Tyd vir skoonmaak
Tyd vir skoonmaak

Tyd vir skoonmaak

Nuwe burgemeester, inwoners vat vas
Elvira Hattingh
Kort nadat inwoners, besighede en owerhede op 6 Februarie vanjaar hande met die Okahandja munisipaliteit gevat het om die dorp skoon te maak, het die munisipaliteit gewaarsku dat dit ’n boete van N$2 000 sal hef aan enige een wat onwettig rommel stort.
Die munisipaliteit het intussen plakkate versprei om inwoners te maan om die dorp skoon te hou, op die regte manier van rommel ontslae te raak en enige onwettige rommelstortings aan te meld.
Inwoners het die burgemeester vir die skoonmaakveldtog geloof en dit as ’n seldsame gebeurtenis beskryf. Meer as 200 lede van die weermag, leerders van plaaslike skole en verteenwoordigers van verskeie maatskappye asook private individue het by die veldtog aangesluit.
Dit vorm deel van die onlangs verkose burgemeester, mnr. Congo Hindjou, se planne om die dorp te ontwikkel en is die begin van 'n veldtog om die “tuindorp” weer mooi te kry.
Dit volg ná oudpresident Hifikepunye Pohamba in 2014 die destydse burgemeester, me. Valerie Aron en raadslid Steve Biko Boois, daarvan beskuldig het dat hulle ’n “vuil dorp” bestuur.
Nampa het onlangs berig dat die burgemeester se volgende stap sal wees om kontrakwerkers van plaaslike nedersettings rondom die dorp aan te stel om dit voortdurend skoon te maak. Volgens hom is hul grootste struikelblok ’n gebrek aan geld en die nodige toerusting om die dorp skoon te hou.
Dit sluit in asdromme, maar ook lorries wat vullis moet verwyder. Hy hoop dat dié begrotingstekort in die volgende boekjaar hanteer kan word.
“Soos julle weet, is Okahandja groot. Ons gaan nie tenders aan private maatskappye gee nie, maar eerder die dorp in onderskeie seksies deel en kontrakte hiervolgens uitgee,” het hy gesê.
Volgens hom sukkel die munisipaliteit veral om vullisblikke in informele nedersettings beskikbaar te stel. Hy het gesê hy onderhandel tans met die munisipale uitvoerende hoof vir die verskaffing van asdromme en ander vullisgeriewe in dié gebiede.
“Ons rig ’n pleidooi aan inwoners om eienaarskap van die probleem in hul onderskeie gemeenskappe en beheer van vullis te neem. Ons doen tans alles in ons vermoë om basiese dienste soos asdromme aan almal beskikbaar te stel,” het hy gesê.
“Ons bring ’n komitee saam met plaaslike besighede op die been en hulle het reeds groot steun gebied. Dis ’n trek-en-stoot-situasie, maar ons doen ons bes. Ons is baie tevrede daarmee dat inwoners ons hiermee help en ons het die gemeenskap nodig om aan ons kant te wees om sommige van hierdie doelwitte te behaal,” het hy gesê.
Inwoners kan enige onwettige storting van vullis en rommel by 061 505 100 aanmeld.

Kommentaar

Republikein 2024-11-27

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 21° | 36° Rundu: 24° | 34° Eenhana: 21° | 36° Oshakati: 22° | 36° Ruacana: 19° | 36° Tsumeb: 24° | 37° Otjiwarongo: 19° | 35° Omaruru: 18° | 36° Windhoek: 18° | 32° Gobabis: 17° | 32° Henties Bay: 14° | 20° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 16° | 31° Mariental: 16° | 31° Keetmanshoop: 14° | 30° Aranos: 16° | 31° Lüderitz: 13° | 29° Ariamsvlei: 14° | 30° Oranjemund: 12° | 26° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 17° | 32° Lubumbashi: 17° | 25° Mbabane: 12° | 19° Maseru: 9° | 20° Antananarivo: 18° | 30° Lilongwe: 22° | 34° Maputo: 20° | 25° Windhoek: 18° | 32° Cape Town: 16° | 23° Durban: 15° | 24° Johannesburg: 14° | 25° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 19° | 21° Harare: 18° | 26° #REF! #REF!