Tyd vir wik en weeg is verby (Deel 2)
Tyd vir wik en weeg is verby (Deel 2)

Tyd vir wik en weeg is verby (Deel 2)

Dani Booysen
ROOI OLIFANT SKRYF:

‘n SMS in Republikein van Vrydag 3 Augustus 2018 stel dat regeringskuld tot N$80 000 miljoen in 2018 gestyg het, wat vertolk word dat elke Namibiër N$27 miljoen met rente skuld. Volgens dié SMS het die regering elke Namibiese man, vrou en kind vir die res van ons lewens in slawerny verkoop en behoort alle Namibiese grond nou aan ons skuldeisers omdat ons nooit in der ewigheid in staat sal wees om dié reuseskuld te delg nie.

Ofskoon die begroting vir onderwys baie hoog is, trek skole al hoe minder en minder voordeel daaruit, soveel so dat skole nie eens meer skryfbehoeftes vir leerlinge kry nie, handboektekorte ondervind, onvoldoende kosvoorraad aan skoolkoshuise voorsien word, skole se voedselhulpprogramme negatief geraak word en skole se subsidies al hoe meer verlaag word tot dit vanjaar tot omstreeks N$133 per leerder, vanaf N$380 per kind in 2016 toe gratis hoërskoolopleiding gelas is, gerantsoeneer is.

‘n Skool in Otjomuise het vanjaar selfs so min as N$41,11 per leerling vir die hele jaar ontvang. Wat maak ‘n skool met N$41,11? Wat bereik jy daarmee?

Programme, projekte, dienste en aktiwiteite sal natuurlik stilstaan. Geen ontwikkeling en gehalte opvoeding vir beide leerling en leerkrag vind meer sinvol plaas nie, want kostes laat dit doodeenvoudig nie toe nie.

Sodanige, ondeurdagte gratis basiese opvoeding het skole lamgelê.



SEKS EN KOS

Êrens het ek gelees die ouderdom vir seksuele toestemming is na dertien, of so iets verlaag. Ek noem dit onder korreksie.

Kinders, onvolwasse wesies, kan nou doodluiters met mekaar slaap ten spyte van moderne uitdagings soos tienerswangerskappe, Vigs, seksueel oordragbare siektes, enkelouerskap, afwesige pa’s en hulle wat hul eie kinders afskeep, toenemende getalle wesies, toenemende verkragtings, huishoudelike geweld, verlammende armoede en dies meer.

Die leser sal saamstem dat hierdie patriagiale besluit meer druk op vele vlakke en maniere op die gesondheidsektor en reeds striemende ekonomie sal plaas. Is dit miskien die doelwit?

Iewers het ek ook gelees dat regerings burgers onder beheer hou deur voedsel te beheer deur eenogige ekonomiese besluite. Kos en (kinder-) seks bring nou glad armoede!

Die doel van gerigte armoedeskepping is om burgers afhanklik van boepens vetkatte te hou, wat in hul leierskapsposisies aanhou om die land rot en kaal te stroop, te melk, te verkoop, te verkrag en te verdelg.

LEERKRAGTE

Hierdie is wrede tye waarin onderwysers hul slag moet kan wys in terme van innoverende leermetodes en geldsinsamelings om Swapo-opgelegde uitdagings die hoof te bied.

Onderwysers kry al hoe meer hul maandelikse vergoeding en pensioene ongereeld en onbetyds. Dit het 'n hewige negatiewe impak op beide persoonlike en professionele vlak.

Hoe funksioneer en vaar ‘n honger leerkrag met talle bekommernisse in sy agterkop optimaal in die klaskamer en hoe sypel dit deur na sy/haar leerlinge?

DISKRIMINASIE

Die meeste onderwys- en sleutelposte by skole en elders in die ministerie van onderwys word toenemend hoofsaaklik aan kandidate vanuit die meerderheidsras toegeken. Die onregverdige begunstiging, voortrekkery en verryking geskied ten koste van ander rasse asof Namibië ‘n enkelrassige land is.

