Twis oor kapteinskap
Twis oor kapteinskap

Twis oor kapteinskap

'n Opposieparty stamp koppe met die Rehoboth Baster-gemeenskap oor leierskap.
Augetto Graig
Augetto Graig - Die opposisieparty UPM het homself sterk uitgespreek oor die Rehoboth Baster-gemeenskap se leierskap wat weens kaptein John McNab se verswakkende gesondheid aangewys is.

Die kaptein se kantoor het Sondag by 'n vergadering die aanwysing van mnr. Martin Dentlinger as waarnemende kaptein bevestig.

In 'n verklaring wat McNab geskryf het en by die vergadering voorgelees is, is Dentlinger as waarnemende kaptein aangewys, terwyl mnr. Colin Charles, pastoor Leonard Pienaar en mnre. Cyril Pienaar, Victor Mouton asook Terence Ward genoem is as McNab se persoonlike span en vertrouelinge. Kapteinraadslede mnre. Herman Bock en Banie Buys vorm nou saam met Dentlinger die topstruktuur van die kapteinskantoor “en hulle word bemagtig om magte aan die strategiese span na goeddunke te delegeer,” skryf McNab.

Hy het aan hulle “die volle mandaat verleen (binne die perke van die kapteinsmandaat) om voort te gaan met die werksaamhede”.

“Dit is tot tyd en wyl 'n opvolger deur die geregistreerde en volbetaalde lidmate verkies word”.

Die UPM het gister weer sy teenstand oor die aanstellings aangedui en nog 'n mediaverklaring uitgereik waarin die partyvoorsitter, mnr. Jan van Wyk, sê die aanstellingsproses druis in teen die Rehoboth Baster-gemeenskap se voorvaderlike wette. Hy die feit dat net sowat 170 mense die vergadering bygewoon het, is 'n bewys dat die meerderheid nie met die “onwettige prosesse” saamstem nie. “Die UPM meen die besluite geneem by die vergadering is ongeldig en dat sulke aksies verwerp moet word met die minagting wat dit verdien,” sê Van Wyk. Hy moedig UPM-lede aan wat ook Basters is, om nie deel te neem aan die “onwettige aksies” nie. Van Wyk sê McNab se steun vir Dentlinger is 'n teken dat hy die kapteinskap oorgegee het.

Dentlinger sê hy steur hom nie aan opinies nie, en dat kaptein McNab reeds in 2013 besluit het om hom as waarnemende kaptein aan te stel, sou McNab se gesondheid die uitvoering van sy pligte belemmer. Dentlinger sê dié besluit is weer in 2017 bevestig en word nou toegepas. Hy sê hy is die afgelope sewe tot agt jaar betrokke by die kaptein se kantoor en noem ook dat sy oupagrootjie mnr. Samuel Beukes destyds die landdros van die Basterhof was.

Volgens Van Wyk is dit juis oor die Basterhof nie meer bestaan nie en die Baster-volksraad nooit op die been gebring is nie dat die huidige proses onwettig is. “Nie een van hulle (organiseerders) kwalifiseer vir nominasie as kandidate om vir verkiesings te staan of om 'n Basterkaptein te kies nie. Die UPM is van mening dat hulle die gesondheidstoestand van die kaptein gebruik om hul eie agenda te dryf,” skryf hy. Dentlinger sê dit is die UPM-leierskap wat 'n “persoonlike ding teen my het”, en het belowe om by die volgende Baster-gemeenskapsvergadering 'n finansiële voorlegging te doen wat sal bewys dat Van Wyk bedrog gepleeg het. “Die UPM is 'n politieke party en die staat betaal hulle amper N$1 miljoen elke jaar. Hulle het niks te doen met ons nie en selfs die klomp Basters wat aan die party behoort, is nie een geregistreer nie,” sê hy.

Die stryery oor die voorvaderlike wette van Rehoboth se Baster-­gemeenskap verander nie die feit dat die stel wette, die Baster-gemeenskap se leierskap, en hul eis vir tot soveel as 1,758 miljoen hektaar grond nie deur die Namibiese regering erken word nie. Die kapteinskantoor betwis nog 'n 2017-hooggeregshofbesluit wat hul reg tot grond se verdeling en die uitdeel gestop het. Volgens Dentlinger bestaan die voorvaderlike wette sedert 1872 en is steeds afdwingbaar.

Hy sê daar sal 'n verkiesing volg, soos in dié wette vereis word, en dat die registrasieproses vir hierdie verkiesing al laas jaar mee begin is. “Maar om te kan stem, moet burgers registreer. Ongelukkig het die meeste nie hul verantwoordelikheid teenoor die kapteinskantoor nagekom nie. Net geregistreerde lede met lidmaatskapkaartjies en ten volle betaalde gelde, sal kan stem,” sê hy.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!