Tyd vir Eagles om alles op die spel te plaas
Tyd vir Eagles om alles op die spel te plaas

Tyd vir Eagles om alles op die spel te plaas

Krieket
Tielman van Lill
Die Eagles gaan dit dalk by die T20 Wêreldbeker nie tot die uitklopronde van die Super 12 maak nie, maar hierdie generasie Namibiese krieketspelers kan beslis 'n nalatenskap agterlaat om op trots te wees.

Asof hul eerste verskyning in 'n T20 Wêreldbeker nie ‘n groot genoeg prestasie is nie, het Namibië nie net een keer nie, maar twee keer beter gevaar. 'n Eerste oorwinning oor 'n toetsspelende land en om te kwalifiseer vir die Super 12-groep is geskiedenis gemaak.

Niemand gaan verwag dat hulle drie wedstryde in die Supergroep sal wen om vir die halfeindronde te kwalifiseer nie. Nie met groepwedstryde teen Afganistan, Nieu-Seeland, Indië en Pakistan nie. En dan is Skotland wat ook ‘n assosiasie-land is, nie eens ingereken nie.

Spelers soos Gerhard Erasmus en Stephan Baard, wat albei op o.19- en senior vlak as kapteins vir Namibië diens gedoen het, het al vertel hoe hulle as jong seuns deur die heldedade van die Namibiese span by die 2003 Eendagwêreldbeker (WB) geïnspireer is.

Dit het nie saak gemaak dat hul helde elke wedstryd in 2003 by die WB verloor het nie. Wat saak gemaak het, was dat hulle op die veld gegaan het om skouer aan skouer die aanslae van Andy Flower, Glenn McGrath, Brett Lee, Adam Gilchrist, Matthew Hayden, Ricky Ponting, Shoaib Akhtar, Wasim Akram, Waqar Younis, Sourav Ganguly en Sachin Tendulkar te trotseer.

Terwyl die 2003 Namibiese span uit dokters en polisiemanne bestaan het, en verskeie ander nege tot vyf werk gehad het, is die 2021 Eagles voltydse professionele spelers.

Toe Namibië in 2019 internasionale eendagstatus (ODI) verwerf het, het dit die deur vir Erasmus en ander spelers oopgemaak om hul aandag voltyds aan krieket te skenk.

Die sukses laas week teen Ierland en om in die Super 12 swaarde met toetslande te kruis, het beslis nuutgevonde geloof in Erasmus en die res van sy span ingeboesem.

As Erasmus bloot deur die teenwoordigheid van Rudi van Vuuren en Deon Kotze op die veld teen roemryke name van 2003 geïnspireer word, kan 'n mens jou net indink wat die 2021 Eagles vir die volgende generasie spelers in Namibië kan beteken.

Wanneer Erasmus en sy span in die volgende weke nie net teen ware swaargewigte speel nie, maar daarin slaag om ‘n span onder aanleiding van Kane Williamson, Mohammad Nabi, Babar Azam of Virat Kohli te klop, sal dit die wêreld vir spelers in Namibië beteken.

ONLANGSE PEIL

Vir die mense wat nie weet nie; die Eagles se selfvertroue vier hoogty nadat hulle twee oorwinnings uit drie botsings in die openingsronde van die T20 Wêreldbeker behaal het insluitend Ierland wat ‘n toetsland is.

Dit is 'n voortsetting van hul uitstaande peil in 2021. Namibië het agt van nege T20's gewen, waaronder drie wedstryde vroeër in Oktober teen die Verenigde Arabiese Emirate (VAE), Papoea-Nieu-Guinee en Skotland.

Hulle het Skotland oortuigend met vyf paaltjies oordonder. Hoewel Skotland groep B gewen het (wat 'n oorwinning oor Bangladesj insluit) is Namibië waarskynlik die gunstelinge wanneer hulle teen Skotland in die Supergroep gaan speel.