Hierdie beleid is op rassehaat en stamgebondenheid geskoei, al word dit hoe sterk ook al ontken, en is seer sekerlik teenstrydig met landswette. Dit moet met wortel en tak verwerp en uitgeroei word, want die res van ons staan nou met ons rug teen die muur. Dit verrig niks anders as ontsagtelike minagting en veragting vir, en skade aan nasionale en institusionele onderwys, vrede, die wet en verhoudings nie.

Die meeste ontwikkeling ten opsigte van goeie opvoeding word vir die Noorde geoogmerk. Terwyl kinders Suid daarvan soos vlieë druip, is leerders in die noordelike O-streke meer gemotiveerd en slaag derhalwe omdat hierdie skewe begunstiging hulle bevoordeel.

Alle bestaande prossesse, beleid en stelsels wat hoë slaagsyfers in die Suide moontlik gemaak het, is ontmoedig en gekelder. Die opvoedingstandaarde daar is op subtiele wyses verlaag om te verseker dat vernaam die inheemse Khoe-San-kind se rug gebreek is. Hy lê en ploeter en spartel nou in sy eie bloed en braaksel – drank, dwelms, onbeplande en ongewenste swangerskappe, misdaad, geweld, losbandigheid, armoede, verlorenheid en hulpeloosheid.

GERIEWE EN ADVIESDIENSTE

Geringe instandhoudingswerk van infrastruktuur en implemente vind by die meeste staatskole plaas, met die gevolg dat hulle in ’n gehawende toestand is en bly. Dit spoor nie leerders aan om te leer, te vorder en trots op hul leerinstellings te wees nie en lei net meer tot vandalisme, morele verval en dissiplinêre wangedrag.

Daarbenewens is substandaard skole gebou, meestal met skenkersfondse en lenings, wat slegs in basiese opvoedingsbehoeftes voorsien en moderne tendense en behoeftes verontagsaam. Hierdie regering kon dan nie eens een enkele staatshospitaal na onafhanklikheid bou nie.

Baie skole sal saamstem dat hulle selde besoek van inspekteurs en/of vakadviseurs ontvang. Tog kon die ministerie in 2017 spanne ten duurste na skole uitstuur om spookonderwysers uit te snuffel en onderwysers in diens te registreer. Iets wat skoolhoofde kon doen deur middel van ‘n koeëlvaste proses om kostes te sny.

As dit by geld kom, is ons regeerders vinnig om te reageer teen gehalte dienslewering, ontwikkeling, kwaliteitsversekering en aanvaarbare standaarde by skole, maar ironies genoeg vermors hulle die belastingbetaler se geld. Is geld dan die enigste dryfveer en maatstaf?

SONDER WATER EN KRAG

Hoe kry die regering dit reg om munisipaliteite toe te laat om water- en kragtoevoer by skole af te sluit? En aan wie betaal die munisipaliteit self sy water-en kragrekening in elk geval?

Daar is tientalle maniere hoe hierdie onmenslike daad leerders en hul onderwysers negatief raak: Die uitbreek en verspreiding van siektes soos Hepatitis E, cholera en chroniese akute maagwerk wat met sanitasie verband hou; vuil skole en klaskamers; slegte reuke en ‘n onaangename uitsig; dooie skooltuine wat leerders met vakke soos landbou benadeel; dors en lusteloosheid; minagting en dissiplinêre probleme; geen water vir laboratoriumvakke soos biologie en natuur- en skeikunde waar dit benodig word vir praktiese studie nie; geen water vir kosvoorbereiding vir beide koshuise en skole se voedselprogramme nie; en geen water vir skoolfunksies soos atletiekbyeenkomste en meegaande paramediese gevalle nie.

BLY STIL, OF. . .

Almal in die onderwyssektor, deur die bank, word nou deur ‘n eed van stilswye gedwing om nie meer oor kwessies en geskille te praat nie en om dit onder die dekmantel van profesionele lojaliteit jeens die staat en staatsveiligheid te verdoesel, dít in’n land waar vryheid van spraak hoogty behoort te vier om kwessies aan te spreek.

Vra jy die regte (of verkeerde vrae), kan jy in die sop beland. Opbouende kritiek word bestempel as sonde en is iets van die verlede.

DIE GROOT UITTOG

Alle bogenoemde faktore het veroorsaak dat daar ‘n geweldige uittog van vlytige en ervare onderwysers heers – bedankings, aftredes, vroeë aftredes, verhuisings na privaat skole, om besighede te begin, nuwe stimulerende beroepe te volg, ensovoorts.

Nou sit die onderwyssektor met meerendeels nuwe, jong en relatief onervare onderwysers, en onopgeleide, halfgekwalifiseerde en ondergekwalifiseerde werkslui. Kumulatiewe kundigheid, ervaring, kennis en vaardighede is vir die varke gegooi.

Almal ondergaan gedurigdeur opleiding, met die gevolg dat almal in slypskole boer, wat weereens uitverkorenes finansiëel bemagtig en net die staatskas (of -skatkis?) leegtap. Dis ’n volslae ramp. Dis uitermatig boosaardig. Dis ’n demoniese kringloop. En dis die begin van die groot einde.

TYD VIR PRAAT

Niemand help nie. Niemand praat nie. Die Namibiese Kerke, pers, aktiviste, beuelblasers en beheerliggame is die stilste, want hul monde is met die jare op slim, slinkse en subtiele taktiese wyses toegesnoer. Soms sommer hardhandig ook.

Ons leef in vrees en so word die Namibiese kollektiewe verstand in donker gehul wat tot die ware Namibiese tragedie lei: Vrees, stilswye en onkunde. Dis perfekte bestandele vir algehele, totale, absolute en perfek onherroeplike ineenstorting, met verreikende gevolge...

Die fokus in Namibiese skole en beleide is meer op die begeertes, giere, nukke, buie, versugtinge, skete en kwale, en geskiedenis van Swapo-politici gerig. Die filosofiese benadering is humanisties (leerlinggesentreerde opvoeding, LCE), maar niemand besef of onthou regtig dat daar beter alternatiewe en meer praktiese fokusse en opvoedkundige benaderings bestaan nie.

Ek het in ’n plaaslike koerant gelees dat Namibiese onderwysers oorwerk en sielsmoeg is. Dis die reine waarheid! Onderwysers word belas met vele onnodige snert wat hulle uitmergel. Dit tref die kind in die klaskamer aan die einde van die dag die hardste.

Staatskole het verval en ontaard in oorlogsones en toetssentrums vir ondeurdagte politieke dobbellary, besluite en besighede om kop bo water te hou. Niemand is meer trots of besorg nie.

Die Namibiese onderwyssektor het ‘n totale bespotting geword waar selfs gras (letterlik!) verwelk en verseg om te groei.

Wat doen ons hieraan? Namibië het ‘n goeie sopie katarsis, deur ons stemme via die volgende verkiesing of ‘n nasionale referendum of geregtelike onttroning nodig… Dit het vir Suid-Afrika en Zimbabwe gewerk. Sameprekings help duidelik niks.

Maar voor dit moet plaasvind, moet ons eers ontslae raak van voorafgeprogrammeerde elektroniese stemmasjiene (EVM's) wat sonder enige papierbewyse gebruik word.

My liewe mede-Namibiër. Waar sien u uself, u weerlose kindjie, skole en ons sterwende pragtige land in 2030 terwyl daar stadig, maar seker ‘n Toring van Sjina reg op Namibië se voorstoep gebou word, terwyl ons gedienstig, geduldig en gedweë in stille vrees, samewerking, onkunde en selfbejammering toekyk? Ons sal net onsself hê om te blameer.

God hou dop en almal sal tog ééndag aan Hom verslag moet doen. Kom reg en doen iets! Nóú. Terwyl dit nog nie té laat is nie.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!