Tweejarige sterf in ongeluk
Tweejarige sterf in ongeluk

Tweejarige sterf in ongeluk

’n Tweejarige meisie, Andrea Pawa Jason, het Saterdagoggend in ’n ongeluk sowat 2 km buite Usakos gesterf.

Volgens die Namibiese polisie se misdaadverslag het die ongeluk omstreeks 06:00 plaasgevind.

“Die bestuurder van ’n rooi bakkie met agt insittendes het beheer om ’n draai verloor waarná dit omgeslaan het. Die beseerdes is na die Usakos-staatshospitaal vir mediese behandeling,” sê die polisie.

’n Tweejarige seuntjie wat deur sy ma, me. Maria Hunibes (29), op haar rug geabba is, het wonderbaarlik oorleef toe sy Saterdag op die Otjiwarongo-Otavi-pad deur ’n vragmotor doodgery is.

“Die ongeluk het omstreeks 23:00 naby die vliegveld voor die Otjiwarongo-padblokkade gebeur. Die seuntjie het oorleef, maar is in ’n kritieke toestand,” sê die polisie.

’n Vyftigjarige man wat Sondag glo twee ongelukke in die hoofstad veroorsaak het, het aan sy beserings beswyk.

Hy het omstreeks 14:26 glo by die kruising van Florence Nightingale- en Ranogelstraat in Khomasdal met sy bakkie teen die agterkant van ’n taxi gebots en weggejaag.

“Hy het na bewering beheer oor sy voertuig verloor toe hy weggejaag het en het daarná naby die kruising van Moseas Garoeb- en Begoniastraat van voor af met ’n sedan gebots,” sê die polisie.

Volgens Nampa is ses ander mense beseer.

In Andrew Kloppersstraat in Khomasdal het ’n man Vrydag omstreeks 21:00 glo beheer oor sy bakkie verloor en teen ’n staalversperring gebots.

“Die versperring het die voorruit gebreek en die passasier se gesig vergruis. Die slagoffer, wat nog nie geïdentifiseer is nie, is in ’n kritieke toestand in die Katutura-staatshospitaal opgeneem,” sê die polisie.

“Die bestuurder was onder die invloed van alkohol en is in hegtenis geneem.”

Op die pad tussen Oshivelo en Omuthiya is ’n 23-jarige man van die Ohandoni-nedersetting, mnr. Lukas Nande, Saterdag na wat verneem word deur die bestuurder van ’n bakkie doodgery.

“Die bestuurder was alleen in die bakkie en is nie beseer nie,” sê die polisie.

Ook in die Noorde het die bestuurder van ’n wit bakkie Vrydag omstreeks 20:20 naby die Bunya-nedersetting naby Kahenge in die Kavango-Wesstreek ’n bees gestamp.

Volgens die polisie was die bestuurder die enigste insittende in die bakkie wat deur die bees beskadig is.

Kommentaar

Republikein 2025-01-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 19° | 30° Rundu: 19° | 32° Eenhana: 19° | 33° Oshakati: 23° | 32° Ruacana: 20° | 35° Tsumeb: 20° | 33° Otjiwarongo: 21° | 31° Omaruru: 24° | 33° Windhoek: 23° | 31° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 18° | 23° Swakopmund: 17° | 18° Walvis Bay: 18° | 22° Rehoboth: 24° | 35° Mariental: 26° | 39° Keetmanshoop: 25° | 40° Aranos: 26° | 39° Lüderitz: 19° | 31° Ariamsvlei: 25° | 40° Oranjemund: 17° | 25° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 24° | 37° Lubumbashi: 15° | 21° Mbabane: 16° | 28° Maseru: 17° | 33° Antananarivo: 18° | 23° Lilongwe: 19° | 26° Maputo: 23° | 34° Windhoek: 23° | 31° Cape Town: 20° | 28° Durban: 22° | 27° Johannesburg: 18° | 32° Dar es Salaam: 27° | 32° Lusaka: 17° | 27° Harare: 16° | 28° #REF! #REF!