KOLFWERK

Dit is beslis die troefkaart van die Eagles. In die Eagles se laaste groep A-wedstryd teen Ierland het hul kolwers in die eerste ses boulbeurte gesukkel om lopies te slaan. Die TV-kommentators het druk bespiegel watter kolwer moet ingestuur word om die Namibiese kolfbeurt woema te gee.

Die argument was dat JJ Smit ingestuur moes word om 'n paar balle grense toe te jaag om hul beurt aan die gang te kry. Maar Smit was nie eens nodig nie. Ná ‘n briljante vennootskap tussen Erasmus en David Wiese was die skrif vir Ierland aan die muur.

Dan is daar nog Stephen Baard wat die Eagles se derde hoogste lopiemaker in T20-wedstryde is en met die tweede hoogste in alle T20's spog. Hy is ná 'n string lae tellings die afgelope maand uit die span gelaat. Maar wanneer Baard op peil is, kan hy verwoestend wees.

Die veelsydige Craig Williams is die ander troefkaart wat nog aan die gang moet kom, en Smit en Michael van Lingen asook Zane Green as openingskolwer wat nie lopies kry nie. Die punt is, die Eagles se kolwers bestaan nie uit ‘n tweemanorkes nie, daar is nog kolwers wat die pap dik kan aanmaak.

BOULWERK

Die Eagles beskik oor geen briljante boulers nie, maar die linkerarmtrio van Smit, Ruben Trumpelmann en Jan Frylinck kan hul man met merkwaardige aflewerings en slim boulwerk staan.

Wiese se ervaring is van kardinale belang. Hy is daar om die druk van sommige van die jonger spelers in die span af te neem wanneer taai situasies ontstaan.

Hoewel Frylinck se 3/21 teen Ierland met Wiese en Erasmus se heldedade vergete geraak het, was dit nie minder deurslaggewend in die oorwinning oor Ierland nie.

Bernard Scholtz was twee jaar gelede die voorste draaibalbouler by die T20-kwalifiserende toernooi in die VAE. Hy het stil-stil sy netjiese en doeltreffende spelpeil in die openingsronde hervat. Scholtz is minder effektief teen linkshandige kolwers, maar daar is Pikky Ya France as wegbreekbouler om hulle aan te vat en die balans te handhaaf.

SPELERS OM DOP TE HOU

Die meeste mense sal se Wiese, maar toe hy as speler van die wedstryd teen Ierland aangewys is, het hy gesê dié eer kom sy kaptein toe.

Erasmus het sy debuut as 16-jarige vir die senior span teen Ierland in Belfast met die 2011 Interkontinentale Beker gemaak. Hy is die hartklop van die span. Hy kolf intelligent. Daar is geen beter bewyse as sy onlangse kolwerk op 'n moeilike Sharjah-blad teen Ierland nie.

Hy kan in ‘n oogwenk die lopietempo versnel soos in 2019 teen Singapoer toe hy vier agtereenvolgende sesse oor die tou gepeper het. Van die Eagle-kolwers speel hy draaiballe die beste, is hul beste veldwerker en is boonop onbekend as ‘n draaibalbouler. Hoewel hy net een boulbeurt afgestuur het, kan hy in die Super-fase toenemend ‘n faktor word.

SLEUTELVRAAG

Dié 37-jarige staatmaker was op witwarm peil met vier agtereenvolgende T20i-vyftigtalle in hul opwarmingswedstryde in Dubai. Boonop het hy 29 teen Sri Lanka behaal.

Williams het voorheen in die middelorder gekolf, maar het vanjaar sy merk op nommer drie gemaak. Weens Baard se lopiedroogte die afgelope ruk, moes hy teen Ierland open en kon 15 lopies van 16 aflewerings behaal.

Sy sukses as openingskolwer hang grootliks van sy kolfvennoot af. Die paar keer wat Williams grense teen Ierland behaal het, het hy gesukkel om sy ritme te vind. Grootliks te danke aan Green wat konstant aan die oorkant van hom geskrop en nie gekolf het nie. Wie ook al saam met Williams kolf, moet op enkellopies fokus, sodat Williams sy toorwerk aan die gang kan sit. - www.espncricinfo.com

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!