekoms van sy Liberale Party gesê hy is teleurgesteld, maar verstaan waarom sy bedank het.

“Kommer van hierdie aard moet ernstig opgeneem word en ek verseker julle dat ek dit doen,” het Trudeau gesê.

Philpott en Wilson-Raybould is goeie vriende. Wilson-Raybould het op 12 Februarie bedank nadat sy skielik in Januarie ’n verlaging in rang gekry het. Volgens haar het dit gebeur omdat sy nie die konstruksiemaatskappy SNC-Lavalin wou help nie.

Die leier van die konserwatiewe opposisieparty, Andrew Scheer, hy sy oproepe dat Trudeau moet bedank te midde van ’n “etiese verrotting” herhaal en gesê Trudeau ondergrawe die regstelsel.

Philpott (58) was wyd gesien as een van die beste ministers in die kabinet. Die meeste lede van die Liberale Party steun Trudeau nog, maar daar is tekens van spanning.

Wayne Long, ’n parlementslid, het gesê hy is “diep bekommerd” oor Philpott se bedanking en het gevra vir ’n openbare ondersoek na die hele saak – iets wat Trudeau tot dusver nog nie wou doen nie.

Gerald Butts, wat verlede maand as Trudeau se hoofsekretaris bedank het weens die SNC-Lavalin-saak, sal Woensdag getuig voor die laerhuis se justisiekomitee.

Wilson-Raybould het Butts uitgesonder as ’n amptenaar wat besonder hard probeer het om haar van plan te laat verander. – Netwerk24/Reuters

Kommentaar

Republikein 2025-04-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer