Tyd vir wik en weeg is verby (Deel 1)
Tyd vir wik en weeg is verby (Deel 1)

Tyd vir wik en weeg is verby (Deel 1)

Mandy Rittmann
ROOI OLIFANT SKRYF:

Die Namibiese onderwyssektor bevind homself tans in 'n krisis. Een wat blyk asof dit deur doelgerigte en stelselmatige ondermyning en sabotasie geskep word.

Meisie se brief, “En hulle is nog in die laerskool…” (Republikein, Vrydag 3 Augustus 2018), skets duidelik wat in Namibiese skole en met ons kinders besig is om te gebeur: Geen hulp in nood; lewensbedreigings; vandalisme; skuldontkenning en vingerwysery; vrees om kinders te dissiplineer; wordende kriminele; bang opvoeders; 'n onverskillige regering; onsekerheid by ouers; dronk en bedwelmde kinders in kantiene; domastrante, vloekende en skaamtelose sekslustige kinders; verslae en onbevoegde ouers; geen skoolsielkundiges en passievolle onderwysers; willekeurige opoffering van kinders aan Mammon; afwesige welsynshulp; en gewetenswroegings by ouers.

Wat is die dryfvere agter hierdie tragiese verval en wie sit agter dit? Hierdie brief neem bestek van 'n paar faktore en knelpunte wat kon bydra tot dié verdoemenis waarin die meeste Namibiese staatskole en ons kinders hulself tans bevind in 'n tyd toe ons aan die slaap gesus is.

Terwyl ons aandag telkemale weggelei word van dinge wat agter toe deure plaasvind en volk en land so beroof, vernietig en verkoop en ons in bedriegende kringlope besig gehou word, met meer tydrowende en minder belangrike, ernstige en dringende kwessies soos oënskynlike waterkrisisse, siekte-uitbrekings, ensovoorts, word gehalte formele opvoeding gekniehalter en vernietig. Skielik, op 'n dag, na alle saam­skindery en besieling met kwasie-"issues", vind ons eers agterna, gewoonlik té laat, uit dat ons om die bos met sodanige snert gelei is.

Die meer tragiese sy hieraan is dat waghonde soos die pers slaafs, vir simbiotiese redes wat net bedmaats verstaan, saamspeel.

By nadere betraging lyk dit asof bestuur, beplanning en ontwerp van beleid, instellings, prossesse en sisteme in die Namibiese opvoedingssektor so geskied dat die onderwysstelsel, en so ook 'n hoopvolle toekoms vir die jeug, in duie stort en vernietig word.

U sal saamstem dat die volgende aspekte gebeur het vanaf 1990 terwyl ons in stilswye toegekyk het:



GODSDIENS

Godsdiens en Bybelkunde as skoolvakke het plek gemaak vir meer strelende godsdiens- en morele opvoeding, beter bekend as RME, om kwansuis godsdienstige verdraag­saamheid aan te moedig asof hierdie 'n diepgewortelde probleem in Namibië is. RME word nie daadwerklik ernstig deur leerkragte opgeneem nie en het ook slegs beskeie doelwitte bereik. God is by die klaskamer uitgesmyt.

Vandag is die Namibiese jeug moreel arm, vervalle en afvallig. Is dít die vrugte van RME, die strewe na verdragsaamheid en sekularisme, 'n filosofiese geloof wat Swapo hewiglik bevorder, wat politici wou hê: 'n Gebroke, verflenterde en verlore jeug?



DISSIPLINE

Lyfstraf is ten goede deur wetgewing verban, maar geen werkbare dissiplinêre alternatiewe is ooit op regerings- en wetlike vlak geskep, deurgegee en uitgevoer nie. Daar bestaan dus nie rêrig nasionale riglyne oor dissiplinêre aangeleent­hede rondom leerders nie. Skole het derhalwe ontaard in hoerneste, teelkrale, kraamsale en hole van dissiplinêre ontug en verval waar persoonlike regte en minderjarige kraammasjiene meer krag dra en voorrang geniet bo die verantwoordelikheid en verantwoordbaarheid wat daarmee gepaard gaan. Inteendeel, blyk dit, het skoliere nou die reg om na willekeur te maak en breek soos hulle lus het en voel.



HOLISTIESE ONTWIKKELING

Waardevolle nie-eksamenvakke soos gesondheidsleer, omgewingsleer, jeugweerbaarheid, kuns, musiek, ensovoorts, het weggeval en het groot leemtes in die holistiese ontwikkeling van die deursneë Namibiese kind en gemeenskappe gelaat, net om sommige daarvan skielik in 2019 her in te stel.

Die bestaande elemente van die destydse onderwysstelsel (soos vier kwartale) wat gewerk het, is soos in ander sektore soos gesondheid, te midde van verdeling eenvoudig weggegegooi net om weer later hul opwagting te maak en so word 'n dweepvolk om die bos gelei dat die huidige regering en dus Swapo en Swapo alleen, antwoorde vir die talle probleme en uitdagings het wat in die eerste plek deur hulle geskep

is.

LEERPLANNE

Die Namibiese onderwys- en eksamenstelsel sowel as nasionale leerplanne en vakbeleid blyk om in 'n konstante wik-en-weeg toestand te wees. Weereens om sekere "comrades" deur middel van konsultasie, voorgeskrewe handleidings, slyp­skole en dies meer te verryk?

Ons verstaan dat leerplanne van tyd tot tyd hersien moet word om moderne kwessies en neigings aan te spreek, maar soms is veranderinge gering, wat die uitgee van nuwe handleidings onnodig maak. Teen hierdie tyd bestaan daar ses tot agt verskillende handboeke vir leerders in byvoorbeeld slegs een vak soos graad 8 aardrykskunde, waarvan die inhoud amper identies is. Wat 'n vermorsing van bronne. Neem jy die samestellers of skrywers in ag, word die prentjie duideliker en al hoe interessanter. . .



TEGNIESE EN SPESIALE ONDERRIG

Daar is in die meeste gevalle weggedoen met tegniese en spesiale skole en aanpassingsklasse by skole. Almal moet nou kwansuis weten­skaplikes en dokters en geoloë word.

Beurse, toelae en lenings is vir die harde wetenskappe voorbehou op 'n tyd wat die volk byvoorbeeld sielkundiges nodig gehad het om van sy kille verlede en rou wonde en pynlike laste genees te word. Geen ­wonder Namibiërs is so 'n wrede nasie bekend vir ons korrupsie, aggressie, middelmisbruike, padongelukke, babastortings, mishandeling, geweld, verkragting, moord en derglike bloeddorstige vergrype nie.

Eens op 'n tyd was daar weggedoen met voorskoolse onderwys, wat groot leemtes in kinders gelaat het.



TAAL

Asof dit nie erg genoeg is nie, is daar ook met letterkunde in taalvakke weggedoen. Kinders kon skielik nie meer lees nie en het bitter powere skryfvaardighede, reeds op laer­skool. Hoërskoolonderwysers het hul hande vol met hierdie uitdaging. Die arme bloedjies druip hulle stom as gevolg van afgedwonge lees-en skryfagterstande.

Die meeste skole bied hul taalvakke slegs op tweede taalvlak aan.

Kinders is glad nie meer vaardig in enige van die twee of drie tale wat hulle op skool neem nie en is in baie gevalle slegter af in hul eie moedertale. Hoe kan iemand nie 'n eerste taal hê nie? Dis die grootste kulturele onreg wat iemand ooit kan tref. Wie het gesê Engels is ál wat saak maak?



GRAAD 10

Derduisende graad 10-druipelinge is oor die jare heen vir die wolwe gegooi. Hierdie ondeurdagte besluit het net werkloosheid, armoede, misdaad, geweld en ander sosiale euwels aangevuur wat bygedra het tot wat ek die Namibiese tragedie of "toestand" noem.

Dieselfde lot sal seker nou graad 9-druipelinge tref, wat die eerste keer vanjaar halfbeplande semi-eksterne eksamens aflê, en dit net om sekere "comrades" te verryk deur instellings soos Namcol, Cosdec en Nimt in die naam van werkskepping.

Graad 11 sal voortaan die afsnypunt wees, waarna net leerlinge en skole wat aan bepaalde vereistes voldoen, kan voortgaan met graad 12.

Die minister en haar makkers neem duidelik nie sekere faktore inag nie: dat tersiêre en beroepsopleidingsinstansies ook hul standaarde en vereistes moet verlaag asof nasionale standaarde en vereistes nie laag genoeg is nie; dat onervare, weerlose en onvolwasse tieners steeds vir die wolwe daarbuite gegooi word; en dat hierdie kinders geskik sal wees vir slegs laagbesoldigde werk. Wat 'n wenresep vir armoedeskepping!

(Die res van hierdie brief verskyn volgende week. - Redakteur)

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!