Tyd-fiasko: Meer vrae as antwoorde
Min lig is al op die kwessie van Sondag se verkeerdelike tydsverandering gewerp.
Augetto Graig
Ná elektroniese kommunikasietoestelle, internetgekoppelde rekenaarstelsels en selfs die betaaltelevisiediens Multichoice Namibia Sondag die tyd outomaties 'n uur vroeër gestel het, bly die oorsaak van dié glips nog 'n raaisel.
In die verlede het Namibië jaarliks op die eerste Sondag in April na wintertyd oorgeskakel deur die plaaslike tyd 'n uur terug te stel.
Dié praktyk moes egter vanjaar tot 'n einde kom ná die parlement in 2017 'n nuwe wet goedgekeur het om dit ongedaan te maak.
Ten spyte van pogings verlede week deur die ministerie van inligting en kommunikasietegnologie om almal daaraan te herinner dat die tydsaanpassing nie meer van toepassing is nie, het “slim” tegnologie oënskynlik nie die boodskap gekry nie.
Die impak van dié onwettige tydsverandering moet nog bepaal word, ná die situasie teen gistermiddag steeds nie herstel is nie.
Me. Emerencia Nguarambuka, 'n persoonlike assistent in die kantoor van die permanente sekretaris van die ministerie van inligting en kommunikasietegnologie, het gister ontvangs van navrae erken.
“Die ministerie is besig met konsultasies met die verskeie belanghebbers sodat 'n omvattende, akkurate en bondige reaksie gelewer kan word,” het sy gesê.
Die Regulerende Owerheid vir Kommunikasie van Namibië (Cran) kon gister nie op navrae reageer nie.
Me. Levana Cloete, Multichoice Namibia se korporatiewe sakebestuurder, sê sy wag op terugvoer oor stelselopdatering “om te verseker die betrokke veranderinge vind plaas”.
“Outomatiese sagteware-opdaterings is in ooreenstemming met die voormalige dagligbesparingstyd op Namibiese dekodeerders gedoen.
“As gevolg hiervan is verkeerde tye op die Elektroniese Programmeringsgids (EPG) vertoon. Alle pogings word aangewend om te verseker die saak word reggestel en word nie in die toekoms herhaal nie,” het sy gesê.
Telecom Namibia se woordvoerder kon nie telefonies bereik word nie en het ook nie op e-posse gereageer nie.
Ná MTC se vinnige skuldontkenning Sondag is die land se grootste selfoondiensverskaffer ook stil.
Vrae oor hoe die tydsverandering hul torings se koppeling aan kliënte se selfone geraak het, en of die tydsverandering enigiets met onderbroke SMS-, USSD- en datadienste te doen gehad het, bly steeds onbeantwoord.
Standard Bank Namibia se woordvoerder, me. Surihe Gaomas Guchu, het gesê sy wag vir interne terugvoer.
Mnr. John D'Alton, Paratus se besturende direkteur, het gesê hul netwerk het geen probleme getoon nie, en geen klagtes is van kliënte ontvang nie.
Netwerke en bedienerrekenaars is afhanklik van tydsone-opdatering deur vervaardigers, het hy gesê.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie