Tweespalt in NHRA

Die Perdewedrenvereniging se jaarvergadering sal bepaal of daar met die DBV saamgewerk gaan word om vereiste standaarde vir perdewedrenne toe te pas.
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh – ’n Werkwinkel oor sportkodes vir diere- en veral perdesport sal na verwagting binnekort deur die Namibië Sportkommissie (NSC) vir relevante rolspelers aangebied.

Dít nadat dit blyk die nodige standaarde word nie noodwendig by alle perdewedrenne gehandhaaf nie.

Die Namibiese Dierebeskermingsvereniging (DBV) probeer glo al sedert die middel van verlede jaar sonder sukses die Namibiese Perdewedrenvereniging (NHRA) oorreed om wetlik vereiste standaarde vir perdewedrenne in te stel wat die menslike behandeling, vervoer en aanhouding van die perde sal verseker.

Dit sluit onder meer in dat ’n veearts vir die volle duur van perdewedrenne teenwoordig moet wees - ‘n vereiste wat glo onlangs uit die NHRA se reëls en regulasies verwyder is.

Me. Monique Redecker, uitvoerende hoof van die DBV, het intussen met die sportkommissie, die ministerie van jeug, sport en nasionale diens en die Namibiese Olimpiese Komitee vergader.

Dít glo ná ’n vrugtelose vergadering met die NHRA en nadat korrespondensie met die vereniging se president onbeantwoord gebly het.

DBV SE HAND GESTERK

Die Perdewedrenvereniging is geaffilieer met die sportkommissie en het na afloop van hul jaarvergadering verlede jaar besluit dat alle verdere kommunikasie met die DBV slegs deur die kommissie sal geskied.

Ná die vergadering is ’n nuusverklaring uitgereik waarin gesê word sportverenigings sal na afloop van die werkwinkel daarvoor verantwoordelik wees om mense aan te stel wat sal seker maak ’n lys wetlike vereistes vir die hanterign van diere word nagekom.

Boonop sal die DBV die reg hê om, sonder waarskuwing, dieresportgeleenthede te besoek en te ondersoek.

Redecker sê die NHRA het alle versoeke vir samewerking van die DBV af geïgnoreer, terwyl die vereniging die wetlike verpligting het om binne hul mandaat op te tree soos uiteengesit in die dierebeskermingswet.

Sy sê ook uit ’n besoek deur die DBV aan Rehoboth se resiesbaan, blyk dit dat die geriewe vir die diere nie op standaard is nie.

“Ons wil nie Namibië se perdewedrenne beëindig nie, ons wil net mishandeling voorkom en keer dat onmenslike praktyke gevolg word. Ons bied ons hulp en leiding aan die NHRA en sal genoegsame tyd bied om dié doel te kan bereik.”

Mnr. Abner Xoagub, president van die Namibiese Olimpiese Komitee, wil glo ook hê enige perde wat aan wedrenne deelneem, moet vir onwettige middels getoets word.

Redecker het gesê enige besighede wat die perdewedrenne borg terwyl standaarde vir die menslike behandeling van die diere nie nagekom word nie, kan hulself probleme op die hals haal.

NHRA VERDEEL

Intussen het die NHRA se ontwikkelingsbeampte, mnr. John Wellman, gesê tydens ’n vergadering in November was daar groot verdeeldheid in hul vereniging omdat sommige bestuurslede gevoel het hulle hoef nie saam met die DBV te werk nie en dat hulle kan voortgaan met die wedrenne sonder om aan die vereniging se eise gehoor te gee.

“My mening is dat ons nie die DBV kan wegwys nie en nie ver sal kom sonder hul steun nie. Tydens die vergadering was dit duidelik daar is ’n gedeelte van die NHRA wat met die DBV sal saamwerk.

“Ek wou aanvanklik bedank oor hierdie tweespalt, maar ek is deur perde-eienaars dwarsoor die land tot my posisie by die NHRA verkies en hulle het my oortuig om te bly. Ek het dus nooit formeel bedank nie.

“Die DBV-kwessie sal egter weer op 10 Februarie aangeroer word wanneer ons jaarvergadering hou en dan sal ons sien hoe loop die pad vorentoe.”

RESIESPERDE GOED VERSORG

Wellman beklemtoon wel dat die eienaars van resiesperde baie mooi na hul diere kyk.

“Na my mening is 90% van resiesperde baie goed versorg. Ek betaal byvoorbeeld N$12 000 ’n maand om my ses perde op stal te hou – geen eienaar betaal soveel en verwaarloos dan hul diere nie.

“Ons perdeklubs kyk ook uit vir beseerde perde en laat nie toe dat hulle hardloop indien hulle seergekry het nie. Die meeste van ons vervoer hulle ook in die korrekte perdesleepwa en nie op oop beeslorries nie.

“Die feit van die saak is egter die DBV wil hê dat ’n veearts tydens die resies teenwoordig moet wees. Dit is nog al die jare – tot onlangs – so gedoen. Toe my pa in die sewentigs aan wedrenne deelgeneem het, was daar altyd ’n veearts teenwoordig.”

Wellman sê egter dit is duur om ’n veearts se dienste vir die resies te huur. Hy het ook bygevoeg sommige vereistes van die DBV, soos dat die perde onderdak moet staan, moeilik uitvoerbaar is.

“Die meeste van die DBV se vereistes is egter uitvoerbaar en met die nodige tyd sal dit toegepas kan word,” het hy gesê.

Republikein het gister mnr. Seretse Olibile, die NHRA se president, tevergeefs telefonies en per e-pos probeer kontak.

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer