Tweekuns vir gebroeders Goeieman

Padwedloop, bergfietsry
Des Erasmus
Des Erasmus - Was langafstandatletiek ’n besigheid, was een onderneming se naam die Goeieman-broers. Broer Erich doen sy sake oor die langer afstande soos die marathon en die halfmarathon. Kleinboet Albertus is in die kleinhandel oor afstande soos die 9 kilometer.
Saterdag was dit weer sulke tyd toe Erich sy status as Koning van The Rock gestand gedoen het deur die halfmarathon om die spitsberg tussen Arandis en Usakos te wen.
Erich was nog besig om homself koud te lei ná die moordende skof om die Spitzkoppe toe die loeiende applous om die laan van kampioene vir Albertus in die 9 km opgegaan het. Hy was eerste by die wenpaal.
Byna groter as sy vreugde vir sy eerste plek was die blye tyding dat boet Erich ook die halfmarathon gewen het. Albei die broers het onder die vaandel van Guan’s Packaging deelgeneem.
In die halfmarathon vir vroue was dit ook ’n tweekuns vir Otillie Kaunapawa Aimwata. Die atleet van die NDF het verlede jaar ook eerste om die berg gehardloop.
By die wenpaal het ’n swetende Erich Goeieman sy eie tyd op sy polshorlosie as 1 uur 12 minute verstrek. Volgens die amptelike uitslae was dit 1 uur 13 minute 36 sekondes.
Tweede in die ope was Nesley Gawaseb van die Okahandja-atletiekklub. Volgens hom het hy ’n bietjie teen die bulte gesukkel. Erastus Pinehas was derde.
In die halfmarathon vir vroue was Elze Eigelaar tweede en Vera Hypki derde na Ottillie Kaunapawa. In die 9 km was Zanti Hansen die wenner van die ope vir vroue met Nelia Landsberg tweede en Tanya Mackensen derde.
Volgens Erich Goeieman was dit dié keer sonder las van enige van die beserings wat hom verlede jaar gepla het.
“Alles was reg,” het hy aan Erongo verklaar. Volgende in sy visier sal die Lucky Star tussen Walvisbaai en Swakopmund wees en dan is dit Suid-Afrika toe met ’n verre Londen wat ook wink. Erich het nie gedeel in ander atlete ná hom se klaagliedere dat die berg se bulte ’n bietjie erg was nie.

FIETSRY
Onder die fietsryers was Costa Seibeb ook dié keer daar. By die wenpaal was hy die eerste deelnemer wat afgesaal het. In die 70 km-wedren vir bergfietse was Charl du Plooy tweede ná Seibeb en Joe-Joe Hamunyela derde.
In die 70 km ope was die eerste vrou op ’n fiets by die wenpaal Lelanie Swart, met Silke Pritzen tweede en Ané Hanekom derde.
Kirby Mackintosh het die afstand vir mans oor 33 km gewen, terwyl Anja Schroder die eerste vrou by die wenpaal was. Robert Schaaf op ’n dikwiel was die wenner van die item oor 25 km vir mans en Lonel Smith die vrouewenner.
Vanjaar se The Rock het ’n opkoms van langafstandatlete en fietsryers veroorsaak wat die byeenkoms uit sy nate laat bars het. Juis hierdie voorspoed het Areva en Gecko as die aanbieders vandeesweek al laat besin oor die formaat vir volgende jaar. Een moontlikheid is om die atlete van die Spitzkoppe-gemeenskap, die drawwers van die 10 km en die langer bergroete en die fietsryers op hul bergfietse en dikwiele aanstaande jaar oor twee dae te laat deelneem.
’n Moontlikheid van ’n tweede laan vir die inkomende deelnemers word ook ondersoek, met probleme wat beweer is wanneer stadiger drawwers en fietsryers op die roete by mekaar wou verbysteek.
Die opkoms was vanjaar meer as twee keer meer as dié van verlede jaar. Toe inskrywings gesluit het, was daar reeds 848 deelnemers. Totdat die hoenderhaan vir sy eerste kraai van die dag van sy rak gespring het, is laatkommers nog toegelaat om hulle te laat registreer.
Dit kan die uiteindelike opkoms van deelnemers in die rigting van ’n eerste duisendtal laat styg. Die ondersteunende voertuie van die private ambulansdiens St. Gabriel op Walvisbaai het op die roete diens gedoen, maar daar was geen ongevalle nie.

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer